Volgens Kensington-paleis sal prins George (4) en prinses Charlotte (2) se kleinboet se naam Louis Arthur Charles wees. Sy titel sal wees sy koninklike hoogheid prins Louis van Cambridge. 

Sedert die geboorte van Kate en William se prinsie was die Britse media en publiek in rep en roer oor wat die jongste toevoeging tot die koninklike gesin se naam sal wees. 

Volgens The Sun was name soos Arthur, Albert, Philip, James en Edward die gewildste keuses. Wills en Kate se keuse, Louis, is dus ’n groot verrassing. Agttien konings in Frankryk het Louis geheet.

Kate het Maandag in die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, aan hul derde spruit die lewe geskenk.

Die paartjie vier op 29 April hul sewende huweliksherdenking.