Tendai “Beast” Mtawarira het ’n nuwe lewe ná rugby
Tendai “Beast” Mtawarira het ’n nuwe lewe ná rugby saam met sy vrou, Kuziva, en kinders, Wangu (middel) en Talumba. Foto: Facebook.

Ons was lank daaraan gewoond om hom op die rugbyveld te sien – die reus wat so taai is dat hy die bynaam Beast gekry het.

Jy sal vandag twee keer moet kyk. Uitgevat in ’n pak op pad na Midrand in Gauteng om vergaderings by die werk by te woon.

Beast is getem.

Waar hy voorheen sy geld verdien het deur teenstanders op die rugbyveld plat te loop, is Tendai Mtawarira nou ’n sakeman wat in sy vrye tyd saam met sy vrou en kinders flieks kyk.

Die toegewyde pa het sy Springbokstewels ná 11 jaar weggepak, en hoewel aanhangers sekerlik spyt is hulle gaan nie weer sien hoe hy sy teenstanders onderstebo duik nie, is sy gesin maar net te bly vir die ekstra tyd saam met hom.

Wat het geword van dié rugbylegende in die twee jaar sedert hy in 2019 beroepsrugby vaarwel toegeroep het?

Hy is naas Victor Matfield en Bryan Habana die speler wat in die meeste Bokwedstryde nog gespeel het, en met 117 wedstryde agter sy naam is hy die stut met die meeste wedstryde in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Tendai op die rugbyveld.
Tendai op die rugbyveld. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Is daar ’n lewe ná rugby?

“My kinders moes hulle omtrént in toom hou toe hulle besef Pappa gaan ’n paar dae op ’n ry by die huis wees,” is een van die eerste dinge wat hy jou oor sy nuwe lewe vertel. “Ek was altyd op die volgende vlug, maar nou is ek tuis en bring tyd saam met hulle deur.”

Maar dit beteken nie hy lê net leeg nie – hy’s nou ’n volwaardige sakeman.

Deesdae staan Tendai aan die hoof van Umlindi Security, ’n onderneming onder die Fidelity Security Group.

“Ek is al die afgelope 10 jaar by sekuriteit betrokke,” sê hy. “Fidelity se uitvoerende hoof het my ’n paar jaar gelede onder sy vlerk geneem toe ek vir die Sharks gespeel het. Hy het vir my die rol as handelsmerkambassadeur gegee. Dit het gevorder tot op die punt waar hy vir my aandele aangebied het.”

Tendai het later ’n kursus voltooi om oor die sekuriteitsbedryf te leer en het sy sertifikaat van die reguleringsowerheid vir die privaat veiligheidsbedryf, Psira, ontvang voor hy uit rugby uitgetree het.

“Ek het geweet ek wou deel van die onderneming word wanneer ek aftree en het jare vooraf reeds tyd by Fidelity deurgebring. Die oorgang was pynloos.”

Sy onderneming bied werk aan 300 mense en lewer dienste soos bewaking, gewapende reaksie, alarminstallerings, BBP-sekuriteit en skoonmaakdienste.

Dis steeds vir hom ’n aanpassing om ’n pak en das
Dis steeds vir hom ’n aanpassing om ’n pak en das te dra, vertel die sakeman. Foto: Facebook.

’n Mens kan net hoop hy boesem soveel vrees in by skelms soos wat hy op die rugbyveld veroorsaak het.

Toe die pandemie verlede jaar die wêreld tot stilstand gebring het, het Tendai al by die tuisblylewe aangepas. Hy het nie net sy kinders, Talumba en Wangu, tuis onderrig nie; hy het ook ingeskryf vir ’n nagraadse diploma.

Tans voltooi hy sy M.B.A.-graad. Om sy gesinslewe, studie en ’n nuwe onderneming van die grond af te kry het beteken die lewe was “baie bedrywig”.

“Ek het nie veel vrye tyd tydens die inperking gehad nie, maar om tuis saam met my gesin te wees was die grootste hoogtepunt,” sê hy. “My kinders was mal daaroor. My vrou, daarenteen . . . Sy het nie geweet wat om met my te maak nie! Maar ons het behoorlike gehaltetyd as gesin saam deurgebring.”

Die gesin het hul tyd gewy aan staptogte en oefensessies op die landgoed waar hulle aan die prentjiemooi Dolfynkus in KwaZulu-Natal woon.

Die tyd weg van die rugbyveld het beteken hy hoef hom nie meer so erg te bekommer oor sy fiksheid nie en hy kon sy suikertand ’n bietjie meer tegemoetkom.

“Koek is my swakheid. Ek het baie koek geëet. My skoonma bly by ons, en sy is ’n goeie bakker. Sy het al koeke gebak wat ek net nie kon weerstaan nie.”

Kuziva en Tendai.
Kuziva en Tendai. Foto: Facebook.

Noudat hy kan, bring Tendai soveel tyd moontlik saam met sy gesin deur. ’n Tipiese naweek in die Mtawarira-huishouding word oorheers deur kinderaktiwiteite.

“Ek tel Vrydae die kinders by die skool op en dan gaan kry ons middagete of roomys. Hulle sal enigiets vir roomys doen! Ons speel dan ’n rukkie speletjies by die arkade.”

Wanneer hulle tuiskom, maak sy vrou, Kuziva, aandete; dan is dit tyd vir ’n fliek – en teen tienuur is dit bed toe.

Saterdae word by die klubhuis op die landgoed deurgebring en Sondae gaan hulle kerk toe en ontspan.

Umlindi se hoofkantore is in Midrand; Tendai vlieg dus elke twee weke Gauteng toe om kliënte te sien en voorleggings vir groot ondernemings te doen.

‘Koek is my swakheid. Ek het baie koek geëet. My skoonma bly by ons, en sy is ’n goeie bakker’

Sy oorgang van die rugbyveld na die raadsaal was maklik. “Die grootste aanpassing was die aantrekkery. Ek moet nou ’n pak en das dra teenoor die rugbykortbroek en tokse.”

Hy speel nou wel nie meer rugby nie, maar Tendai is nog in gereelde kontak met van sy voormalige spanmaats soos Eben Etzebeth en Siya Kolisi.

“Ons gesels en gaan eet iets saam wanneer ons ook al kan. Of ons bel mekaar en gesels oor die goeie ou tye. Ek mis veral die kameraderie en vriendskap wat ontwikkel met die ouens saam met wie jy speel én teen wie jy speel.”

Deur The Beast Foundation ploeg hy in die gemeensk
Deur The Beast Foundation ploeg hy in die gemeenskap terug. Foto: Facebook.

Tendai se nederige grootwordjare in Harare, Zimbabwe, is wat hom motiveer om deur The Beast Foundation in die gemeenskap terug te ploeg. “Rugby het my lewe verander, nou wil ek dieselfde vir ander doen.”

Die stigting se doel is om studente sport en lewensvaardighede te leer, sê hy. “Ons het al studente met beurse gehelp. Ons fokus op opvoeding, want dit is die antwoord op soveel van die probleme waardeur ons in vandag se samelewing in die gesig gestaar word.”

Hulle het vir Julie ’n rugbykamp beplan wat deur 50 seuns en meisies bygewoon sou word, maar dit is weens covid vir eers opsygeskuif. “Ek het ’n pan-Afrika-visie vir die stigting. Ek wil die jeug reg oor die vasteland help.”

Tendai het seker gemaak hy benut elke geleentheid wat rugby aan hom gebied het sodat hy voorbereid sou wees vir die lewe ná sport.

“Jy kan nie begin voorberei vir die lewe ná ’n sportloopbaan wanneer jy twee of drie jaar weg van aftrede is nie. Jy moet op die kruin van jou loopbaan daarmee begin. Een van die voorregte wat ons as beroepspelers het, is dat almal tot jou toe aangetrek word. Jy ontmoet dus baie invloedryke sakemense.”

Hy sê dit was vir hom belangrik om ’n kwalifikasie agter sy naam te kry.

“Ek is nogal baie ambisieus. Ek het die toppunt van sukses op die rugbyveld bereik, en nou wil ek daardie soort sukses in sake ook behaal.”

Hy het dalk sy hande vol met die nuwe ondernemings wat hy aanpak, maar sê hy sal opofferings maak en harder as ooit werk met die ondersteuning van sy gesin.

“Ek wil vir my kinders wys hulle kan groot droom en hard werk om iets te bereik – maar ’n mens moet nederig bly en altyd die groter strewe in gedagte hou.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe