Dozi en Tanya het ál nader aan mekaar gegroei tot hulle eensklaps ontdek het hulle is eintlik al die tyd in ’n verhouding. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Dozi en Tanya het ál nader aan mekaar gegroei tot hulle eensklaps ontdek het hulle is eintlik al die tyd in ’n verhouding. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Met eisj? Liewers met ’n ryperd, dankie . . . Sy het toe nie voor die TV-kameras van die kykNET-reeks Op my eish! liefde gevind nie, maar dit beteken nie Tanya Michelle se hart klop nie deesdae witwarm vir ’n bekende nie. 

En al het Neels van Jaarsveld in die laaste episode van die maatsoekreeks Florinda Hearn bo Tanya gekies, straal sy vandag oor die manier waarop háár liefdespaadjie intussen sommer ver weg van die kameras ontvou het.

Nie saam met ’n gewilde akteur nie, nee – maar by ’n ewe bekende sanger. 

Dit was een aand om ’n braaivleisvuur dat haar en Dozi se romanse vlam gevat het – sommer letterlik. Nee, moenie dáái storie vertel nie, probeer Tanya (33) nou goedig keer waar sy styf langs die sanger met die rasperstem op die voorstoep van sy Back to the Blues-teaterrestaurant op Hartbeespoort sit.

Maar die duiweltjies dans in Dozi (57) se oë en hy vertel lustig voort van daardie aand in Maart toe ’n groep vriende hier by hom op sy kleinhoewe kom kuier en oornag het. Onder hulle was Tanya, ’n ou kennis van hom. 

Hy was in die kombuis doenig toe sy seun, Storm (25), skielik skree: “Pa, die huis brand!” onthou Dozi. “En toe ek deur die venster kyk, sien ek net vlamme!” 

Tanya wou die vuur in die buitebraai op die stoep met ’n bietjie petrol aanhelp, maar toe spring die vlamme terug na die petrolkan. Iemand het die kan gegryp en in ’n visdam gegooi terwyl Dozi die vlamme aan haar brandende moue gesmoor het. 

Later die aand, nadat al die ander gaan slaap het, het hulle op die kombuisvloer verder gekuier en aartappels en room geëet. 

“Toe kom ons agter ons al twee hou van aartappels én van mekaar,” vertel sy.

Dozi het verlede maand ’n ring as teken van hul verbintenis aan mekaar aan Tanya Michelle se vinger gesteek. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Dozi het verlede maand ’n ring as teken van hul verbintenis aan mekaar aan Tanya Michelle se vinger gesteek. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Tanya het glad nie soos iemand opgetree wat ’n man soek nie, sê Dozi oor daardie aand. En ná drie egskeidings was hy ook nie op die uitkyk vir nuwe liefde in sy lewe nie. 

“Ek was gatvol, gatvol, vir verhoudings,” verklaar hy driftig. “Die meeste chicks verwag hulle gaan ’n rock star status saam met my hê, tot hulle agterkom ek is nie ’n rock star nie. Ek is net ’n muso wat hard werk en talented is.” 

Dit gaan vir my oor iemand wat vir mý lief is, nie oor net dit wat ek materialisties kan gee nie.

Sedert daardie aand van vlamme, aartappels en room het hulle stelselmatig ál nader aan mekaar gegroei tot hulle ontdek het dat hulle eintlik in ’n verhouding is, som Dozi dié liefdesverhaal op. 

Verlede maand het hy op die ingewing van die oomblik vir haar ’n ring met ’n kristalklippie teen R200 by ’n plaaslike vlooimark gekoop. Hy wou nog altyd iemand ontmoet wat nié ’n diamant wil hê nie, sê Dozi.

“Dit gaan vir my oor iemand wat vir mý lief is, nie oor net dit wat ek materialisties kan gee nie.” 

Party mense beskou dit as ’n verlowing, sê Tanya, ’n geskeide ma van twee. “Maar dit is veel meer ’n teken van ons verbintenis aan mekaar en die viering van ons geluk saam.”

Dozi se nuwe enkelsnit, “Dis hoekom”, is nou uitgereik. Dié tong-in-die-kies blues/rock-liedjie gaan oor plekname wat gedurig verander. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Dozi se nuwe enkelsnit, “Dis hoekom”, is nou uitgereik. Dié tong-in-die-kies blues/rock-liedjie gaan oor plekname wat gedurig verander. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Die donkerkop lyk stralend in swart jeans en ’n T-hemp hier langs Dozi in sy geskeurde jeans en met vier stringe krale om sy nek. Oor daardie vonkel in hul oë wanneer hulle na mekaar kyk, kan hulle nou die eerste keer openhartig praat.

Kontraktuele verpligtinge teenoor die vervaardigers van Op my eish! het meegebring dat Tanya die stilswye oor haar liefdeslewe moes bewaar tot die laaste episode vandeesmaand uitgesaai is. 

Kyk, moenie my uitdaag nie! Ek het ook gedink dit sal goed wees as my naam meer bekend is sodat ek meer borgskappe vir my liefdadigheidswerk onder minderbevoorregte mense kan kry.

Sy het om verskillende redes daarvoor ingeskryf – en dit het min met die liefde uit te waai gehad, verklap sy. 

