Cobus (29) en Juan (31), wat nou in Engeland vir onderskeidelik die Northampton Saints en Wasps uitdraf, het onlangs vir die eerste keer pa's geword. Die twee beplan om daar Paasfees met hul kleingoed deur te bring. 

Cobus en Frances

baba,familie
Cobus, Frances saam met hul bondeltjie vreugde op 'n uitstappie. Foto: Verskaf

Cobus en sy vrou, Frances (29), wat onlangs hul tweede huweliksherdenking gevier het, begin nou hul voete as ouers vind sedert ons in Maart met hom gesels het. Tog erken die voormalige Sharks- en Bok-skrumskakel dat sy seun, Righardt, hulle lekker besig hou.

Hul bulletjie is op 15 Maart gebore en heet Righardt Christian Jacobus Reinach. Hy is vernoem na Cobus se pa, die oud-Springbok Jacobus Reinach, en Frances se pa, Christian.

“Ons het regtig ’n happy en rustige seuntjie, maar ons is first time parents, so ongeag bly ons maar op ons tone. Dis darem nie meer so erg soos ons eerste aand by die huis toe ons elke vyf minute gekyk het of hy nog asemhaal nie,” vertel Cobus aan Huisgenoot.  

cobus reinach,rugby,baba,familie,ouerskap
Cobus en klein Righardt se kosbare oomblik saam. Foto: Verskaf
baba,familie
Cobus se oulike eersteling, Righardt. Foto: Verskaf

Cobus gaan sy eerste Paasfees as pa in sy tuisdorp, Northampton, in Engeland deurbring. En is hy al gewoond aan sy nuwe rol as ’n pa?

"Dit sink nou ’n bietjie meer in," vertel hy. "Partykeer kyk ’n mens na hierdie klein bondeltjie en dink: 'Wow, hierdie klein mensie is 100 persent van ons afhanklik!' Dit is ’n groot verantwoordelikheid, maar een waaroor ek en Frances baie dankbaar is. Dit verander hoe ’n mens na jouself en alles in jou lewe kyk."

Juan en Simone

baba,juan de jongh,familie,liefde
Juan, Simone en hul baba, Emily. Foto: Verskaf

Juan en sy verloofde, Simone Lourens (30), se kleinding, Emily, se persoonlikheid kom ook al sterk deur.

"Sy word by die dag groter en al hoe ouliker met al haar giertjies en maniertjies. Sy is nou agt weke oud en amper dubbel haar gewig vandat ons in Februarie gesels het,” vertel Simone aan Huisgenoot. 

baba,vreugde
Emily se oulike glimlag wat haar ouers omtrent sag maak. Foto: Verskaf

Emily se eerste glimlag op drie weke het beslis haar ouers se hartsnare geroer. Van daardie dag af groet sy vir mamma en pappa met blink ogies en ’n vriendelike laggie, vertel Simone. 

Die paartjie beplan om hul Paasnaweek saam met vriende in hul Engelse tuisstad, Coventry, deur te bring. Juan, wat al voorheen hier vir die Stormers uitgedraf het, en sy liefie, Simone, het in 2017 soontoe verhuis.

"Emily is nog ’n bietjie te klein vir die Paaseierjag, maar mamma en pappa sal solank die Paaseiers eet sover ons dieet ons toe laat," skerts Simone. 

baba,liefde,familie,ouerskap
Juan en Simone se pragtige dogtertjie, Emily. Foto: Verskaf
baba,sonlig,engeland
Juan en Simone geniet die skaarse Europese sonlig in die Engelse dorp, Stratford-upon-Avon met hul dogterjie. Foto: Verskaf

Juan het Maandag 15 April sy 31ste verjaardag met sy gesin gevier.

"Dit was great dat Juan ’n afdag gehad het op sy verjaardag, so ons kon as gesin die dag saam spandeer," vertel Simone. "Ons het sommer behoorlik gebruik gemaak van die Britse sonnetjie en die dag spandeer in ’n dorpie Stratford-upon-Avon, die geboorteplek van William Shakespeare.”

Verlang huis toe

Simone en Juan, wat albei van die Boland afkomstig is, beplan om in Junie weer Suid-Afrika te besoek.

"Ons sien uit daarna om tyd saam met ons familie en vriende te spandeer en om Emily voor te stel aan almal wat angstig wag om ons prinses te ontmoet," vertel Simone, ’n boorling van die Paarl. 

Cobus, wie se seisoen by die Northampton Saints in die Premiership Rugby-toernooi vinnig tot ’n einde kom, is net so opgewonde om na sy geboorteland terug te keer. 

"Ons het nog ’n paar wedstryde oor en daarna is ons op die eerste vlug SA toe," vertel hy. "Ons gaan vir ’n paar weke in Bloemfontein by my ma kuier en daarna vertrek ons om by my skoonfamilie op hul plaas te gaan kuier."

"Ons sien so baie uit! Ek was nou amper ’n jaar gelede in Suid-Afrika, so dis nou tyd. Ons heel eerste stop is die Spur en my heel eerste order is buffalo wings!”  

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!