In die  1990’s het kykers haar leer ken as die glansryke blondine Susan Bosman, die feeks in die sepie Egoli op M-Net. Sy het op die voorblaaie van tydskrifte gepryk en in 1995 selfs by die Londense Modeweek haar lyf loopplankmodel gehou. Maar daardie gloriejare is nou iets van die verlede.

Deesdae is Dorette Potgieter (45) ’n enkelma wat op aalmoese en kospakkies oorleef. Soms kry die talentvolle aktrise so swaar dat sy nie weet hoe sy die huurgeld vir haar woonstel in Vredehoek, Kaapstad, gaan betaal nie.

Ons ontmoet haar op ’n Vrydagmiddag by die Vega-ontwerp-en-bemarkingskool in die Kaapse middestad. Die ontmoeting vind plaas kort voor haar les waarin sy jong kinders leer om met selfvertroue te lees – ’n werk wat sy as ’n vrywilliger doen.

Ondanks die maer jare doen sy haar bes om moedig te bly en sy vertel met rou eerlikheid van haar swaarkry.

Einde November het sy op Facebook geskryf dat “God na sy kinders kyk en vir hulle sorg” toe dit broekskeur gaan. Dorette het toe in haar inskrywing onthul: “ ’n Baie liewe vriendin het nou my deurklok gelui om my middagete af te laai nadat sy my vrieskas vol gemaak het met hoender en kruideniersware om my deur die moeilike tye te kry. Ek is so dankbaar vir elke seën wat ek daagliks van vriende en familie ontvang.”

Talle mense wat haar inskrywings sien dat “dit nie so goed gaan nie”, bied hulp aan, vertel Dorette nou.

“Mense help my gereeld met kontant in my rekening, ’n bord gekookte kos of kospakkies,” vertel sy. Selfs winkels wat kort voor Kersfees van haar Facebookplasings gehoor het, het hulp aangebied. “Ek en my dogtertjie het ’n R1 000-koopbewys by ’n winkel langs die R44-pad gekry om Kersinkopies te doen.”

‘Om jouself te verloën is ook nie meer ’n opsie nie’.
Dorette by haar modeldogter. Dorette vertel sy het
Dorette by haar modeldogter. Dorette vertel sy het vanjaar goed op skool gevaar al het hulle swaargekry.

In Desember kon sy danksy ’n weldoener haar woonstelhuur betaal, maar sy erken met ’n wrang glimlag: “Ek het geen idee hoe ek Januarie se huurgeld gaan bybring nie.

“Maar ek weet dit sal betaal word. Elke dag bied iemand my klein werkies aan.”

Sy kon tot dusver nog elke maand die mediesefondspremie vir haar en haar negejarige dogtertjie dek, maar erken “af en toe help iemand om my maandelikse motorpaaiement te betaal, anders verloor ek my motor”.

Dorette vertel mense herken haar steeds op straat as die “yskoningin Susan”, die sekretaresse van Chris Edwards, wat deur die akteur Eckard Rabe gespeel is in Egoli. Sy het in 1997 in dié sepie naam gemaak. “Dis lekker as mense nog belangstel,” sê sy hieroor, maar bieg: Ná net vier maande op die Johannesburgse stel van Egoli wou sy bedank.

“Jy het ses dae per week geskiet. Ek het glad nie ’n lewe gehad nie,” onthou sy. “Die salaris van R6 400 per maand was ook te min en die huurgeld te duur.”

Ná ’n jaar het sy die sepie gegroet, en toe moes sy as vryskut begin oorleef. Sy was onder meer in 2003 in die kykNET-reeks Plek van die Vleisvreters te sien en het van 2007 tot 2009 in die e.tv-sepie Rhythm City gespeel.

Sy was ook van 2006 tot 2008 die aanbieder van die geselsprogram Glitterati op kykNET. Verlede jaar het sy die karakter Chandré in die fliek Thys & Trix gespeel. Die werk het al in 2015 begin opdroog, onthou Dorette, maar 2018 was beslis vir haar die “moeilikste jaar”.

“Verlede jaar het genoeg teleurstellings gehad. Om nie ’n mens se huur te kan betaal, petrol in jou kar te gooi en kos te kan koop nie is vernederend en swaar om alleen te verwerk. Ek het ’n loopbaan in verwerping vir myself gebou en is klaar daarmee,” laat sy vasbeslote hoor.

Zak Hendrikz en Dorette in ’n toneel uit die 2018-fliek Thys & Trix. Foto: The Film Factory South Africa

Sy het al met die jare werk van die hand gewys, erken Dorette. “Ek is klaar daarmee om rolle te vertolk wat teen my morele waardes en beginsels indruis net om te probeer oorleef. My dogtertjie is nege jaar oud en ek het ’n verantwoordelikheid teenoor haar om beter besluite vir ons toekoms te neem.”