“Ek het verlede jaar ’n radio-onderhoud met Neels oor die beplande TV-reeks gehoor. Toe dink ek so in my agterkop dit sal nogal pret wees om deel te neem. Iets anders om te doen, soos ’n nuwe uitdaging en avontuur. Ek het dit in ’n grap aan my pelle genoem, toe daag hulle my uit om in te skryf.

“Kyk, moenie my uitdaag nie! Ek het ook gedink dit sal goed wees as my naam meer bekend is sodat ek meer borgskappe vir my liefdadigheidswerk onder minderbevoorregte mense kan kry,” verduidelik Tanya, wat in die vermaakbedryf werk en haar toespits op die reël van konserte ten bate van liefdadigheidsorganisasies. 

Tanya was onder meer lank by die Reach for a Dream-stigting en die Bands for Bricks- sosiaalmaatskaplike beweging betrokke. 

Sy is glad nie spyt dat sy toe nie in die slotepisode die wenner van Neels se hart was nie.

“Hy is ’n nice mens, en ek is baie lief vir hom, soos vir ’n vriend. Dit was so halfpad deur die reeks vir my duidelik dat hy in my niks meer as net ’n pel sien nie.” 

En daardie soene voor die kameras dan? Sy lag. “Ek is ’n baie spontane mens en ’n bok vir sports. Hy het my die eerste keer gesoen. Toe dink ek later ek moet hom seker ook soen!” 

Nee wat, dit pla hom glad nie dat sy aan die reeks deelgeneem het of Neels gesoen het nie, sê Dozi dadelik.

“Dis mos nou dinge van voor my tyd.” Al het die reeks in April op ons kassies begin, is dit reeds in Februarie klaar geskiet.

Dozi sê hy het baie lanklaas iemand gesien wat met soveel omgee na hom kyk. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Dozi sê hy het baie lanklaas iemand gesien wat met soveel omgee na hom kyk. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Dozi en Tanya ken mekaar al jare lank aangesien sy al die afgelope dekade in die vermaakbedryf werk. Hul paaie het dikwels by gesellighede gekruis, en hulle het ’n gedeelde vriendekring.

Sy het ook gereeld geleenthede en konserte by Dozi se Back to the Roots-konsertvenue en die Back to the Blues-teaterrestaurant bygewoon. 

Ek raak deesdae elke dag ál meer verlief op haar, maar ons het nooit destyds die verliefding gedoen nie.

Tog het hulle nooit saam uitgegaan of alleen saam gekuier nie tot daardie aand toe sy amper sy huis afgebrand het – iets wat steeds vir haar ’n vuurrooi verleentheid is. Daarna het hulle ál meer van mekaar te sien gekry. 

“Ek raak deesdae elke dag ál meer verlief op haar, maar ons het nooit destyds die verliefding gedoen nie,” verduidelik hy. “Dit was so ’n maand later, iewers in April, dat ons besef het ons wíl bymekaar wees en ons mis mekaar wanneer ons nie is nie.”

Ek raak elke dag al meer verlief op haar.

Twee maande later het sy uit Pretoria by hom kom intrek. Sy en haar eks het sedert hul egskeiding gedeelde toesig oor hul dogters. Een week bly hulle by hom, en die volgende week by haar en Dozi op die kleinhoewe. Die twee het gou in Dozi se hart ingekruip.

“Hulle is baie cute. Ek is mal oor hulle!” laat hy hoor. Die grootste les wat hy uit sy vorige verhoudings geleer het, is om “nie in te gee as iemand jou in ’n rigting wil druk nie”, sê die sanger wie se derde huwelik in Februarie verlede jaar op die rotse geloop het.

Tanya gee hom daardie vryheid om homself te wees. “Ons verstaan mekaar,” beaam sy. “Ons aanvaar mekaar se malligheid en gee mekaar ruimte om ons unieke persoonlikhede uit te leef.” 

Saam met die nuwe liefde in sy lewe het Dozi ook ’n nuwe enkelsnit, “Dis hoekom”, om te vier.

Dié tong-in-die-kies blues/rock-liedjie gaan oor plekname wat gedurig verander en die verwarring wat dit meebring. In die musiekvideo daarvoor ry hy in ’n vriend se veteraan-kombi uit 1957 op die grondpaaie in die omgewing rond.

“Dis nou ’n versamelaarsitem op sy beste,” beskryf hy dié ryding. Nog ’n nuwigheid in sy lewe is ’n kapel wat volgende jaar agter sy teaterrestaurant gebou gaan word en vir troues gebruik kan word.

Tanya het eers verlede maand haar huis in Pretoria opgegee en by Dozi ingetrek. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Tanya het eers verlede maand haar huis in Pretoria opgegee en by Dozi ingetrek. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Beteken dit dat ons binnekort trouklokke vir hulle twee gaan hoor lui?

“Dit is ’n ding wat op sy eie tyd sal gebeur,” gooi Dozi wal. “Maar as dit gebeur, sal dit iets kleins wees met net familie en ’n handjievol nabye vriende,” voeg hy gou by. 

Tanya vryf oor sy stoppelbaard. “Miskien kan ons dan sommer die plek inwy?” terg sy. Dit raak tyd om te groet, en die twee stap hand aan hand saam terug huis toe, na daar waar geen kameras hul ware liefde hier in die regte lewe kan volg nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe