Oscarwenner stap saam met sy dogter kansel toe ná kanker- en covid-stryd

akkreditasie
Dit was sy doelwit – en hy het dit bereik. Die akteur Jeff Bridges (71) het onlangs saam met sy dogter kansel toe gestap nadat ’n dubbele gesondheidslag hom getref het: ’n kankerstryd en ’n ernstige geval van covid-19.

Sy doelwit was altyd om sy jongste dogter, Hayley (35), voor die kansel af te gee, sê Jeff op sy webtuiste jeffbridges.com. “Sy het op trou gestaan saam met ’n wonderlike ou, Justin Shane. Danksy Zach (Wermers, Jeff se fisioterapeut) en my uitstekende mediese span, kon ek nie net saam met Hay na die kansel toe stap nie; ek kon ook die pa-bruid-dans sonder suurstof saam met haar doen.”

Jeff en Haley op haar troudag.
Jeff en Haley op haar troudag. Foto: Instagram/@tracieaparis


Limfoomkanker is verlede jaar by die Oscar-wenner gediagnoseer. Hy het in Januarie covid-19 opgedoen. Jeff sê hy het by sy chemoterapiesentrum met die virus besmet geraak voor hy ingeënt kon word en het daarna vyf weke in die hospitaal deurgebring. 

Sy vrou, Sue (68), by wie hy nog twee dogters, Isabelle (40) en Jessica (38), het, het dit ook opgedoen.

“Sue het vyf dae in die hospitaal deurgebring. Ek? Ek was vyf weke daar. Die rede waarom ek so lank daar was, is omdat my immuunstelsel swak is van die chemo. My dans met covid laat my kanker soos kinderspeletjies lyk,” skryf Jeff. 

Die ster van The Big Lebowski sê hy was amper dood, maar dit het hom ’n hernude geesdrif vir die lewe gegee. 

“Terwyl ek oomblikke van ontsaglike pyn gehad het en naby die hemelpoorte gekom het, het ek oor die algemeen meestal gelukkig en vreugdevol gevoel.

“Die lewe is kort en mooi. Liefde is oral om ons en altyd beskikbaar."

In die maande daarna het hy suurstofbystand nodig gehad om te loop, maar hy was vasbeslote om sy dogter se troue daarsonder by te woon. In ’n oulike video wat op sy webtuiste geplaas is, dans die twee op die maat van Ray Charles se liedjie “Ain’t That Love”.

Die pasgetroude Haley en Justin.
Die pasgetroude Haley en Justin. Foto: Instagram/@tracieaparis

Jeff het Maandag op sy webtuiste sy aanhangers op hoogte gebring van sy kankerstryd. “Die kanker is nou in remissie,” sê hy. “My gewas het tot die grootte van ’n albaster gekrimp.

“My covid is in die truspieël,” voeg hy by. “Dit het my gat behoorlik geskop, maar ek is dubbel ingeënt en voel baie beter.”

Jeff het ook ’n Darth Vader-meme gedeel en gespot die suurstofbystand wat hy tot onlangs benodig het, het hom aan die Star Wars-skurk se harde asemhaling laat dink. 

Bronne: people.com, jeffbridges.com
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees