Op die rugbyveld was dié blitsige WP- en Springbokflank ’n legende. Hy het telkens die skare op hul voete gehad wanneer hy sy teenstanders na lug laat gryp, en daardie blonde kuif het hom boonop gewild gemaak onder vroue.

Maar dié driedrukmasjien van die vroeë 1980’s het eers lank ná sy rugbyloopbaan voor die grootste toets van sy lewe te staan gekom.

Tien jaar gelede het dokters vir Rob Louw gesê hy sal binne vyf maande dood wees.

’n Metastatiese melanoom is in 2009 by hom gediagnoseer, en dié aggressiewe kanker het na sy galblaas, lewer en dunderm versprei.

Maar hier sit hy vandag voor ons, so gesond en lenig soos die rugbyheld van weleer. Danksy lang dae op sy geliefde branderplank en muurbalsessies twee keer per week is hy nog net so fiks en aantreklik soos altyd.

Maar selfs hier by sy huis in Durbanville in die Kaap wend Rob ’n dik laag sonroom aan wanneer hy lank buite is.

Want al is hy nou op die ouderdom van 64 kankervry, is hy vasbeslote om nie die gevreesde siekte weer ’n vatkans te gee nie. ’n Maklike stryd was dit nie.

Rob en sy vrou, Azille, se ruim gesins­huis in Durbanville in die noordelike voorstede van Kaapstad. Foto: Misha Jordaan

Toe die kanker in 2012 ’n twééde keer posvat, moes die helfte van sy maag verwyder word. Maar vra jy Rob, vertel hy dis sy aktiewe leefstyl en spesiale dieet wat eindelik die kanker help oorwin het.

“Ek reis, surf en ski; die lewe is te kort om nie genoeg daarvan te doen nie,” vertel hy langs die swembad van sy en sy vrou, Azille, se ruim huis.

En dan is daar sy daaglikse mengeldrankie: groentee met ’n teelepel borrie, swartpeper en klapperolie. Ja, die dokters is skepties daaroor, gee Rob toe.

“Maar dit wérk,” hou hy vol. Dan sluit sy dogter Roxy en haar verloofde, Sam Barton, ’n voormalige Nieu-Seelandse rugbyspeler, by ons aan. Die spesiale band tussen pa en dogter is opvallend.

Albei is duidelik buitelugmense en hulle straal dieselfde innerlike vrede uit – ’n soort zen of mindfulness. Dis Rob se kankerstryd wat hulle nader aan mekaar gebring het, want Roxy (32) het sy alternatiewe “eetkuur” en leefstyl omarm.

“Pa het my geleer om skoner te eet, met mindfulness te lewe en elke oomblik te geniet en waardeer,” vertel sy.

“Kom kyk gou hier,” sê Rob dan opgewonde en neem ons na groot eikestompe in die erf waaruit sampioene groei.

“Ek boor gate in die stompe en plant sampioenspore daarin wat dan twee jaar later ’n oes lewer.” Hy pluk groot sjiïtake-sampioene en in die kombuis braai hy dit vir ons in ’n pan.

Nadat ons geëet het, vertel Rob: “Ek kry byna elke week ’n oproep van iemand in die wêreld wat wil weet hoe ek kanker bly oorwin. Maar dit het ’n emosionele uitwerking. Dit het al gebeur dat iemand ophou bel nadat ons ’n paar keer gesels het. Dan weet ek hulle is weg . . . Soos die 21-jarige meisie in Amerika. Dan vra ek my af hoekom sy dood is en ek nog hier.”

Dis ’n oomblik stil voor Roxy sê: “Met sy groot hart wil hy altyd almal help.”

En Roxy, ’n model en sakevrou wat graag saam met Rob branderplankry, neem deesdae haar en haar pa se gedeelde lewensfilosofie een stap verder met die cannabis-jogawegbreekgeleenthede wat sy en Sam saam aanbied.

Dagga en joga? Hoe werk dít dan?

