Oprah oor die jare.
­Oprah Winfrey deur die jare. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Oprah Winfrey is as aanbieder enig in haar soort. Dis opnuut bewys in een van die gelaaide oomblikke in haar onlangse onderhoud met prins Harry en Meghan Markle. Meghan het pas voor die kamera aan Oprah erken sy het dit in ’n stadium oorweeg om haar eie lewe te neem.

As die meeste van ons ’n vriendin so iets hoor sê, sal ons waarskynlik troos of vra hoe ons kan help. Maar nie Oprah nie.

’n Swaar stilte hang ’n oomblik in die lug. ’n Mens hoor die voëltjies in die enorme tuin agter haar tjirp. En dan, omdat die stilte seker swaar op haar ook weeg, gaan Meghan voort. Sy maak haar hart selfs meer oop en onthul nog dieper geheime.

 Sy is een van die min mense teenoor wie bekendes
Sy is een van die min mense teenoor wie bekendes bereid is om hul harte oop te maak en eerlik te gesels. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sonder om ’n woord te sê oortuig Oprah die gekwelde brunet in daardie swanger stilte om baie meer te verklap as wat sy dalk aanvanklik beplan het. En dié gawe om met aandag te luister is wat van Oprah een van die vermaakbedryf se suksesvolste onderhoudvoerders maak, meen kenners.

Ontvanklike stiltes wat haar gespreksgenote noop om nóg geheime uit te lap is een van vele wapens in die gedugte aanbieder se arsenaal.

Terwyl die 67-jarige Oprah goed daarin is om vir kykers en gaste soos ’n beste vriendin of ’n deernisvolle tannie te lyk wat net op die rusbank met jou wil sit en gesels, is sy eintlik ’n geoefende kunstenaar wat perfek weet hoe om enige gesprek met gebare, geluide en stiltes te stuur om die meeste uit haar gespreksgenote te kry.

En hoewel miljoene mense oor die wêreld heen die afgelope paar weke oor Meghan en Harry se opspraakwekkende onthullings gons, is daar talle kenners op die gebied van die gesprekskuns wat reken dat Oprah eintlik die ware ster van die onderhoud is – iemand wat op daardie oomblik waarlik ’n vyfstervertoning gelewer het.

Die onderhoud onlangs met prins Harry en Meghan Ma
Die onderhoud onlangs met prins Harry en Meghan Markle was die eerste keer dat Oprah met enige van die Britse koninklikes gesels het. Oprah is baie goed betaal vir die onderhoud. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dit was die beste onderhoud wat ek al ooit gesien het,” het Jay Rosen, ’n professor aan die New York-universiteit se joernalistiekdepartement, ná die uitsending getwiet.

En met nog een van haar talente – haar “bedrewe gebruik van bevraagtekening wat selfvertroue bou, gevolg deur haar vernietigende forensiese opvolgvrae”, soos The New Yorker se Rebecca Mead haar benadering beskryf het – het Oprah kykers reg oor die aarde inderdaad laat regop sit: Meer as 49 miljoen mense wêreldwyd het na die onderhoud gekyk.

Ja, die onderhoud was Meghan en Harry se storie, maar dit was Oprah wat met ’n allemintige $7 miljoen (meer as R100 miljoen) vergoeding huis toe is. En geen mens verdien sommer net daardie soort geld as jy nie baie mooi weet wat jy doen nie.

Oprah het 25 jaar gehad om onderhoudvoering in haar eie program, The Oprah Winfrey Show, tot ’n kuns te verfyn. In dié program, wat sy van 1986 tot 2011 aangebied het, het sy volgens haar eie skatting met meer as 37 000 mense onderhoude gevoer.

In dié tyd het sy dinge reggekry waaroor ander onderhoudvoerders net kan droom. Dis op háár bank wat Tom Cruise in 2005 op en af kom spring het terwyl hy vertel het hoe verlief hy op Katie Holmes is.

’n Ander ikoniese oomblik was die onderhoud met To
’n Ander ikoniese oomblik was die onderhoud met Tom Cruise in 2005. Foto: Youtube/Entertainment Weekly

Dis in háár program wat ’n emosionele Whitney Houston in 2009 van haar dwelm- en huweliksprobleme kom vertel het.

Dis vir háár wat Michael Jackson vir ’n onderhoud in sy hoogs geheime Neverland ingenooi het (’n onderhoud wat destyds ’n verstommende 62 miljoen kykers gelok het).

Michael Jackson het haar destyds genooi vir ’n ond
Michael Jackson het haar destyds genooi vir ’n onderhoud in ­Neverland, ’n plek waar die media nie welkom was nie. Foto: Gallo Images/Reuters

Dis teenoor Oprah wat Elizabeth Taylor in 1988 oor haar eetprobleme gesels het. En teenoor Oprah wat die fietsryer Lance Armstrong in 2013 gebieg het oor sy steroïedegebruik.

