Hoor en sien vergaan vir die ma en twee dogters wat styf om die selfoon saambondel. Jy moet behoorlik jou nek rek om te sien wat hulle so vasgenael hou.

Dis maar halfdrie die middag hier in Pretoria, maar die man op die skermpie se oë lyk rooi en moeg. En dis g’n wonder nie, want dis al halftwee die volgende oggend daar by hom in Timaru, Nieu-Seeland. Nogtans herken jy hom dadelik as die akteur wat jare lank die rol van Diederik in 7de-Laan vertolk het.

“Julle lyk so pragtig my liefies, sjoe!” sê die akteur Hennie Jacobs (39) aan die drie vroue in sy lewe.

Vroulief Marissa (44), en hul dogters Nua (11) en Tali (8), straal behoorlik. Die afgelope jaar is hierdie videokuiers ’n daaglikse hoogtepunt vir die Jacobs-gesin, want weens die coronavirus-pandemie het Hennie sy gesin ’n volle jaar laas gesien. Ja, hy was ’n jaar gelede laas by sy vrou en kinders.  

Die drie vorue in Hennie se lewe, Nua (11), Tali (
Die drie vorue in Hennie se lewe, Nua (11), Tali (8) en sy vrou Marissa. Foto: Sharon Seretlo/Gallo Images

Toe Hennie en Marissa besluit het om ’n nuwe lewe in Kiwiland te begin nadat hy sy rol in 7de Laan moes groet, is Hennie in Februarie 2020 vooruit. Bewapen met ’n kursus in vleisverwerking het hy ’n werk as blokman gekry in die dorpie sowat 160 km van Christchurch. 

“Ons was lus vir verandering,” vertel hy.

“Ons wil vir ons kinders meer geleenthede bied. Ons sal altyd Suid-Afrikaners bly, maar die misdaad maak ons moeg.” Marissa voeg by: “As dit nie uitwerk nie kan ons altyd terug kom, maar ons was lus vir ’n avontuur.”

Hennie het dinge daar anderkant begin gereed kry vir sy gesin se koms. Maar toe kom die virus, en daarmee saam internasionale reis- en ander beperkings. En so het ’n jaar verbygevlieg sonder dat hy sy dogters kon vasdruk of sy vrou kon soen.

Kersfees apart was rof, en ook verjaarsdae. Maar die moeilikste vir Marissa was toe haar ouma in Augustus verlede jaar oorlede is.

Marissa vertel sy wil soms net moed op gee en Henn
Marissa vertel sy wil soms net moed op gee en Hennie smeek om terug te kom maar dan dink sy aan hul dogters se toekoms. Foto: Sharon Seretlo/Gallo Images

“Daai was erg. Ek het daardie in die bed geklim en net gehuil. Ek wou so graag vir Hennie by my gehad het . . . Die volgende oggend kom Nua in, maak die gordyne oop, en sê:  ‘Oukei, mamma, jy het nou genoeg gehuil’,” vertel Marissa. 

“Ek probeer regtig nie voor hulle huil nie. Hulle mis ook hulle pappa verskriklik, so ek probeer sterk wees vir hulle.”

“Ons is een van daai gesinne wat alles saam doen. Ons is ’n unit,” sê Hennie vanuit Nieu-Seeland en vee met een hand oor sy gesig.

“Dis erg, maar ons byt vas,” Maar op sosiale media skryf hy roerend oor sy verlange na “toe ek my kinders kon vasdruk, en hulle hare kon ruik. My vrou se hand kon vashou, haar enige tyd kon soen. Ek mis hulle. 

“Ek mis window shopping in Menlyn, koorkompetisies in Centurion . . .  Kos maak, musiek luister, saam lag. Ek mis hoe my vrou wakker word, en nog mooier is as die vorige dag.”

En wanneer hy weer by sy gesin sal wees, bly weens die uitdagings van die pandemie steeds onseker.  

Marissa en Hennie is al 12 jaar getroud. Vir Hennie was dit destyds liefde met die eerste oogopslag, maar Marissa vertel sy het eers die kat uit die boom gekyk. 

“Hennie het my genooi na ’n toneelstuk waarin hy gespeel het. Ek het ook drama geswot en het in die gehoor vir my vriendin gesê: ‘as die ou suck, gaan ek hom nie kan date nie’. En toe’s hy ongelooflik goed!”

Die gesin se besluit om Nieu-Seeland toe te gaan het vir hulle sin gemaak toe Marissa, wat in openbare betrekkinge gewerk het, sowat ’n jaar gelede deur haar maatskappy afgelê is.

Maar sy moes vier maande kennis werk om haar volledige pakket te kry, en Hennie is toe verlede Februarie alleen vooruit, saam met hulle huisraad. Die gesin het selfs vir hul kat en twee honde ander huise gevind.

Marissa en die dogters sou hulle in Mei anderkant die waters by hom aansluit.

“Ons kaartjies was al gekoop, en toe gebeur lockdown. Ons het aanvanklik gesê: ‘toemaar dis net drie weke’, maar toe word dit twee maande . . . en nou’s dit al ’n jaar,” vertel sy.

Die laaste keer wat Hennie sy dogters gedruk het.
Die laaste keer wat Hennie sy dogters gedruk het. Foto: Verskaf

Hier is min persoonlike goed in die huis te sien. Selfs die kinders se speelgoed is vooruit Nieu-Seeland toe. Die dogtertjies in hul eenderse rooi rokkies luister aandagtig. Dan spog Nua met haar troetelhasie, Bella.

“Toe ons haar kry het sy nog ’n naelstring aangehad, tannie. ’n Kat het haar mamma en pappa gevang,” vertel sy. Bella die reddingshasie het ’n welkome nuwe ontvanger van die kinders se liefde geword. 

Hoewel dit nou weer moontlik is om na Nieu-Seeland te reis, is daar nou ander struikelblokke.

Ek moes Hennie bel sodat hy vir my verduidelik hoe om te braai. En ek sal mos nou, wanneer hy daar ver sit, vier pap bande kry!

“Sedertdien sukkel ek om toestemming te kry dat ek en die dogters die land kan ingaan. Ek het al ses keer aansoek gedoen, maar hulle is só streng weens covid-19,” verduidelik Marissa.

In die verre Timaru rig Hennie hul huis in so goed hy kan en wys haar met die selfoonkamera wat hy als aankoop.

“Maar as ek kyk, sit hy die yskas langs ons flippen nuwe mooi banke. I mean, ’n yskas in die sitkamer!” Sy klink verontwaardig, maar haar oë lag. 

Hier in Pretoria probeer sy ook dinge normaal hou. “Ek moes Hennie bel sodat hy vir my verduidelik hoe om te braai. En ek sal mos nou, wanneer hy daar ver sit, vier pap bande kry!”

Sy het die dogters vir aanlyn-onderwys geregistreer. Wanneer hulle nie skoolwerk doen nie, boer hulle in die oord se swembad. 

“Ek dink aan pappa as ons swem. Hy swem altyd saam en ek mis sy simpel liedjies wat hy uitdink,” vertel klein Tali en wring haar vingers saam. 

“Ja, pappa het name vir alles. Ons kar se naam is Mufasa en die creepy crawly is Max. Hy laat ons altyd baie lag,” sê Nua.

Marissa vertel Hennie sal soms, oor video-oproep, saam die dogters pop speel. “Ons speel sommer bordspeletjies so oor die foon ook. Ek en Hennie praat twee of drie keer per dag, al is daar ’n 11 ure tydsverskil.

“Gelukkig is hy ’n naguil. Hy en die dogters praat ook meer as een keer per dag.” 

Die gesin praat meer as een keer per dag met Henni
Die gesin praat meer as een keer per dag met Hennie maar die verlange knaag. Foto: Sharon Seretlo/Gallo Images

Dis die alledaagse doendinge met sy gesin wat hy die meeste mis, beaam Hennie.

“Saam my kinders speel of koffie maak vir my vrou in die oggend. ’n Soen om totsiens te sê. Daai dinge. Maar ons is oortuig dis die regte besluit om te emigreer.”

Hennie het reeds bevordering in sy nuwe werk gekry. Hulle vrees hy sal nie kan terug keer as hy in Suid-Afrika kom kuier nie. Marissa is ook op soek na werk in Nieu-Seeland om ’n visum te bekom. Maar dit bly swaar.

“Soms raak mens baie hartseer,” erken Hennie.

Marissa het selfs al gesmeek dat hulle die Nieu-Seelandse droom laat vaar. “Dan sê hy, kom ons praat more oggend . . . En dan het ek weer moed, want ek weet dis die beste besluit,” vertel sy. 

Sy wys ’n video waar Hennie in Nieu-Seeland sy kersgeskenke oopmaak. Hy sluk duidelik hard aan die trane, maar is omring deur Suid-Afrikaanse vriende wat hy daar gemaak het.

“Ek kan sien my man is gelukkig. Natuurlik mis hy ons, maar dis asof daar ’n las van sy skouers af is. Hy sê vir my dit is bevrydend om nooit aan misdaad te moet dink nie,” sê Marissa. 

Hy sluit af: “Ons bly hoop en glo  . . . Ons vier is ’n baie tight unit, en ek weet dat alles oukei sal wees omdat ons so lief is vir mekaar.”

Hennie het die liedjie destyds vir Marissa geskryf. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe