Die ma van twee, wat in 1990 as Mej. Suid-Afrika gekroon is, sê sy het geen idee waar en wanneer sy haar nek seergemaak het nie. 

View this post on Instagram

“There is strength in your softness.” Dhiman

A post shared by Suzette van der Merwe (@suzettevandermer) on

"Ek het in Januarie net een oggend wakker geword met spierspasma in my linkerblad. Ek het gehoop dit gaan weg met ’n goeie massering, maar dit het net erger geword. Dit het later na my nek, skouer, arm, hand en selfs linkerboud beweeg," vertel Suzette (50) aan Huisgenoot. 

Sy het onlangs in ’n Instagram-inskrywing foto’s van haarself in die hospitaal gedeel en skryf: "Ek is so dankbaar om te sê ek is sonder pyn ná maande se ongesonde oor-die-toonbank-medikasie, en ek sien weer uit na ’n gehaltelewe". 

"Die medikasie het net tydelike verligting van drie tot vier uur gebring en dis natuurlik baie ongesond," sê sy. 

"Ek het verlede week een oggend op pad werk toe begin huil van die pyn en was naar. Ek het omgedraai huis toe en in die bed geklim."

"Ek is dieselfde dag vir ’n MRI-skandering by ’n ortopediese chirurg wat onmiddellik uitgewys het waar my senuwee skade het. Hy het ook aangebied om die dag ná die nasionale verkiesing by die Life Faerie Glen-hospitaal in Pretoria te opereer.

"Ek was so dankbaar! Ek dink hy kon sien ek was so te sê in trane en kon nie meer uithou nie," voeg sy by. 

Volgens Suzette is haar arm en rug vry van pyn, maar haar lyf is nog effens seer en haar nekspiere is swak en styf. 

"Ek doen elke oggend fisioterapie om my spiere te versterk en probeer met ’n sagte nekstut rus," sê sy.

Ná ’n aand in die hoësorgeenheid is die ma van twee huis toe en sê sy sy sal nooit weer haar gesondheid as vanselfsprekend aanvaar nie.

"Ek het ook nuwe respek vir mediese personeel en kan nie genoeg dankie sê vir die behandeling wat ek voor, tydens en ná die operasie ontvang het nie."