Roxy verduidelik jy drink die oliedruppels voor jy joga doen – dit help jou ontspan en in voeling kom met jouself, sê sy. “As dit in die regte dosis gebruik word, help dit jou om uit jou kop en in die oomblik te tree.”

Maar sy voeg by: “Dis belangrik om eerder die woord cannabis te gebruik, want die vorm van daggaolie, CBD, waarvoor ons gelisensieer is, bevat nie die aktiewe element THC wat ’n mens hoog maak nie,” help sy ons dadelik reg.

Roxy beoefen ook dié buitengewone soort joga as terapie teen haar slapeloosheid, angstigheid en chroniese rugpyn.

Sy glo om “skoon” te eet en jou ingewande gesond te hou kan help om geestesuitdagings te bestuur.

“Bly weg van verwerkte kosse en probeer hoofsaaklik vis of volstruisvleis saam met organiese groente eet. Vermy witbrood en suiker.”

Dis immers wat sy by haar pa geleer het toe hy teen die groot K baklei het . . .

Rob is rateltaai – en die geluk is aan sy kant. Die oudrugbyspeler het in 1990 tydens ’n wedvaart aan die Weskus van sy rubberboot afgeval.

Die skroef van ’n ander boot het sy arm oopgekloof en hy het hom byna doodgebloei. In 2005 het hy nog ’n noue ontkoming gehad toe ’n ligte vliegtuig met hom binne-in op ’n wildreservaat in Mpumalanga neergestort het.

Maar in 2009 was hy weens die aggressiewe velkanker naby die dood toe sy sakemagnaat-vriend Johann Rupert ingryp. Johann het hom in die Anderson-mediese sentrum in Houston, Texas, laat opneem.

Dié sentrum het toe uit agt hospitale bestaan, en Rob was in daardie stadium een van 17 000 pasiënte wat daar behandel is. “Ek verwys steeds baie mense daarheen,” vertel hy.

Toe Rob Houston toe is, het hy nie geweet of hy sou terugkeer nie. “Dit was swaar om die huis en my gesin te groet. Vir die kinders was dit veral erg, want hulle was in die middel van die eksamen.”

In Amerika kon die kankerselle aan sy galblaas, lewer en dunderm tydens twee operasies verwyder word, en Rob sê hy het nie chemoterapie of bestraling gekry nie.

Rob maak sy eie rooiwyn. Foto: Misha Jordaan

Hy was drie maande lank aan en af in die hospitaal voor hy kon terugkeer na Suid-Afrika. Toe die kanker drie jaar later in sy maag terugkeer, is dit tydens ’n operasie verwyder. Roxy is die oudste van sy drie dogters.

Misty (30) het ’n B.A.-graad in sielkunde en werk tans op luukse superseiljagte. Shahnee (28) is ’n troubeplanner en woon saam met haar man, Derek George, in Londen.

Rob se seun, Robbie (26), het ook vir die sewesspan van Monaco gespeel en is betrokke by sy pa se dekrietmaatskappy. Hy reis tans die wêreld vol saam met sy modelmeisie, Danika Pienaar.

“Soveel jong Suid-Afrikaners gaan nou oorsee woon,” sê Rob hartseer.

Roxy paai: “Sam is gelukkig mal oor Suid-Afrika. Ons doen so goed hier. Ons gaan nêrens heen nie. Dis my land dié.”

