Nou is Carol (43) terug in die hospitaal met dieselfde siekte. 

Sy het perikarditis, ontsteking van die hartvlies.

“Ek het ongeveer ’n week gelede weer simptome begin ervaar. Moegheid, 'n onstuimige hartklop, naarheid, bewe en ernstige borspyn. Nadat ons my ’n paar dae lank gemonitor het, het my kardioloog besluit om my op te neem,” vertel Carol vanuit haar hospitaalbed aan Huisgenoot

Sy is op Saterdag 18 Maart in die hospitaal opgeneem. En deesdae is die hospitaal een plek wat talle mense liefs wil vermy weens die COVID-19-pandemie wat woed. 

Dit is ook iets wat in Carol se “onderbewussyn” is. “Maar die voorsorgmaatreëls is van so 'n hoë standaard dat dit enige vrese ten ruste lê. Weens die kondisie van my hart kan dit fataal vir my wees as ek dit wel opdoen. 

“Dis hoekom ek in isolasie gehou word selfs in die hospitaal,” sê Carol. 

carol
Carol van der Linde is terug in die hospitaal. Foto: Instagram/carolvdlinde

Die meeste van die sale is toegemaak om blootstelling te beperk, sê Carol. “Enige COVID-19-gevalle word in ICU behandel. Mediclinic se reëls is baie streng vir hul eie sowel as ons veiligheid.” 

Maar sy mis haar man, Toks, en haar hond vreeslik baie. “Maar ook nou die klein dingetjies. Om in jou huis of tuin te mag stap. Om vir myself ’n koppie koffie te kan maak. Met die hartvirus mag ek nie uit die hospitaalkamer kom nie (selfs mobilisasie is te veel stres op my hart). 

“So dis vir my ’n baie strenger inperking as by die huis,” sê Carol. 

Sy sien Toks op die oomblik glad nie in persoon nie. “Hy mag my nie besoek nie. Maar hy is dierbaar en kom lewer vir my boeke en biltong by ontvangs af en video call my gereeld,” sê sy. 

Die ondersteuning en gebede wat sy in die sosiale media kry, help haar ook baie deur dié tyd. 

“In hierdie onsekere tyd waarin ons leef, laat dit my so dankbaar voel. Dit laat my voel ek is nie alleen nie, al voel ek alleen," vertel sy.

carol
Carol en haar oulike hond, Machiko. Foto: Instagram/Carolvdlinde

“Daar is soveel mense met die mooiste harte wat vir my boodskappe stuur, bid of net ’n blom op Facebook plaas. Dit laat my weer glo aan die ruimheid van mense se harte vir ander,” sê Carol. 

Sy voel “bevoorreg” dat die dokters die onlangse “aanval vinniger gevang het”. “Hoewel ek al die simptome het, en dieselfde behandeling kry, herstel ek vinniger.” 

En as alles goed lyk behoort Carol teen Donderdag terug by haar huis tussen haar geliefde Toks en haar hondekind te wees om die laaste dae van die COVID-19-inperking saam met hulle deur te bring. “Ek dink ek kan eers Donderdag huis toe gaan, maar op streng bedrus.”