Neels van Jaarsveld
Die akteur Neels van Jaarsveld sê hy het “regte egte” liefde by Florinda Hearn gevind. Sy was ’n deelnemer aan sy maatsoekprogram, Op my eish!. Foto: Gallo Images/Media24/Sharon Seretlo

Vyf maande lank moes hulle die nuuskierige oë van die publiek ontwyk. Om selfs net in die openbaar te omhels was taboe. Hulle verhouding moes geheim bly. 

So dikwels wou die akteur Neels van Jaarsveld vir die mooie Florinda Hearn in die openbaar ’n soentjie gee of net haar hand op straat vashou. Maar dan onthou hy: Ons mág nie . . . 

Want aanhangers van die kykNET-maatsoekreeks Op my Eish! was nog besig om te volg hoe 14 vroue, Florinda inkluis, meeding om Neels (42) se hart – min wetende dat hy reeds liefde gevind het. 

Neels het al op 27 Februarie – toe die verfilming afgehandel is – die donkerkop Florinda (26) gekies as die vrouedeelnemer met wie hy ’n régte verhouding wil bou. Maar hulle moes die verhouding tjoepstil hou tot die slotepisode op Donderdag 15 Julie uitgesaai is. 

“Jis, dit was een van die grootste uitdagings van my lewe om ons verhouding stil te hou,” vertel Neels vandag. “Ja, ek het liefde gevind, maar ek kon haar nog nie vir die wêreld wys nie.” 

Florinda lag saam. “Dit het amper gevoel asof ’n mens om elke hoek en draai moes kyk of iemand ons dophou . . . En eintlik wou ek net vir almal sê hy het mý gekies.”

Die 1 400 km tussen sy woonplek in Botrivier in die Wes-Kaap en hare aan die buitewyke van Johannesburg het dit darem makliker gemaak om die skyn te bewaar. Maar vandag kan hulle van die dakke af skreeu dat hulle die skoot hoog deur het.

“Ek dink ek het al in die eerste maand van ons verhouding vir haar gesê ek is lief vir haar,” koer Neels. “Dit was vir my verbasend hoe vinnig ek versot geraak het op haar. Maar selfs meer verbasend was hoe vinnig ek haar liefgekry het.” 

Voel Florida dieselfde?

“Ja!” sê sy skaam. “Ons het gou ná die verfilming van die reeks besef dít wat ons vir mekaar voel, is opreg. En dit het nie lank gevat om te peil presies wat ek voel nie: Dit was nie net verliefdheid nie, nee. Ek is lief vir hom.” 

Neels van Jaarsveld
Die verliefdes deel ’n soen. Hulle is nou wel 1 400 km uitmekaar, maar die afstand hinder hulle nie, sê die paartjie. Trouens, dit laat die liefdesvure net hoër brand. Foto: Gallo Images/Media24/Sharon Seretlo

‘Regte egte liefde’

Drie weke het verbygevlieg sedert hulle mekaar laas gesien het, vertel die verliefde paartjie oor ’n video-onderhoud op ’n koel wintersmiddag. 

Die dae is lank en die verlange knaag, maar die afstand tussen hulle hinder hulle nie, sê Neels en Florinda. Trouens, dit laat die liefdesvure net hoër brand. 

“Kyk, ek moet darem ook eerlik wees. Op wintersdae soos vandag sou dit darem heerlik wees om saam met Flo te wees. Dalk moet ek die president bel en vir hom sê ek mis my nooi!” sê Neels oor die inperkingsmaatreëls wat hulle nou vir ’n rukkie skei. 

Ja, hulle het geweet dit sou aanvanklik moeilik wees om ‘n langafstandverhouding te maak werk, sê Neels. Daar is die covid-reisbeperkings en ook hul werkskedules – syne as akteur en hare as naeltegnikus. 

“Maar afstand was nooit vir my ’n kwessie nie,” vertel Neels. “Liefde laat hom mos nie voorskryf nie. Ek kon seker net vroue in die omgewing van die Kaap gekies het, maar daar was áltyd die kans dat ek nie my perfekte pasmaat hier sou vind nie.” 

Uit die top 3-finaliste was een immers net ’n uur se ry van Botrivier: die joernalis Nadine Theron in Muizenberg. Die ding wat in die pad gestaan het van ‘n verhouding tussen hulle twee? Sy is nie Florinda nie.

“Ek het myself van die begin af voorberei dat ons nie altyd by mekaar sal kan wees nie,” sê Florinda. “My kop begryp dit, maar my hart trek swaar. Tog glo ons albei afstand is nie ’n rede om nee te sê vir liefde nie.”

Hy was sommer al vroeg in die program gek oor Florinda.

