“Ek was baie bedroef oor die lot van die planeet, en toe besluit ek ek moet ophou sulk en self iets begin doen. As elke persoon in die land 10 spekbome plant, kanselleer dit hulle koolstofvoetspoor (omdat die plant baie suurstof produseer) – en dis nie eens so baie bome nie,” sê Pascal, wat bekend is vir haar rol as Karli in Binnelanders

Toe Huisgenoot met haar gepraat het, was sy op pad Potchefstroom toe, waar sy en vrywilligers meer as 100 spekbome op die Universiteit van Potchefstroom se kampus gaan plant. 

“Bome is die longe van die aarde. Die brande oral in die wêreld, veral in die Amasone, het my laat besef ek hoef nie self daar te bly om my deel te doen nie. Ek kan hier ’n boom plant,” sê sy. 

Pascal sê sy het ook ophou vleis eet omdat die bedryf 'n groot impak op aardverhitting het. 

Sy sê mense kan hul eie deel doen deur ook ’n spekboom te plant en op te hou vleis eet.

“Jy kan ’n buurman of familielid vra vir spekboom-steggies en dit in jou tuin plant. Hulle kan ook by skole, sakeondernemings en waar ook al die plante plant.”

“My mikpunt is om 1000 spekbome teen die einde van die jaar te plant en dan volgende jaar 12000,” sê sy. 

Pascal vra dat mense haar kontak as hulle betrokke wil raak by die inisiatief; veral as hulle spekbome wil borg. 

“Ons is spesifiek nog op soek na ’n plek waar ons spekbome kan plant in die Kaap. 

“Daar is T-hemde te koop, en vir elke hemp wat jy koop, plant ons twee spekbome. 

“Ek werk ook saam met Boplaas-wyne van Calitzdorp. Hulle inisiatief is om 1 miljoen spekbome te plant; hulle is al goed op dreef,” sê sy. 

Pascal het onlangs vir drie maande in Italië gewoon, maar is terug in haar geboorteland en vas oortuig om hier ’n verskil te maak. 

Feite oor spekbome

Volgens die webtuiste wonderplant.co.za, wat toegewy is aan die spekboom word dié plant tussen twee tot vyf meter hoog. 

• Dit kan tot 200 jaar oud word

• Een volwasse spekboom kan tussen 4-8 kg se koolstofdioksied uit die lug verwyder

• Dis 100 keer meer doeltreffend om suurstof te produseer as ’n denneboom, 10 keer meer doeltreffend as ’n plant in ’n reënwoud.

 • Jy kan dit eet – dit het effens van ’n suur smaak maar is lekker is slaaie. 

• Dit groei bitter maklik van ’n steggie af en benodig min water.

 • Dit is ’n inheemse Suid-Afrikaanse plant. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.