Nie dat hulle nie elke jaar iets te sê het oor hoeveel geld die koninklikes van die belastingbetaler gebruik nie, maar vanjaar is hulle veral omgekrap oor waarop hul belastinggeld uitgegee is. Dit is nou die opknappingswerk wat die hertog en hertogin van Sussex aan hul Frogmore kothuis laat doen het. 

Volgens die verslag is R43 miljoen spandeer om die nuwe woning waar Meghan Markle (37) en prins Harry (34) saam met hul babaseuntjie, Archie, woon op te knap. 

Die opknappingswerk het sowat ses maande geduur en sluit ’n nuwe ma-en-baba-jogakamer, ’n luukse badkamer en kombuis en nuwe vloere in. Sommige aanpassings is wel deur die paartjie self betaal, berig Vanity Fair. 

En dit is veel minder as wat die Britse burgers betaal het vir opknappingswerk aan prins William en sy vrou, Kate, se woning by die Kensington-paleis. Dit het die belastingbetaler in 2014 R80 miljoen gekos.

Intussen kan plaaslike aanhangers van die koninklike paartjie hulle verkykers regkry, want Harry en Meghan kom vanjaar na Suid-Afrika.

Daar is onlangs bevestig dat die paartjie, as deel van hul Afrika-toer, Malawi en Angola gaan besoek. Hulle sal ook dan in die lente vanjaar in Suid-Afrika ‘n draai kom maak, berig Itv.

Harry se laaste Afrika-toer was in 2015.

Bronne: Vanity Fair, Harpers Bazaar, Itv