Dewald en sy vrou, Anel, het twee jaar gelede die trotse ouers van ’n seuntjie geword. Hy was ook verlede jaar ’n mentor op die VIA-musiekprogram Die Kontrak en het vroeër vanjaar ’n nuwe album getiteld Elektrisiteit, uitgereik.

Dewald sê hy geniet pa-wees verskriklik baie en sy seuntjie verstom hom elke dag met alles wat hy leer en doen.

“Om ’n pa te wees is amazing, dis die lekkerste ding. Dis ongelooflik wanneer ek hom by die skool gaan haal en hy het nuwe woorde geleer, dan voer hy gesprekkies met my, al kan ek steeds nie uitmaak wat hy sê nie.”

Hy sê ook dis belangrik om tyd te maak vir hom en sy gesin om by mekaar te wees.

“Met optredes benader ons dit beslis anders. Ons doen nie meer toere wat drie weke lank is nie, ons sal een of twee dae weg wees en dan huistoe kom. Ons sorg dat ons saans vertonings doen wat naby genoeg aan die huis is sodat ons net huistoe kan ry,” sê Dewald.

View this post on Instagram

Lekker Dullstroom troue !! #wiidmyvrou

A post shared by Dewald Wasserfall (@dewaldwasserfall) on

Die Kontrak

Die kunstenaars waarvoor Dewald verlede jaar in die VIA-werklikheidsprogram Die Kontrak mentor gespeel het, Ivan Roux en Deidré Barnard, het onderskeidelik tweede en derde in die kompetisie geëindig.

Dewald sê sy belangrikste raad aan hulle was om net hulself te wees.

“Die belangrikste ding wat ek aan hulle gesê was: ‘Wees net jouself, want jy is uniek, daar is klaar ’n Juanita (du Plessis), klaar ’n Theuns (Jordaan) en klaar ’n Steve (Hofmeyr).’ Wees net die beste Ivan, die beste Deidré wat jy kan wees, want daar is nog nie so iemand in die bedryf nie,” vertel Dewald.

Dewald sê aan die begin van sy loopbaan was hy baie onseker oor sy plek in die musiekbedryf, en hy volg self die raad wat hy aan Ivan en Deidré uitgedeel het.

“Namate die jare aangestap het, het ek besef dis maar belangrik om net jouself te wees,” sê Dewald.

Lesse geleer

Hy het self iets van die jonger kunstenaars geleer.

“Ek dink beslis daardie aanvanklike passie kwyn namate die bedryf jou begin afstomp, en dit was wonderlik om dit in hulle (Ivan en Deidré) te sien. Hulle is nog heeltemal vars en honger vir dit. Ek dink ’n mens moet [as kunstenaar] altyd daai honger saam met jou dra.”

Nuwe album

Benewens sy rolle as pa en mentor het Dewald ook tyd ingeruim om musiek vir ’n nuwe album te skryf.

“’n Mens moet regtyd tyd maak om ’n album op te neem, want dit neem regtig baie uit jou uit. Ek het eers die album ’n bietjie uitgestel omdat ek aan Die Kontrak wou werk. En so in die middel van die skryfproses het ek dit vir Arnold Coleske gespeel, en toe sê hy basies vir my dis nie goed genoeg nie.

“Toe het ek alles geskrap en net die beste van die liedjies gehou en nuwe liedjies uit dit gemaak,” sê Dewald.

“Op die ou end het dit my so drie jaar geneem om die album op die rak te kan kry. Ek wou iets skryf met die tema elektrisiteit, want die idee van beurtkrag was heeltyd in my kop”.

Kritiek

Dewald sê ook dis belangrik om kritiek te aanvaar vanwaar dit kom.

“Die mense wat dit vir my gesê het, is al jare lank in die bedryf gevestig en hulle ken goeie liedjies. So as hulle vir jou sê jy is nog nie op die regte vlak nie, dan moet jy dit vat.”

Tans is hy besig met bemarking vir die album, hy beplan ’n nuwe musiekvideo en tree later vanjaar by die Afrikaans is Groot-konserte op.

Dewald beklemtoon hoe belangrik dit vir hom is om tyd weg te neem van sy besige program, en hy sê hoewel hy baie van reis hou, is die lekkerste ding wat hy kan doen om net by die huis te wees.

“Ek en my vrou geniet dit om net absoluut niks te doen nie wanneer ons bymekaar is; ons hou daarvan om net met mekaar te gesels."