En nou kan kykers na ’n regsdrama met ’n Suid-Afrikaanse geur uitsien. In elke episode van Fynskrif hanteer die prokureurs by ’n regsfirma ’n siviele saak tussen hul persoonlike en familiedramas deur.

“Daar is ewe veel drama as komedie,” vertel Beer Adriaanse, wat die rol van die prokureur Corné Hanekom speel. Sy posisie by Van Wyk & Vennote kom in die gedrang toe ’n ou bekende sy opwagting maak. Beer beskryf sy karakter as “iewers tussen ’n pitbull en ’n puppy”.

Beer sê sy karakter speel in baie tonele teenoor Roeline Daneel (Clara). Foto: Instagram/@Roelinedaneel

Vir hom was dit veral interessant om te sien hoe baie navorsing gedoen en regskennis ingewin is om die reeks te skep.

“’n Probleem sal bekyk word waarrondom daar dan nog ’n kinkel of ’n wending ontwikkel.”

Van die karakters in Fynskrif vergader in die ­regsfirma se konferensielokaal. Van links is Charlton George (Dolf), Neels van Jaarsveld (Ben), Edwin van der Walt (Wian), Beer Adriaanse (Corné), Elana Afrika-­Bredenkamp (Gertrude), Kim Cloete (Anne), Crystal-­Donna Roberts (Thandi), Cintaine Schutte (Katrien) en Tinarie van Wyk-Loots (Lara). Foto: Instagram/@kim_cloete

Die skrywers van die reeks is Louis Pretorius en Albert Snyman, wat al vir treffers soos Die Boekklub en Die Boland Moorde gesorg het.

Edwin en Beer leer hul woorde. Foto: Instagram/@Roelinedaneel

Beer, deesdae ’n Johannesburger, sê hy het dit geniet om tydens die verfilming ’n paar maande in sy grootwordstad, Kaapstad, deur te bring. In sy vrye tyd het hy Tafelberg gaan uitklim.

  • Fynskrif begin op 10 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).