Sy droom al lank daarvan om haar brood voor die TV-kameras te verdien. En in die tyd dat covid-19 soveel planne deurmekaar kom krap, kry sy toe die geleentheid om daardie droom te bewaarheid.

Anzél Rabie het dit met albei hande aangegryp. Sy is ’n vrou wat weet wat sy wil hê: Sy was maar net vyf jaar oud toe sy haar trouman in die oog gekry en vir hom liefdesbriewe begin skryf het . . . 

Met dié einste man, die regisseur Stephanus Rabie, het sy nou kragte saamgesnoer vir haar TV-debuut as aanbieder van die kykNET-leefstylprogram Anzél in die Boland.

Anzel en Stephanus Rabie
Anzél Rabie en haar regisseur-man, Stephanus, bly op ’n kleinhoewe buite Stellenbosch. Sy is die gesig van die nuwe leefstylprogram Anzél in die Boland. Foto: Misha Jordaan

“Ek glo nogal daaraan dat magic buite jou gemaksone gebeur,” sê die pragtige brunet wat voorheen in die finansiële wêreld gewerk het.

“Dit is ’n uitdaging, maar wonderlik om iets te kan doen wat jy voel vir jou bestem was.” Anzél (29), ’n Mej. Suid-Afrika-topvyf-finalis in 2014 en die jongste dogter van die voormalige Springbokkaptein Theuns Stofberg, se oë blink skoon by die gedagte aan haar droomwerk wat toe ’n werklikheid geword het. In die reeks neem sy kykers op uitstappies na die versteekte juwele in die Boland.

Sy kuier by wynmakers, draf berge uit en eet eksotiese maaltye. Vir inspirasie hoef sy en Stephanus (37) niks verder as anderkant die drumpel van hul kothuis op ’n kleinhoewe in Jonkershoek op Stellenbosch te soek nie.

Hier tjirp die voëls hulle soggens wakker en lok ’n reuse- lowergroen grasperk hulle na buite waar die Bolandse berge oor ’n woud uittroon.

Anzél en Ste­phanus reis baie, maar wanneer hulle tuis is, geniet hulle dit om saam in die kombuis en by die braai te kuier – natuurlik soms met ’n Bolandse wyntjie in die hand. Foto: Misha Jordaan
Foto: Misha Jordaan

Terwyl hulle die afgelope paar maande hier in die asemrowende natuurskoon ingeperk was, is die konsep vir Anzél in die Boland as’t ware uit nood gebore.

’n Program wat vir ’n sekere tydgleuf op kykNET geskeduleer was, kon weens die inperking nie klaar verfilm word nie. Toe nader die televisiekanaal Stephanus, wat in 2008 sy eie produksiemaatskappy, Stephanus Rabie Productions, begin het en vra of hy nie ’n program vir daardie gleuf wil voorlê nie.

Hy is ’n ervare regisseur wat al aan kykNET-reekse soos Boer soek ’n vrou, Jan Braai saam met die bobaasbraaier Jan Scannell en die reisprogram Stadig oor die klippe saam met die akteur Neels van Jaarsveld gewerk het.

“Ons het ’n naweek lank gesit en brainstorm,” vertel Stephanus oor die geleentheid om ’n nuwe program tydens die inperking te skep. “Toe werk ek nog as ’n geoktrooieerde rekenmeester,” las Anzél by.

Sy het ’n B.Rek.-honneursgraad van die Universiteit Stellenbosch agter haar naam, maar het ook al haar slag as aanbieder gewys tydens oudisies wat sy by kykNET afgelê het.

Hulle moes in ’n rekordtyd met die konsep vir ’n nuwe TV-reeks vorendag kom, want binne vier weke moes die eerste episode uitgesaai word. Boonop moes hulle die kort winterdae en die wispelturige Kaapse winterweer in ag neem met die beplanning van hul verfilming.

Anzél het uit haar werk bedank, hulle het ’n span bymekaar gekry en in ’n japtrap was die eerste episode klaar. Nou kuier sy weekliks op die kassie as aanbieder van die reeks. “Die Boland het so baie om te bied,” sê Anzél. “Mense reis en ontvlug saam met ons.”

Anzel en Stephanus Rabie
Op die stel van Anzél in die Boland saam met die wynmakers, Danie en Hugo Carinus. Foto: KykNet

By die gesellige braaiplek voor die twee se huis brand die vuurtjie en staan die steaks gereed, terwyl Stephanus self ’n spesiale Argentynse chimichurri vir die vleis aanmekaarslaan. “Ons is so gelukkig hier,” sê Anzél en kyk om haar rond na die lieflike stukkie aarde waar sy en Stephanus kon nesskop.

“Die kothuis is klein, maar so wonderlik omdat ons omring is deur bome en blomme.”

Die twee se liefdesverhaal het begin toe sy nog ’n pikkie was en die veel ouer skoolseun vurig bewonder het. Die Stofbergs en Rabies het toe in Welgemoed in die noordelike voorstede van Kaapstad gewoon en mekaar gereeld gesien. “Dit was ’n groot familiegrap,” vertel Anzél.

“Ons ouers was boesempelle en het gereeld naweke saam weggegaan, geseil of gestap. Ek was seker vier of vyf jaar oud; die jongste van al die kinders, en ek het hom ge-love.”

Anzel en Stephanus Rabie
Anzél en Stephanus as kinders. Sy was toe al versot op hom, vertel sy. Foto: Verskaf

Stephanus is agt jaar ouer as sy, maar het die meisietjie se aandag geduldig verduur. “Saans voor ons eet, moes my pa vir hom ook bid, en op Valentynsdag moes my ma Tygervallei toe gaan om vir hom ’n geskenk te koop.”

Stephanus het vandag nog die briefies wat Anzél in haar kinderdae vir hom geskryf het. “Ek kon nie skryf nie en dan vra ek my ouer sussie om te help: ‘Anzél liefies Faanus. Ek gaan eendag met jou trou,’ ” dra sy dit voor.

“Hy het natuurlik nie dieselfde gevoel nie,” lag sy. “Maar hy was baie beskermend teenoor my. Hy het vir my boeke voorgelees en my opgepas wanneer die ander kinders nie wou nie.”

Haar ouers is geskei toe sy nog op laerskool was. Toe sy en haar ma, Ansie Welman, daarna Stellenbosch toe trek, het die jong liefde ’n natuurlike dood gesterf omdat Anzél en Stephanus se paaie minder gekruis het. Maar teen die einde van 2015 het hulle mekaar weer raakgeloop by ’n troue op Stellenbosch.

“Ek het nie eintlik in liefde met die eerste oogopslag geglo nie,” sê sy vandag. “Maar Stephanus sê hy het gewéét.”

Toe hy Anzél voor die huweliksplegtigheid onder die gaste opmerk, het hy haar eers nie herken nie. “Ek het hierdie meisie gesien . . .”

Sy woorde raak weg by die herinnering aan daardie oomblik. Hy het deur die loop van die aand uitgevind Anzél is nie in ’n verhouding met haar metgesel nie en het werk gemaak van die gevoel in sy binneste.

Hulle was gou ’n paartjie, maar was ’n jaar lank in ’n langafstandverhouding omdat Anzél toe in Johannesburg gewerk het.

Anzel en Stephanus Rabie
Foto: Misha Jordaan
Anzel en Stephanus Rabie
Foto: Misha Jordaan

Stephanus het in dié tyd as regisseur aan Boer soek ’n vrou begin werk en die land platgereis. In 2017 kon Anzél ’n oorplasing kry na haar werk se Kaapse kantoor. En later daardie jaar, ná twee jaar by Boer soek ’n vrou, het Stephanus besluit om halt te roep en die vervaardiger van die reeks, Elmarie Botha, laat weet hy groet die lang pad.

