Die 39-jarige popster het Sondag haar verlowing aan haar kêrel van vyf jaar, Sam Asghari (27), op Instagram aangekondig. 

Die nuus kom nadat Britney se pa, Jamie (69), aansoek gedoen het om sy kuratorskap te beëindig - dit het hom 13 jaar lank beheer oor sy oudste dogter se persoonlike en beroepslewe gegee.

Britney het in Junie ’n pleidooi in die hof gelewer om die kuratorskap te beëindig en gesê sy wil met Sam, ’n Irannese fiksheidsinstrukteur, trou en dat sy ’n baba by hom wil hê. 

Die Grammywenner het bygevoeg sy is nie toegelaat om haar voorbehoedingstoestel te laat verwyder nie. Ná Jamie se besluit om opsy te staan, sê regskenners Britney kan dalk oor ’n paar weke vry wees om sonder haar pa se toestemming te trou.

Maar pleks van om hul opgewondenheid vir die sangeres uit te spreek, het sommige van haar aanhangers ’n beroep op haar gedoen om te verseker haar verloofde teken ’n voorhuwelikse kontrak. 

“Britney het al soveel deurgemaak,” het een aanhanger gesê. “Sy moet haarself op elke manier beskerm.”

Selfs die aktrise Octavia Spencer het haar mening gelug. “Laat hom ’n voorhuwelikse kontrak teken,” het sy laat hoor. Sam het later op Instagram Story gespot met diegene wat sy verloofde aanraai om haar fortuin te beskerm.

“Dankie, almal is bekommerd oor die voorhuwelikse kontrak. Natuurlik gaan ons ’n waterdigte kontrak kry om my Jeep en skoenversameling te beskerm in geval sy my eendag los.”

Volgens ingeligte bronne is Britney vasbeslote om hierdie keer slim te werk te gaan. Haar regspan is reeds besig met ’n voorhuwelikse kontrak om haar fortuin van sowat R840 miljoen te beskerm.

Die troue sal die sangeres se derde wees. Die "Toxic"-sangeres se eerste was ’n kitshuwelik in Las Vegas met haar kindertydse vriend Jason Alexander in 2004 wat net 55 uur geduur het.

Jason (39) het later aan ABC News vertel Britney se ma, Lynne (66), en haar bestuurders “het kop verloor omdat daar geen voorhuwelikse kontrak was nie”.

Toe sy enkele maande later met die agtergronddanser Kevin Federline (nou 43) trou, het sy haarself met ’n waterdigte voorhuwelikse ooreenkoms van 60 bladsye beskerm.

Die paartjie het twee seuns, Sean (16) en Jayden (15), maar die huweliksbootjie het gekantel. Britney het in November 2006 om ’n egskeiding aansoek gedoen en dit het tot ’n bitter toesigstryd gelei.

Hopelik het die popprinses se derde probeerslag ’n gelukkige einde. 

Jamie is nie beïndruk

Britney en Sam het mekaar ontmoet toe hy die manlike hoofrol in Britney se 2016-musiekvideo vir "Slumber Party" gekry het.

Gerugte van ’n romanse het begin nadat Sam ’n selfie op Instagram gedeel het van hulle twee op ’n afspraak in November 2016. “Britney se pa hou glad nie van die ou nie,” het ’n bron in Desember 2016 gesê.

“Hy is bekommerd dat Sam agter haar geld aan is.” Sam het vroeër vanjaar gewys hy het ook nie veel ooghare vir Jamie nie toe hy sy toekomstige skoonpa op Instagram daarvan beskuldig het dat hy beheersugtig is. 

“Dis belangrik dat mense verstaan ek het geen respek vir iemand wat ons verhouding probeer beheer en gedurig struikelblokke oor ons pad wil bring nie,” het Sam geskryf. 

Britney en Jamie Spears. Foto: Britney se instagram


Gretig vir ’n gesin 

Met vryheid wat wink sonder haar pa se kuratorskap sien die paartjie uit na hul toekoms saam. “Britney het met Sam gepraat oor babas en sy hoop om ’n dogtertjie te kry,” vertel 'n bron.

“Sy was jonk toe sy vir Sean en Jayden gehad het, en voel nou baie meer volwasse.”

BRONNE: BELFASTTELEGRAPH.CO.UK, USMAGAZINE.COM, PEOPLE.COM, CBSNEWS.COM, DAILYMAIL.CO.UK, PAGESIX.COM, TMZ.COM, BUSTLE.COM, NYPOST.COM