Barack Obama het in 2006 in haar program verskyn, en baie mense meen dit is een van die groot hupstote wat hom gehelp het om twee jaar later ’n presidentsverkiesing te wen.

Sy het ook in 2006 ’n onderhoud gevoer met Barack
Sy het ook in 2006 ’n onderhoud gevoer met Barack Obama voor hy pre­sident geword het. Foto: Youtube/Apple TV

Tot vandag is The Oprah Winfrey Show die Amerikaanse geselsprogram wat die meeste kykers getrek het. En terselfdertyd het sy ’n sakeryk op haar handelsnaam ontwikkel wat vandag vol- gens Forbes amper $3 miljard (sowat R44 miljard) werd is.

Die geheim van haar sukses is dat sy vir mense moeilike vrae vra, maar op ’n manier dat hulle nie bedreig voel nie, sê Amy Morin, ’n psigoterapeut wat ook ’n podsending behartig.

“Sy lyk saggeaard wanneer sy harde vrae vra, en sy laat klink dit so alledaags dat mense gemaklik is om haar te antwoord.”

Dit sal egter ’n fout wees om te dink dié vriendelike uiterlike beteken sy gaan gaste toelaat om haar vrae te ontwyk. As sy nie tevrede is met hoe iemand ’n vraag beantwoord het nie, gaan sy nie hard druk nie, maar met ’n ompad later weer by dieselfde onderwerp uitkom om haar gas uit ’n ander hoek te probeer ompraat. Dis iets wat sy by tye in die onderhoud met die Sussexe gedoen het, sê Amy.

’n Resensent van die Britse koerant The Telegraph het juis geskryf Oprah speel perfek die rol van ’n “gulhartige skoolhoof wat baie lief is vir die kinders met wie sy gesels, maar nie nonsens sal duld nie”.

In die aanlyn tydskrif Vox skryf ’n resensent Oprah se talent is om ’n “vriendelike, warm atmosfeer te skep waarin haar gaste voel hulle kan hul diepste gedagtes deel. ’n Gas kan iets skokkends sê, en Oprah sal nét weet hoe om die gesprek verder te begelei sodat die onthulling sy maksimum impak het.”

Saam met haar beste vriendin en mede- joernalis, G
Saam met haar beste vriendin en mede-joernalis, Gayle King. Foto: Gallo Images/Getty Images

Deur die jare het Oprah geleer om ’n opregte eerlikheid uit te straal wat almal, kykers en gaste ingesluit, laat voel hulle kan haar vertrou.

Terwyl party onderhoudvoerders net vrae vra as hulle weet wat die antwoorde is, hou Oprah daarvan om vrae met onvoorspelbare antwoorde te vra en dan saam met die gehoor verras te word.

Wanneer Oprah Meghan byvoorbeeld in haar jongste onderhoud lei om hart oop te maak oor die Britse koningshuis se bekommernisse oor klein Archie se velkleur, is die skok en ongeloof op Oprah se gesig duidelik.

Sy maak dit duidelik sy het dieselfde emosionele reaksie op haar onderhoude as baie van haar kykers – asof sy een van ons is.

Dié reputasie vir opregtheid het Oprah ook versterk deur in haar programme openhartig oor die donker dele van haar eie lewe te gesels.

Sy het al voor die kameras onthul hoe sy as kind van ’n brandarm enkelma grootgeword het, hoe sy seksueel gemolesteer is en hoe sy met haar gewig geworstel het.

Dit beteken baie kykers voel hulle kan vandag nog met haar identifiseer – al is sy ’n multimiljoenêr wat in ’n paleis in Santa Barbara woon.

Ongeag of ’n mens nou saamstem met haar tegnieke om gaste se geheime uit te ryg en kykers vasgenael te hou: Dit wérk. Oprah kan deesdae kies en keur wie sy as gaste in haar huidige aanlyn reeks, Super Soul, wil hê. Dié reeks fokus op selfhelp en spiritualiteit en word sedert 2017 opgeneem.

Verlede jaar het Oprah haar jongste projek, Your Life in Focus: A Vision Forward, begin. In dié aanlyn programme gesels sy oor sielkunde en gesondheid, en sy deel wat sy geleer het uit die mense met wie sy deur die jare onderhoude gevoer het.

Sy vertel sy het geleer om mense se gevoelens ernstig op te neem en te erken. En as jy kyk na die onthullings waarmee hulle haar beloon, kan ’n mens net saamstem sy het met haar doeltreffende benadering goud getref.

Bronne: standard.co.uk, dailymail.co.uk, vogue.com, businessinsider.co.za, cnbc.com, huffpost.com, washingtonpost.com, newyorker.com
Kom neem deel aan ons gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.