“Toe ek haar die eerste keer sien, was my eerste gedagte oor hoe mooi sy is – selfs mooier as op die video waarmee sy ingeskryf het. Maar ek het gou agtergekom sy het ook ’n hart van goud. Sy gee om vir ander, sy glo in die liefde en om jouself te wees, en sy was daar vir die regte rede.” 

Die regte rede? “Vir mý,” sê Neels skaam. “Vir die liefde.” 

Ook Florinda het gou vir Neels gevoelens ontwikkel. “Ek onthou ek het die eerste aand gedink hierdie manewales voor die kameras is nie vir my nie,” bieg Florinda. “Ek het vir myself gesê ek gee dit een week voor ek my tasse pak. Maar op dag twee van verfilming was daar al skoenlappers in my maag.” 

Die kameras het Neels 13 episodes lank op sy reis na ware liefde gevolg. Passie en drama langs die pad was daar heelwat. 

Eers in die derde laaste episode het dit geblyk hy had dalk reeds ’n gunsteling. Ná ’n alleenafspraak met Janka Lötter van Pretoria het Neels aan die kameras vertel hy kon haar nie soen nie, want daar was “iemand anders” in sy agterkop . . . 

Neels van Jaarsveld
Hulle is smoorverlief – maar dis meer as net verliefdheid. Die twee glimlaggende duifies sê hulle het mekaar reeds lief. Foto: Gallo Images/Media24/Sharon Seretlo

“My gevoelens vir Florinda was in daardie stadium al . . . hoe sal ek sê? Real. Ek het toe al reeds ’n lojaliteit teenoor Florinda gevoel,” erken Neels nou. 

Met die slotepisode het Neels beide Nadine en Tanya Michelle, ’n sake-eienaar van Pretoria, huis toe gestuur. En toe kies hy Florinda. 

“My senuwees was gedaan!” erken Florinda. “Jy dink jy weet presies hoe julle oor mekaar voel, maar daar is ook onsekerheid. Maar toe hy my kies, het ek geweet wat ons tydens die verfilming ervaar het is opreg, dit was nie net ’n show vir die TV-kameras nie.” 

Weg van die stel, terwyl sy vlerkslepery met die ander vroue op die kassie voortduur, het hul liefde net verder geblom.

“Dis eintlik aardig om heeldag lank ’n kamera in jou gesig te hê,” sê Neels. “Tog kon ek nie help om te wonder hoe dinge sou wees wanneer ons alleen was nie. Maar die spark was nog daar. Eintlik meer so.”

Hoe voel dit om ’n celeb aan jou arm te hê?

Florinda lag. “Almal vra my dit!” skram sy. “Ek dink dis omdat ek in die begin nie ’n geheim daarvan gemaak het dat ek mal was oor dr. Gideon van Binnelanders nie. Was ek ’n fan? Absoluut! Maar nou sien ek Neels net as Neels – nie as akteur of as bekende nie. Ek sien hom net as die man vir wie ek lief is.” 

Neels van Jaarsveld
Die twee is al sedert Februarie in ’n verhouding en moes maande lank hul romanse geheim hou. Foto: Gallo Images/Media24/Sharon Seretlo

Wat van ’n ring?

Hoe het dit vir Florinda gevoel om maande later te sien hoe Neels ander vroue op die program soen wanneer nuwe episodes uitgesaai is? 

“Jong, dis interessant . . . Ek het myself op ’n manier daarop probeer voorberei, maar dis steeds nie lekker om te sien nie. Ons het van die begin af vir mekaar gesê ons gaan nie dat dít wat op die program gebeur het tussen ons kom nie. Tog bly dit goor – hy is myne!” 

Maar Neels het ’n plan met dié soentonele gehad . . . 

“Ons albei kyk die program, en ek het anderdag – toe ek geweet het ’n soentoneel is op pad – vir haar gesê sy moet maar liewer gou tee gaan maak.” 

Florinda val in. “Ek het vir hom gevra: Tee? Gaan dit dan so lank vat?” 

En dan lag hulle albei. “Nou mis ek jou eers,” koer Neels. 

Ja, daar was al gesprekke oor die moontlikheid om Botrivier toe te trek, maar vir nou bly Florinda eers in Randfontein. Die naeltegnikus het ’n vierjarige seuntjie uit ’n vorige verhouding, maar verkies om nie nou sy naam te noem nie. 

Hulle vat dit nou tree vir tree, sê Florinda. “Ek weet nou meer as ooit dat alles op sy tyd gebeur . . . Kyk net na my en Neels.” 

En wat van ’n ring? 

Watch this space,” antwoord Neels. “As ’n mens liefde op die kassie kan vind, is enigiets moontlik!” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe