Toe Philip Snyman so 25 jaar gelede nog ’n kennetjie op die Vrystaatse platteland was, het sy pa, Flip, die Hoërskool Philippolis se eerste rugbyspan afgerig.

“Ek is altyd saam oefeninge toe,” vertel hy. En daar, terwyl hy as klein seuntjie die spelers dopgehou het, het sy hart warm begin klop vir dié sport.

“Ek was vyf toe Philippolis se o. 9A-span nie genoeg spelers gehad het nie, en so begin ek toe vir hulle skrummie speel.”

Skrumskakel op vyf ? Enigiemand sou kon sien hier is ’n merkwaardige talent aan’t kop uitsteek.

En inderdaad, vandag as 30-jarige is Philip een van Suid-Afrikaanse rugby se goue seuns.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Philip duik oor die doellyn tydens die Kaapse sewestoernooi in 2015. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy was lid van die Blitsbokspan wat in 2009 die Wêreldreeks-titel verower het. Verlede jaar was hy saam met die span op die Olimpiese Spele in Rio. En nou is hy die kaptein wat volgens alle aanduidings besig is om die sewesspan na nog ’n Wêreldreeks-titelsege te lei.

Met nog net twee toernooie oor lyk dit asof hul oorwinning ’n uitgemaakte saak is.

Party mense noem dit die Blitse se beste seisoen nog. Voeg daarby dat Philip en sy blondekopvrou, Esteé, ’n mediese dokter, se eersteling op pad is, en ’n mens kan verstaan hoekom hy in sy huis op ’n landgoed buite Stellenbosch so breed sit en glimlag.

Foto’s: Jacques Stander
Philip en Esteé Snyman tuis. Foto: Jacques Stander

“Mense vra ons wat ons hierdie seisoen anders gedoen het, maar ons bou al vier jaar aan so ’n ideale seisoen, en al daardie harde werk begin nou bloot vrug dra,” gesels Philip rugby by sy huis.

Sy rugbyloopbaan was van vroeg af reeds opwindend. Nie net was hy as vyfjarige op Philippolis reeds in dieselfde o. 9-span as Adriaan Strauss, wat later Springbokkaptein sou word, nie; hy het ook in latere jare vir die Bloemfonteinse spogskool Grey-kollege uitgedraf en eindelik lank vir die Cheetahs se vyftienmanspan gespeel.

“Maar ek kan nie aan ’n dag dink dat ek ongelukkig was oor my besluit op ’n heeltydse seweskontrak nie.” Dié besluit het beteken hy moes na die Boland verhuis; die Blitsbokgroep se voortreflike slypsentrum is in die Stellenbosch- sportakademie gehuisves.

Sewesrugby begin toenemend die erkenning kry wat dit verdien, sê Philip.

Foto’s: Jacques Stander
Sy gereedskap vir koffie volgens die Japannese sifonvakuumresep. Hy snuffel graag interessante koffies en broumetodes uit. Foto: Jacques Stander

“Die opkoms by stadions en mense wat hul span rondom die wêreld volg, wys hoe ’n gewilde en vinnig groeiende spel sewes geword het, veral sedert dit as Olimpiese sportsoort bekend begin raak het. Die broeder- en kameraadskap dra baie by tot ons sukses. Almal is baie geheg aan mekaar. Ons is soos ’n familie en doen in ons vrye tyd ook baie dinge saam.”

Hul afrigter, Neil Powell, skroom ook nie om, waar moontlik, kenners van buite te benut nie en is baie oopkop oor hoe sy span by tegnieke uit ander sportsoorte kan baat vind, vertel Philip.

Sonder voldoende balbesit sou die Blitse byvoorbeeld nie die wêreld op soveel aanskoulike drieë kon trakteer nie. En om hulle te help om daardie balbesit by afbreekpunte te bekom, “vorm stoei lankal ’n belangrike deel van ons voorbereiding. Neil het gestoei toe hy jonk was, en dit het later baie vir sy sewesloopbaan beteken. Dit gaan nie noodwendig oor hoe sterk jy is nie, maar oor tegniek en fokus. Ons het dalk nie die grootste spelers nie, maar sulke klein details kan ’n groot verskil maak.”

