Die Ferreira-gesin woon nou in die Skotse hoofstad
Die Ferreira-gesin woon nou in die Skotse hoofstad Edinburgh. Foto: Instagram (@inetteferreira)

Andries, sy vrou, Inette, en hul dogters, Miané (4) en Lea (3), woon nou om die draai van die beroemde Murrayfield-stadion waar Andries deesdae vir Edinburgh in die Pro14-ligakompetisie uitdraf.

“Ons is mense wat hou van reis en met ons kinders nog so klein het ons gedink dis die ideale geleentheid wat ons hulle kan bied. Nou kan hulle iets anders ondervind en beleef voor hulle moet skool toe gaan,” vertel die paartjie uit Skotland aan Huisgenoot.

“Sover geniet ons dit ontsettend baie. Daar is baie Suid-Afrikaners in die span en die Skotse spelers is ongelooflik vriendelike ouens wat gedurig grappies maak. Dit is ’n bonus dat ons tuisveld, Murrayfield, welbekend en een van die grootste stadions ter wêreld is. So dis ’n ongelooflike groot voorreg om daar te kan oefen en speel,” voeg Andries by. 

Ander Suid-Afrikaners in die Edinburgh-span sluit in die voormalige Blou Bul-stut Pierre Schoeman en die gewese Stormers-skrumskakel Nic Groom. Die Suid-Afrikaans gebore stut WP Nel, wat vir Skotland se nasionale span uitdraf, is een van die Ferreiras se goeie vriende daardie kant.

Andries in aksie teen die Jaguares, Februrarie 202
Andries in aksie teen die Jaguares, Februrarie 2020. Foto: Gallo Images/Christiaan Kotze

“Ek en WP was kamermaats by die Vrystaat Cheetahs voor hy Skotland toe gekom het. Hulle kinders en ons kinders het baie goeie maatjies geraak. Ons probeer hulle soveel moontlik by mekaar laat kuier, al is dit net in die parkie,” vertel Andries.

Miané en Lea pas ook baie goed aan by hul nuwe tuiste.

“Vir ons dogters was dit lekker om hierheen te kom en vir die eerste keer sneeu te sien en regte koue te ervaar. Hulle mis hulle maatjies en veral hulle ouma en oupa in Suid-Afrika baie. Hier is ons al van 26 Desember af weer in volledige inperking, so die heropening van skole is die heeltyd uitgestel. Hulle kon darem die afgelope Maandag by hulle nuwe skooltjie begin.”

Tog is daar die verlange na Suid-Afrika en dit waaraan hulle gewoond is.

“Ons mis ons familie en vriende, die sonskyn, ’n Sondagmiddag se ribbraai (dis te koud om dit hier te doen), en net die gevoel van die bekende,” sê Andries.

“Ek moet egter sê, ons probeer regtig die beste van ons ondervinding hier maak en het baie lekker ingeskakel. Pierre Schoeman het sy eie besigheid, Proper Pioneer, hier begin waar ons genoeg biltong, droëwors en boerewors kan koop, wat die verlange heelwat minder maak.”

Vanweë die streng inperkings kon die gesin nog nie regtig hul nuwe omgewing veel verder as Edinburgh verken nie, maar hulle geniet dit om hul nuwe tuisstad te leer ken.

“Ons geniet dit om net stad toe te gaan en daar te gaan rondwandel en die mooiheid van die plek in te neem. Hier is darem strande ook, so wanneer die weer dit toelaat, trek almal so warm as moontlik aan en gaan stap op die promenade. Ons het ook baie sneeu gekry die winter, so ons het graag met die kinders gaan slee ry.”

Oor hoe lank hulle in Skotland wil bly, kan die Ferreiras nog nie met sekerheid sê nie.

“Ons geniet Edinburgh verskriklik baie. Ons hou van die kultuur, die mense, die veiligheid van die stad en net die algemene leefstyl van die inwoners hier. Ons is in die stadium besig om te besluit oor die gebeure vorentoe, so ons vat dinge dag vir dag,” laat hulle hoor.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe