Die sakevrou pryk op die Britse uitgawe van die tydskrif Vogue se voorblad vir Augustus. En in die onderhoud daarin verklaar sy hoekom sy haar nie in 2020 vir die amp sal verkiesbaar stel nie. 

“In daardie politieke struktuur – al die onwaarhede, die strooi, die snert, die gemeenheid, die agterbakse agterkamergoed wat aangaan – ek voel nie ek sou kon bestaan nie,” sê Oprah in die onderhoud. “Ek sou dit nie kon doen nie. Dit is nie ’n skoon bedryf nie. Dit sou my doodmaak.”

Op die voorblad, deur Mert Alas en Marcus Piggott afgeneem, dra die 64-jarige ’n wit pasgemaakte skouerlose Stella McCartney-rok. Haar hare is na agter gekom om haar pragtige Buccellati-smarag-en-diamant-oorbelle te wys. 

KYK HIER NA DIE VOORBLAD VAN DIE BRITSE UITGAWE VAN VOGUE:

In ’n onderhoud met die tydskrif People vroeër vanjaar het die geselsprogramaanbieder onthul sy het vir die Here gevra of sy haar as president moet verkiesbaar stel.

“Ek het gebid: ‘Here, as U dink ek is veronderstel om my verkiesbaar te stel, moet U vir my sê, en dit moet so duidelik wees dat selfs ek dit nie kan miskyk nie.’ En ek het dit nie gekry nie,” sê sy.

Al het Oprah die presidentskap uitgeskakel, bly sy uitgesproke oor baie kwessies, onder meer die #MeToo-beweging.

“Mense praat oor ‘dit is sulke donker tye’, maar gestel ons verskuif die paradigma? Want ek sien dit anders. Ek sien: ‘Is dit nie merkwaardig dat ons wakker word nie?’ Jare lank het vroue gekheid verduur. Dit is wat met mense gebeur,” het Oprah aan die Britse uitgawe van Vogue gesê. 

Sy voeg by: “Hulle laat hulself toe om net net aangetas te word nie, maar om histeries te word. Jy moet na geluk oorleun.”

Die vervaardiger en aktrise het ook verklap sy het amper ’n blaps gemaak met die rok wat sy eers na prins Harry en Meghan se troue in Mei wou dra. 

“(Ek het die rok gesien en dit) het wit gelyk, nie roomkleurig nie,” het sy gesë. “Ek het op Google ingetik: ‘Kan jy wit na ’n troue dra?’ Antwoord: ‘Nee, moet dit nie waag nie’.”

Gelukkig het sy by haar ontwerpervriendin Stella McCartney gaan aanklop en dié het blitsvinnig met ’n splinternuwe ligpienk skepping vorendag gekom wat sy op die dag gedra het. 

“Ek wil die Stella McCartney-span graag bedank dat hulle deurnag gewerk het om die rok klaar te maak,” verduidelik sy in ’n video wat op Instagram geplaas is.

“Want ons het Dressgate gehad. Verkeerde kleur! Nou het ons die regte kleur gekry. Ek dink ons gaan oukei vaar. Maar nee. Baie dankie vir die detail, vir deurnag werk. Aan die hele Stella McCartney-span. Amen, amen, amen, Stella McCartney-span. Baie dankie!”

KYK DIE VIDEO HIER:

Bronne: vogue.co.uk, dailymail.co.uk, etcanada.com, time.com