Philip is een van die groter Blitse, ’n stewige senter en vleuel uit vyftienmanrugby. In die huidige seisoen het hy reeds 13 drieë vir die Blitsbokke aangeteken, party op wedstrydbepalende oomblikke, en 49 in sy Wêreldreeks-loopbaan in die geheel.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Philip in aksie teen Engeland. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar as kaptein kry hy byna net soveel vreugde uit sy spanmaats se prestasies.

“Eintlik is daar vir my niks lekkerders as om te sien hoe speedsters soos Seabelo Senatla of Rosko Specman – ons noem hulle die jockeys – doellyn toe afpak nadat ek by die afbreekpunte ’n bal afgeneem het nie.”

Wat kapteinskap betref, het Philip geweldig baie geleerby Kyle Brown, sy voorganger en vriend wat sedert die begin van die seisoen beseer is. “Dit behels baie verantwoordelikhede, maar ek hoef nie alles op my te neem nie.”

Sy gesellige huis digby Stellenbosch. Foto: Jacques Stander

Ervare spanmaats soos Cecil Afrika help hom baie. “Ek dink nie daar is nog iemand met so ’n sewesbrein soos Cecil nie. Hy is sekerlik een van die topvyflegendes in die spel. Ek maak baie op hom staat.”

Philip was van gr. 3 af ’n koshuisleerder by Grey Kollege, een van Suid-Afrika se voorste kweekplekke vir nuwe sportsterre. Hy het daar gematrikuleer en by Kovsies vir ’n B.Com.-graad in finansiële bestuur begin studeer terwyl hy vyftienmanrugby vir Vrystaat se o. 19-span gespeel het.

Hy en Esteé was in ’n sin hoërskoolliefdes – sy was in die Hoër Meisieskool Eunice net langs Grey. Toe hy hom in 2012 heeltyds op sewes begin toespits en dus Stellenbosch toe moes trek, het hy besluit om haar te wys hoe “ernstig ek oor alles is”.

Foto’s: Jacques Stander
Hy en Esteé is gek oor die buitelug. Foto: Jacques Stander

So sweer hy toe met ’n paar vriende saam om een skemeraand ’n tafel in ’n koringland net buite Bloemfontein gedek te kry. Hy het Esteé soontoe geneem en haar die groot vraag gevra.

Sy moes eers vir haar huisdokterjaar in Bloem agterbly, en hy wou seker maak sy weet hoe hy oor haar voel. ’n Jaar later het hulle trou aan mekaar beloof terwyl hulle oor die Vrystaat se “rooi vlaktes” uitgekyk het.

En die paartjie straal toe Esteé oor die vooruitsig van ouerskap uitwei: “Ons eerste enetjie, ’n dogtertjie, word in Julie gebore. Ons is so opgewonde.”

In sy vrye tyd is Philip nogal ’n koffiefynproewer. Hy versamel ook ’n bietjie wyn, en hulle nooi graag vriende oor vir ’n braai. Jan Scannell, oftewel die Suid-Afrikaanse braaimeester Jan Braai, “eintlik ’n vriend van al die Blitsbokke”, woon net om die draai en stuur soms vancsy geregte oor, grinnik Philip.

Verlede jaar se Olimpiese Spele in Rio sal altyd hoog op sy lys van loopbaanhoogtepunte wees.

“Om ’n eetsaal binne te stap en ouens soos Novak Djokovic en Usain Bolt te sien aansit, laat ’n ou besef hoe spesiaal dié byeenkoms eintlik is, die een geleentheid waarvoor elke sportman en -vrou werk.”

Ná vanjaar se Wêreldreeks sal Philip sy visier op volgende jaar se Statebondspele instel.

Verder sien hy uit na die Wêreldbekertoernooi in San Francisco in dieselfde jaar. Die Amerikaners belowe hulle gaan niks ontsien om dit ’n onvergeetlike geleentheid te maak nie.

Hy is nog tot einde volgende jaar by die Blitsbokke gekontrakteer, “en ons sal dan verder kyk”.

Maar wat hy ook al besluit, hy sal weet hy kon die grondslag help lê om die Blitse een van Suid-Afrika se trotsste sportuitvoerprodukte te maak.