"Have yourself a merry little Christmas, let your heart be light..."

So lui dié gewilde Kersliedjie se woorde - 'n pragtige musikale voorneme om die feestyd sorgvry te geniet. As dit maar vir almal so kon wees.

Die realiteit is dat die feesseisoen vir baie mense 'n depressiewe tyd van eensaamheid, hartseer en verlange is.

Ek self ervaar dit ook. In teenstelling met die feesvreugde, voel ek soveel meer akuut die ander kant van festive blues. Menige familiesterfte die afgelope paar jaar maak feestyd besonder somber soos wat die afwesigheid van geliefdes swaar op gemoedere lê. En ek is beslis nie alleen nie. Ek hoor by sommige mense dat dit vir hulle die tyd van die jaar is wat hulle die minste geniet. 

Ek het wel die afgelope paar jaar, deur my eie strewe na genesing, geestesgesondheid en geluk, 'n paar nuttige lewenslesse opgetel wat ek dink die moeite werd is om te deel. 

Hiermee dan my "Emotional Survival Guide to the Silly Season" in sewe stappe:

1) Wat ook al die rede vir jou blues, besef dit is oukei is om nie oukei te wees nie.

Jy hoef vir niemand voor te gee nie, veral nie jouself nie. Selfs in jou blues is jy genoeg, net soos wat jy is. Jou gevoelens is geldig. 

2) Gee jouself toestemming om eenvoudig te voel wat vra om gevoel te word. 

Gee sonder oordeel uiting aan jou emosies. Rou as dit moet. Ek belowe jy is sterker as wat jy dink, al is dit hoe skrikwekkend. Wat my by die derde punt bring:

3) Leer die krag van die towerwoord - transmutasie.

Ek werk die afgelope paar maande met 'n tantriese praktisyn. Deur ons sessies het ek geleer dat elke emosie 'n energie-frekwensie het. Ontken jy jou emosies, veroorsaak dit versteurings in die liggaamsenergie, wat in stres en allerhande fisieke kwale manifesteer. Elke "negatiewe emosie" het ook 'n positiewe emosionele teenpool. Ek het ervaar soos wat ek die negatiewe emosies hanteer en daaraan uiting gee, beweeg en transformeer die energie en kon ek begin om ruimte te skep vir meer verfynde positiewe energie. 

4) Beoefen selfsorg in jou stiltetyd.

Maak genoeg tyd om alleen te wees. Ek vind dit help geweldig om te mediteer, te bid, 'n dagboek te hou, en om te lys waarvoor jy elke dag dankbaar is. 

Oefen; stap in die natuurskoon werk vir my die beste. Sluit aan by 'n joga-studio. Eet gesonde kos. Dis brandstof vir jou liggaam. 

5) Leer hoe om slim te sosialiseer.

Beperk tyd met mense wat jou energie negatief beïnvloed. Skaar jou by diegene wat jou stimuleer en verryk. Weet wanneer jy verkies om alleen te wees, en wanneer dit beter is om met ander se teenwoordigheid ondersteun te word. 

6) Beperk stimulante en drank.

Die feestyd is sinoniem met oordaad en gaan gewoonlik gepaard met baie kuiery. Alkohol of dwelms help geensins om die blues te bekamp nie - inteendeel. Baie mense berou ná die tyd hul gedrag terwyl hulle onder die invloed was. 

7) Kry perspektief deur jou fokus te verskuif.

Jy raak bewus van jou voorregte en jou seëninge wanneer jy besef daar is diegene wat dit erger as jy het, mense wie se omstandighede jou probleme verdwerg. Liefdadigheidswerk gee jou daardie geleentheid. Dit kan enigiets wees, wees kreatief met jou tyd en talente - samel Kersgeskenke in vir weeskinders, voed die haweloses, doen vrywilligerwerk by 'n NRO. My gunsteling? Hou konsert by 'n ouetehuis. Ervaar geluk deur vir ander geluk te bring. 

***

Hierdie lys is eintlik van toepassing op enige tyd van die jaar, maar ek vind dit besonder doeltreffend gedurende die feestyd. 

Ek besef al hoe meer dat geestesgesondheid nie 'n vinnige oplossing het nie, want dit verg 'n daaglikse praktyk van verantwoordelikheid neem vir jou eie gemoed. Dat 'n betekenisvolle bestaan 'n toewyding tot selfverbetering is. 

In my persoonlike ervaring . . . Ek hoop die dae van mense eenvoudig "liefde en lig" toewens, is verby. Dit is moontlik om nuwe lewensvaardighede en gewoontes aan te leer. 

Dit is moeilike werk vir diegene wat dapper genoeg is om dit aan te pak, maar die goeie nuus is dat dit nie nodig is om alleen te sukkel nie. Psigoterapie is 'n goeie beginpunt, en dan is daar ook diegene wat hul lewens daaraan wy om ander te leer om hulself te genees. Hulle is die lightworkers van hierdie wêreld.

Die Weste raak al hoe meer bewus van die belangrikheid van die verskillende genesingsterapieë wat hierdie lightworkers gebruik. Ek het verlede feesseisoen in Indië daarmee kennis gemaak en dit maak sedertdien 'n groot deel van my bestaan uit.

Op die ou end is dit 'n persoonlike saak. Elkeen moet sy eie proses vind en verfyn. Dit verg tyd, toewyding en geduld. Ek is net so dankbaar dat ons by en van mekaar kan leer. 

Ek sluit af met 'n gunsteling-gesegde in die guru Ram Dass se woorde: "We're all just walking each other home."

Nou ja toe. Mooi loop. 

- Lynelle Kenned