Roscoe Rilee Rossouw is Sondag gebore, twee weke vroeër as beplan, vertel Marike aan Huisgenoot.

“Rilee was nog in Engeland. En dit was Saterdag my ooievaarstee,” vertel sy.

Marike het die vreugdevolle tyding van Roscoe se geboorte op Instagram met haar meer as 8 000 volgelinge gedeel.

“So, die kleinman het besluit om gister sy opwagting te maak terwyl sy pappa steeds in Engeland is,” het sy op Instagram geskryf.

“Gelukkig het pappa vanoggend gekom. Welkom in die wêreld, Roscoe Rilee Rossouw. Jy is so gelief,” het sy verder by skattige foto’s van hul pasgebore baba geskryf.

Marike is vroeg Sondagoggend in ’n hospitaal in Bloemfontein opgeneem toe sy begin kraam en klein Roscoe is twintig voor nege die oggend met ’n keisersnee gebore.

“My ma was saam met my in die teater en ons het toe die geboorte vir Rilee ge-Facetime. So hy het heeltyd met my gepraat,” sê Marike wat aan die begin van Augustus van Engeland teruggekeer het.

“Hy (Roscoe) was sommer baie haastig.”

Rilee, wat eers volgende week na Suid-Afrika sou reis, kon Maandagoggend by sy gesin aansluit ná hy van Engeland af gevlieg het. “Hy het so gesukkel om ’n vlug te kry dat hy eersteklas moes vlieg.”

Marike, wat nog in die hospitaal is, sê dit gaan goed met haar en Roscoe, wat 3,2 kg weeg. “Dit klink dalk groot, maar hy is so klein,” koer sy liefdevol. Hulle sal na verwagting môre ontslaan word.

Sy sê haar en Rilee se driejarige dogtertjie, Robyn, is net so opgewonde oor haar nuwe boetie. “Sy was saam met my skoonouers toe hulle vir Rilee op die lughawe gaan haal het en sy kon nie wag om haar nuwe boetie vir hom te wys nie.”

Rilee, wat oorspronklik van Bloemfontein af kom, het in Januarie 2017 ’n kontrak met die Engelse Hampshire County-krieketklub onderteken.

“Ons is net so dankbaar alles is oukei. Alles het net perfek in plek geval en ons is baie trots dat hy hier is. Darem het ons nou ’n lekker storie om eendag vir hom oor sy geboorte te vertel,” sê Marike.