Sy sê dis nie maklik nie, “maar om jouself te verloën is ook nie meer ’n opsie nie”.

Hierdie einste houding het haar reeds in 2015, toe sy skielik sonder akteurswerk gesit het, tot vrywilligerswerk laat wend. “Ek het seker gemaak ek hou my besig,” vertel sy. “My eie swaarkry het my laat besef wat my regtig gelukkig maak, en dit is om vir ander ’n geleentheid te gun om iets van hul lewe te maak.”

In daardie jaar het sy werkswinkels oor basiese filmproduksie vir tieners en klasse oor hoe om voor die kamera op te tree vir internasionale modelle begin aanbied. Later in 2015 het sy ’n klein rol vertolk in die Amerikaanse televisiereeks Black Sails, wat in Kaapstad verfilm is, maar haar karakter het net in een episode verskyn.

In 2016 het sy op uitnodiging van die Hope-gevangenisbediening se program vir herstellende geregtigheid in die Brandvleigevangenis naby Worcester vir ses maande waargeneem en bewus geword van die behoeftes onder jeugdige aangehoudenes. Die idee het toe by haar posgevat om ’n program te ontwikkel wat hulle sou kon help om beter lewenskeuses te maak.

“Dit het mense bymekaargebring,” sê Dorette oor Hope Ministries se werk by Brandvlei. “Ek het daar besef hoe gelukkig ek raak wanneer mense regtig bly is om my te sien.” 

Uit haar waarneming het die idee vir haar volgende projek ontstaan. In Maart vanjaar begin haar maatskappy, Dorette Potgieter Productions, met die produksie van Kans, ’n dokumentêre prent wat op vanjaar se kykNET Silwerskermfees in Kaapstad vertoon sal word. Sy is hierdie keer agter die kameras as mederegisseur en -vervaardiger van dié prent oor jong gevangenes se lewe in die Pollsmoor-gevangenis buite Kaapstad, asook hul lewe ná vrylating. 

Sy hoop om nog een van haar vrywilligersprojekte, Film 4 Offenders – ’n opleidingsprogram vir jong gevangenes tussen die ouderdomme van 18 en 26 in digitale media, kreatiewe skryfkuns, filmproduksie en toneelspel voor die kameras – van stapel te stuur sodra die projek die nodige befondsing kry.

Dorette (middel) saam met Hannes Muller en Cintaine Schutte op die stel van die reeks Die Kasteel. Dorette sê sy het dié rol aanvaar om die pot aan die kook te hou. Foto: kykNET

“Wat ek nou doen, het ’n bietjie meer integriteit as ’n rol in ’n televisiereeks,” sê sy oor haar bemagtigingswerk. Maar omdat dit vrywilligerswerk is, hou dit nie die pot aan die kook nie. Haar laaste groot rol was as die oudskoonheidskoningin Tina-Marie de Wet in die kykNET-komediereeks Die Kasteel.

Toe sy die rol kry, het sy en haar dogtertjie vir drie maande, van Oktober 2017 tot Januarie 2018, sak en pak na Johannesburg getrek. “Ek het die werk letterlik gedoen om my huur te betaal. Ek het my gat afgewerk sodat mense kan lag,” spot sy oor dié rol in die komedie.

Toe die verfilming verby was, het Dorette en haar kind teruggetrek Kaap toe. “Sy was in ’n kort rukkie by drie verskillende skole,” vertel sy, maar voeg dan by dat haar dogter die jaar tog met spoggerige skooluitslae afgesluit het. “Ek dink dis haar ma wat so oulik is,” terg sy.

Dorette se verhouding met haar dogter se pa, die sanger Riku Lätti, het in 2011 tot ’n einde gekom nadat hulle in 2005 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn ontmoet het.

“Maar ek gun my dogter dit om hom te sien. Ons is respekvol en vriendskaplik met mekaar,” sê Dorette oor hul verhouding.

Haar ouers, Barbara en Org (albei 74), bly in die noordelike voorstede van Kaapstad en albei is vryskutboekredigeerders. Sy vertel daar is nie juis tyd vir ’n man in haar lewe nie.

“As ’n man saam met my wil wees, moet hy bereid wees om saam met my ’n pad met God te stap.”

Sy glo ook haar swaarkry het haar nader aan haar Skepper gebring. “Wanneer dinge te veel raak, los ek dit by Sy voete.”

En sy glo die rolle sal weer kom.

“Ek is ’n gebore aktrise; dis in my bloed en ek sal altyd op soek wees na die een hoofrol wat my vermoë tot sy reg laat kom. Daai dag sal aanbreek. Ek gaan nie ophou probeer nie.”

Dan voeg sy moedig by: “Al het ek nie ’n sent in my beursie nie en nie ’n broodjie in my kas nie, sal ek nooit in sak en as wees nie.”