Linda Lewis
Patrica sê Linda was haar grootste ondersteuner – al sedert sy ’n jong dogtertjie was. Foto: Facebook/Patricia Lewis

Sy was nog lank nie gereed om totsiens te sê nie, sê die sangeres Patricia Lewis net 'n dag nadat haar ma, Linda Lewis, Sondag in die ouderdom van 73 dood is. 

Patricia het dié nuus Maandag bekend gemaak.

Sy sê haar ma, ’n oudstadsraadslid van Johannesburg, het ’n 12 jaar lange stryd teen Alzheimersiekte verloor. 

“Haar lang emosionele wipwarit en lang stryd teen Alzheimersiekte het eindelik tot ’n einde gekom,” het Patricia Maandagoggend in die sosiale media geskryf. “Ons is baie dankbaar dat die einde pynloos en vreedsaam was.”

Linda Lewis
Linda Lewis. Foto: Patricia Lewis/Facebook

Die sangeres het haar ma beskryf as ’n “kosbare engel” en ’n “geliefde en gerespekteerde moeder en vrou.”

Al moes sy jare lank toekyk hoe haar ma se gesondheid drasties versleg, was sy nooit voorbereid daarop om afskeid te neem nie, het Patricia geskryf.

“Ons sou nooit, ooit gereed kon wees om totsiens te sê aan hierdie ongelooflike vrou nie. Ons harte is gebreek, maar ja – ons vind troos daarin dat ons eendag almal met haar en al ons geliefdes herenig sal word.”

Patricia het voorheen vertel haar ma was nog altyd haar grootste ondersteuner. Want al het hulle as kinders in ’n middelklashuis en -buurt gewoon, was dit altyd Linda wat haar aangepor het om haar drome na te jaag – selfs al het dit by tye onmoontlik gelyk.

Linda Lewis
Linda het 12 jaar lank teen Alzheimersiekte baklei. Foto: Facebook/Patricia Lewis

In Maart 2020 het die sangeres ook vertel hoe sy tien jaar gelede besluit het om briek aan te draai – om vir haar seun, Max, ’n betrokke ma te kon wees, maar ook om haar eie ma in haar Alzheimerstryd te kon bystaan.

Sy wou nie toe oor Linda se siektestryd uitwei nie – dit was vir hulle privaat – maar het vertel hoe sy gereeld terugkyk en dankbaar is vir die tyd wat sy in die laaste jare saam met haar geliefdes kon deurbring. 

“Dit was nie ’n opoffering nie,” het sy nog gesê. “Dit was ’n voorreg.”