In die glanswêreld van Hollywood waar verhoudings so vlietend soos die speelvak van ’n swak fliek is, is ’n verhouding wat oor dekades strek ’n groter prestasie as ’n Oscar op die rak.

Maar al bly Pierce Brosnan een van die silwerdoek se grootste hartebrekers, het die aantreklike akteur met die Ierse aksent en vonkel in die oog ná jare oë vir net een vrou: sy eie.

Hy het die geheime agent James Bond in vier 007-rolprente gespeel en is tans op die silwerdoek te sien in Mamma Mia! Here We Go Again, waarin hy ’n gewese liefde van Meryl Streep se karakter, Donna, speel.

Al kry hy aandag van vroue waar hy ook al gaan, is hy op 65 nog net so verlief op sy vrou, Keely Shaye Smith (54), as toe hul paaie 25 jaar gelede gekruis het.

Die twee, wat in 2001 getroud is, hou soos verliefde tieners hande vas wanneer hulle gaan fietsry, soos ’n foto wys wat onlangs geneem is.

Anders as soveel ander Hollywood-pare was by hulle nog nie ’n sweem van skeiding of ’n gerug van ’n kullery nie. Hulle is op hul gelukkigste wanneer hulle in mekaar se geselskap is.

Op Kersdag verlede jaar het Pierce ’n ou foto gedeel van hulle twee se eerste Kersfees saam in 1994. Dit was ook die jaar toe hulle mekaar ontmoet het.

En toe die twee onlangs ’n kwarteeu saam vier, het Pierce op Instagram aan Keely, ’n voormalige model en televisieaanbieder, geskryf: “Dankie, my lief, vir die liefde van die afgelope 25 jaar. Vorentoe.”

Die vroeë jare

Die twee het mekaar in 1994 op ’n partytjie in Mexiko ontmoet. Keely het as ’n televisiekorrespondent in die vermaakbedryf gewerk en hy was nog ’n jong akteur.

Pierce het toe gesukkel om die dood van sy eerste vrou, die Australiese aktrise Cassandra Harris, te verwerk. Sy is 1991 in die ouderdom van 41 jaar aan kanker van die eierstokke dood.

Hulle was 11 jaar getroud en het ’n seun, Sean (nou 34), saam.

Jare later het Pierce erken hy het “rondgedobber” toe hy Keely ontmoet. “Ek het my vrou verloor en was drie jaar lank ’n wewenaar.”

Sy ontmoeting met Keely het hom sy pad na geluk help terugvind. En sy was smoorverlief. “Hy was vir my bekoorlik,” het sy later aan die tydskrif People gesê.

“Lank, donker en aantreklik, alles waartoe almal dadelik aangetrokke sou wees. Hy het ’n ondeunde vonkel in sy oë gehad. Ek het gedink: Sjoe!” het sy gekoer.

Van hul eerste ontmoeting vertel hy hy onthou ’n “beeldskone vrou” het by die deur ingestap. Hulle het hul eerste afspraak ’n paar dae later gehad en halsoorkop verlief geraak.

Toe sy loopbaan op dreef kom en hy in 1994 die rol van James Bond kry, kon hy dit nie verduur om weg te wees van haar nie.

Die paartjie by hul seuns, Dylan (21, links) en Paris (17).

“Oral waar ek in die wêreld gegaan het, het ek na haar verlang,” sê hy. “Ek het vir haar vliegkaartjies gestuur sodat ons saam kon wees. Ons was net perfek vir mekaar.”

Die twee se eerste seun, Dylan, is in 1997 gebore, en hul tweede, Paris, in 2001. Hulle is eers getroud toe Paris ses maande oud was. Hulle het in Pierce se geboorteland, Ierland, afgehaak.

“Ek het ’n wonderlike vrou in Keely Shaye gevind,” het hy kort daarna gesê. “Al het ek tot aan die einde van die aarde gesoek, sou ek nie so ’n goeie vrou gevind het nie. Sy het ’n krag waarsonder ek nie sou kon leef nie.”

Die donker tye

Pierce het in 2013 op die sterk Keely se krag gesteun toe Cassandra se dogter uit ’n vorige verhouding, Charlotte (toe 43), dood is aan dieselfde siekte wat haar ma se lewe geëis het. Hy het Charlotte as sy eie kind grootgemaak.

“Ons hart is swaar met die verlies van ons liewe pragtige dogter,” het Pierce destyds gesê. “Ons bid vir haar en dat ’n genesing vir die ellendige siekte binnekort gevind sal word.”

Pierce by sy eerste vrou, Cassandra, wat aan kanker dood is, hul seun, Christopher, en dogter, Charlotte, wat ook aan kanker oorlede is.

