Sandi Sass Schultz, veral bekend vir haar rolle in Binnelanders (dr. Jennifer Adams) en Knapsekêrels, het gelukkig haar humorsin behou.

Maar wat het gebeur?

Haar geliefde hond, Hobbes, het haar per ongeluk baie hard teen haar mond gestamp. Nou lyk Sandi asof sy ’n paar rondes in die kryt deurgebring het — en die slegste daarvan afgekom het.

Van haar vriende verwys tergend na haar as Donald Duck. Die akteur Gys de Villiers sê dit lyk asof sy botoks op straat gekry het en wens haar beterskap toe. Nog ’n Instagram-gebruiker, ene Maracetta, sê mense betaal duur om soos Sandi te lyk, terwyl Andrea Nieman 'n nuwe televisiereeks voorstel: "The Real Housewives of . . . "

Volgens haar inskrywing op haar Instagram-blad moes sy boonop Donderdag voor die kameras verskyn het. Maar met daardie lip gaan sy waarskynlik baie ver ágter die lens skuil.

En Hobbes lyk so onskuldig, asof botter nie in sy mond kan smelt nie.

Sandi het ook die rol van Maggie in kykNET se Hotel vertolk.