Sy het op 10 Augustus die ergste pyn in haar lewe verduur toe sy ’n abses so groot soos ’n gholfbal laat verwyder het, berig US Weekly

In ’n video wat sy Vrydag op haar nuwe musiekgroep, The Soundflowers, se Instagram-blad geplaas het, het Michael Jackson se dogter gesê: “Lang storie kort; ek is gister geopereer.”

Sy het voorts gesê sy het ’n abses wat amper so groot soos ’n gholfbal is, laat verwyder en bygevoeg ’n abses kan septies raak en jou dood veroorsaak, berig People.

“Maar ek is nie dood nie,” het sy die groep se bewonderaars verseker. “Hulle het onmiddellik geopereer.”

Die operasie was baie pynlik, vertel Paris. “Ek was wakker deur dit alles en dit was beslis die meeste pyn wat ek al in my hele lewe ervaar het, as jy in ag neem dat ek van kop tot tone in tatoes bedek is. Maar ek leef.” 

Volgens eMedicineHealth is ’n velabses ’n gelokaliseerde versameling stof wat ontwikkel as gevolg van ’n infeksie onder die vel.

Sy moes baie medikasie gebruik vir die pyn wat sy na die operasie verduur het, vertel Paris, en moes nie eers die bed verlaat het nie.

Tog was dié ster van die fliek Gringo ’n dag later terug op die verhoog om saam met haar musiekgroep, The Soundflowers, by ’n fondsinsamelingskonsert vir kankerlyers op te tree, berig InStyle.

Daar was boonop ’n spesiale gas in die gehoor – haar ouma Katherine Jackson (88). “Ek is so verlig sy het dit nie gehaat nie en dat sy eintlik daarvan gehou het,” vertel Paris.

“Dit beteken die wêreld vir my.”

Bronne: US Weekly, eMedicineHealth, InStyle, People, USMagazine.com