“Ek het vir Elmarie gesê ek kan nie vir die boere vroue soek en my eie vrou verloor nie,” vertel hy. En dít nog voor hy Anzél die jawoord gevra het.

Anzél het die geleentheid gekry om in 2018 drie maande in Kanada te gaan werk, en Stephanus het besluit om saam te gaan. Maar hy moes sy vertrek uitstel ná ’n motorongeluk aan die einde van 2017 waarin sy ma, Roelien (68), en sy ouma, Martha Opperman (94), oorlede is.

Net sy pa, Johann Rabie, ’n bekende internis van Kaapstad, het die ongeluk oorleef. Toe Stephanus ná twee maande by Anzél in Kanada aansluit, was dit met ’n verloofring in sy sak.

Op reis deur die land het hy op ’n sneeubedekte bergpiek naby die dorp Whistler op een knie gesak en haar gevra om met hom te trou.

Anzel en Stephanus Rabie
Anzél en Stephanus het in 2018 by ’n skioord in Kanada verloof geraak. Foto: Verskaf

Vroeg in 2019 het hulle in die NG Moederkerk op Stellenbosch getrou. Die onthaal was in die besonderse huis van die kunstenaar Portchie in die Eikestad.

Ná ’n onvergeetlike wittebrood in die Maledive, Maleisië, Filippyne, Bali en Bangkok, het hulle ook al Nederland, Parys, Frankryk en Ysland besoek, hoofsaaklik vir Stephanus se werk. Hulle is ook verlede jaar Japan toe vir die Wêreldbekerrugbytoernooi en was al saam in Rusland, Hongarye, Mexiko, Slowenië en ander Europese lande.

Anzel en Stephanus Rabie
Hul troudag op Stellenbosch. Foto: Jenni Elizabeth

Die twee het saam begin werk aan ’n reeks oor Suid-Afrikaners met interessante werke in die buiteland en die loodsprogram van dié reeks tydens ’n besoek aan Ysland geskiet. Maar toe kom die inperking en ons land se grense sluit, en die verfilming van die res van die reeks word vir eers in die wiele gery.

Die loodsprogram van dié reeks, Ver in die wêreld, met Anzél as deel van die produksiespan, word later vandeesmaand op kykNET uitgesaai. Maar al is die beplanning van hierdie reeks toe op die lange baan geskuif, het hulle sommer gou begin beplan aan ’n nuwe reeks, en so is Anzél in die Boland gebore en het sy tog haar kans voor die kamera gekry.

Noudat sy self die TV-bedryf betree het, is dit vir haar wonderlik dat sy soveel by haar man kan leer. “Maar jy moet weet, wanneer ons werk, dan werk ons,” sê sy. “Dis nie ’n geliefie-liefie of ’n handevashouery nie. Ek sien hom dan ook nie as my man nie, maar as die regisseur van die program. Wanneer ons by die huis kom, sal ons ’n lekker wyntjie saam drink. ’n Mens moet die twee wêrelde probeer skei.”

Anzel en Stephanus Rabie
Anzél en Stephanus geniet die oop ruimte by hul huis. Foto: Misha Jordaan

Daar is reeds planne vir ’n tweede seisoen van Anzél in die Boland, en sy sal graag vorentoe ook juweeltjies in ander landstreke wil gaan uitsnuffel. Hulle geniet dit om hul vrye tyd saam in hul eie stukkie Boland deur te bring, te gaan draf of vleis op die kole te gooi. 

“Jy dink mos dit kan nie beter raak nie, maar die huwelik is regtig een van die beste goed wat met my gebeur het. Hy is my beste vriend en soveel meer,” sê Anzél en glimlag vir die man wat haar drome voor en agter die kameras help bewaarheid het.

Hulle is nie haastig om met ’n gesin te begin nie. Met ’n laggie spot Stephanus: “Gelukkig het ek vir my ’n jong vrou gevat.” 

  • Anzél in die Boland word Dinsdae om 17:30 op kykNET uitgesaai en is ook op Showmax beskikbaar.