Drie jaar later het die “ellendige siekte” nog iemand na aan hom getref, sy jare lange vervaardigervennoot, Beau St. Clair. Weer was dit Keely wat hom gehelp het om die verlies te verwerk.

Beproewings soos die dood van sy geliefdes het daartoe gelei dat Pierce soms deur donker tye gaan. “Ek sien nie die glas halfvol nie, glo my,” het hy eenkeer gesê. “Die donker, melancholiese Ierse swart hond sit van tyd tot tyd langs my.”

Die goeie tye

Ná die hartseer wat hulle beleef het, bring die twee deesdae goue jare saam deur. Pierce en Keely verdeel hul tyd tussen hul huis in Malibu, Kalifornië, en ’n huis wat hulle jare gelede op die Hawaise eiland Kauai gekoop het. “Ons wou altyd wegkom, toe kry ons dié plek. Dis ’n klein drieslaapkamerkothuis teen die water,” sê Pierce.

“Dis die betowerendste plek en die lewe hier is eenvoudig. Ons het ’n pragtige ‘tuin van Eden’ en die see is aan my voete. Keely is ’n tuinier en ek beoefen my skilderkuns in my klein grashut op die strand.”

Pierce is ’n talentvolle kunstenaar. Hy het studeer om ’n kommersiële illustreerder te word voor hy hom in die vermaakbedryf begewe het.

Een van sy skilderye, van die sanger Bob Dylan, is in Mei op die jaarlikse amfAR-liefdadigheidsgala in Cannes vir R18,9 miljoen verkoop.

Sy stokperdjie het “ernstiger geraak” en hy sê hy wil graag ’n uitstalling hou.

In Mei vanjaar is een van Pierce se skilderye op die amfAR-­gala in Cannes vir liefdadigheid opgeveil.

Pierce en Keely, ’n omgewingsaktivis, is by verskeie “groen” projekte betrokke, onder meer ’n veldtog om te verhoed dat ’n soutfabriek aan Mexiko se Stille Oseaan-kus gebou word.

Hulle het al die Withuis besoek om ’n pleidooi teen walvisjag te lewer en ’n geldinsamelingspartytjie in Malibu ten bate van ’n diereregteorganisasie gehou.

Vroeër vanjaar het hulle saam ’n ontstellende dokumentêr, Poisoning Paradise, oor die uitwerking van plaagdoderbesoedeling in Kauai uitgereik.

Pierewaaier, maar net op die silwerdoek

Pierce het al van die mooiste vroue ter wêreld, soos Halle Berry (51), Salma Hayek (51) en Rosamund Pike (39), die hof gemaak. Maar dit was alles net vir werk, want hy het bloot voor die kameras teenoor dié skoonhede gespeel.

Anders as met soveel ander akteurs is hy nog nooit agter die skerms in buite-egtelike kaskenades betrek nie. Keely steur haar glo min aan sy vryerige kaperjolle op die silwerdoek.

“Sy noem dit ‘wettige kullery’,” sê hy. “My vrou is baie koel. Sy het ’n goeie humorsin daaroor, ’n goeie sin van wie sy as ’n vrou is en sekerheid en vertroue in my.”

Hy neem sy status as ’n sekssimbool nie ernstig op nie en beskryf dit as “pret, maar ’n illusie”.

In 2010 het hy geskerts hy het sleg tweede gekom toe hy saam met die Twilight-hartebreker Robert Pattinson aan hul rolprent Remember Me gewerk het.

“Ek het glad nie ’n ego oor nadat ek saam met Robert gewerk het nie. Sy woonwa was deur vroue omring; myne was ’n stil klein hawe van verlatenheid,” het die akteur gesê.

Gehaltetyd saam

Met dié dat hy ná soveel suksesvolle rolprente meer as R1 miljard werd is, kan Pierce maklik sy vrou bederf met die beste geskenke wat geld kan koop. Maar dit lyk of hy glo aan die outydse leuse “die beste goed in die lewe is gratis”.

Hy is al aangehaal dat hy gesê het die geheim van sy huwelik is bloot “om mekaar net lief te hê” en gehaltetyd saam deur te bring.

Onlangs het hy vertel: “Ek en my vrou het ’n kort padreis na Santa Barbara onderneem. Ons het vir ’n romantiese naweek weggegaan om na huise te kyk en goeie wyn te drink. Ons het nie musiek geluister nie, maar na die klank van mekaar se stem geluister en die wêreld se sake uitgepraat.” 

Bronne: dailymail.co.uk, goodhousekeeping.com, people.comall4women.co.za, irishmirror.ie, thesun.co.uk

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Great Stock/Backgrid, Instagram/@piercebrosnanoffical