View this post on Instagram

Every week I apply Yoga philosophy to my life, my teaching and my practice. Over the last few weeks we have been going through all the Yamas. The Yamas are one of the branches of the 8 limbs of yoga along with the Niyamas in yoga philosophy. Guiding us on the path of happiness/self realization and inner bliss. This weeks Yama is a powerful one for all. The Yama of #Aparigraha, the 5th yama. •Asparigraha is non-hoarding, non-possessiveness and non-attachment. •When the yogi no longer desires to have possessions, he frees himself from the material world. •Attachment, and the anxiety which accompanies attachment, are obstacles to knowledge •Freedom from attachment will result in knowledge of the whole course of our journey. •Non-accumulation and non-attachment can simply mean that you don’t depend on someone or something external for your own happiness and stability. “When I let go of what I am, I become what I might be. When I let go of who I am, I receive what I need. Love is what is left when you’ve let go of all the things you love “ ?? Double tap if you want more of this as I no longer want to just loan my image to the world but the lessons I have learnt along the way. If you are interested in more Yamas, go look at my yoga page @greenleafvitality Namaste ????‍?? Happy workers day . . . #yamas #yogaphilosophy #yoga #yogateacher #yogaeveryday #namaste #motivationalquotes #dailyinspiration #motivation

A post shared by Roxy Louw (@roxylouw) on

Vanweë Rob se kanker het die hele gesin gesonder begin eet.

Tydens haar besoeke aan haar pa in die kankersentrum in Houston het Roxy gesien hoe siek die behandeling die ander pasiënte maak, en sy het vir Rob natuurlike hulpmiddels begin soek.

“Ons gesin was nog altyd sportief, maar ons was toe ekstra versigtig oor wat ons eet,” onthou Rob.

Die gesin eet net vars kos en sny verwerkte produkte uit. Rob moedig sy gesin en ander ook aan om drie dae per week van seweuur saans tot twaalfuur die volgende dag te vas en net water en van sy borrie-doepa te drink.

En so het gesond leef gaandeweg vir pa en dogter ’n leefstyl geword. Op die stel van die 2010-fliek Blue Crush 2 waarin Roxy (toe 21) die rol van ’n branderplankryer vertolk het, is sy deur haar medesterre aan die “helende waarde van joga” bekendgestel.

Van links is Derek George (Shahnee se man), Roxy, Rob se dogter Shahnee, Rob, Rob se seun, Robbie, Azille en Rob se dogter Misty. Foto: Misha Jordaan

Ses jaar later het sy by ’n Indiese ghoeroe in Thailand indiepte-opleiding ontvang en het sy die konsep van joga en cannabis-olie geleer.

Nou is sy ’n groot voorstander daarvan. Roxy en Sam bied later vandeesmaand nog ’n buitengewone jogawegbreekgeleentheid op Swellendam aan.

Hulle leer ook mense hoe om ’n blaaskans van hul selfone te neem en die terapeutiese voordele daarvan om kaalvoet te loop. “Veral op gras en sand; dit hou jou in voeling met die aarde,” vertel Sam.

Hy is ook passievol oor plantmedisynes en werk saam met Roxy om die wegbreeknaweke te reël. “Ek deel darem ook Rob se liefde vir rugby,” sê die oud-Kiwi.

Hulle kyk graag saam rugby, veral wanneer Nieu-Seeland teen Suid-Afrika speel. “Dis lekker. Ons kom goed oor die weg. Hulle is mos maar nes ons met dieselfde waardes soos respek,” voeg Rob by.

Roxy en Sam het verlede September verloof geraak en beplan ’n drie dae lange bruilof in Februarie volgende jaar op Stilbaai, waar die Louws graag vakansie hou.

Tien jaar gelede het Rob nie geweet of hy sal leef om sy dogter se troue te sien nie. Maar sy driemaandelikse skanderings wys die kanker is steeds in remissie nadat hy eindelik in totaal nege operasies ondergaan het om als te verwyder.

Hy lag ondeund voor hy bieg dat minstens drie van sy operasies eintlik vanweë sy eie ongeduld was.

“Ek het breuke opgedoen omdat ek te gou ná operasies sport begin beoefen het; ek kon net nie wag om weer saam met Roxy te surf nie.”

Met die groetslag maak pa en dogter ’n afspraak om mekaar by hul gunstelingplek te ontmoet om die branders aan te durf.

Vrolik roep Roxy vir haar lewenslustige pa: “Sien jou by Shelley Point!”