Wie is Pieter-Dirk Uys?

Dis moeilik om te sê, want hy dra alte maklik hoë hakke en vals wimpers en laat sy alter ego, Evita Bezuidenhout, al die praatwerk doen.

Maar in dié uittreksel uit sy nuwe memoires bied hy ’n ongepoeierde kykie na sy lewe terwyl hy oor twee groot gebeurtenisse besin wat hom help vorm het: sy ma se traumatiese selfdood en sy blywende vriendskap met die Italiaanse filmster Sophia Loren.

Pieter beskou Sophia as sy beste vriendin. Al kry hulle ­mekaar nie so dikwels te sien as wat hulle graag sou wou nie, gesels hulle gereeld oor die foon.
Pieter-Dirk vertel . . .

Ek het altyd twee briewe by my. Die een, op ’n amptelike briefhoof met ’n swastika boaan, is in 1935 in Berlyn getik. Dit is aan my ma, Fräulein Helga Bassel, gestuur en sê in swaar, amptelike Duits dat sy nie meer in Duitsland mag klavier speel nie, want sy is ’n Jood.

My ma het die brief geïgnoreer en in 1936 het sy gespeel waar sy wou, selfs die musiek van die verbanne Jood Mendelssohn. Haar vriende was geskok en bang, selfs dié wat nie Joods was nie.

Een van hulle was haar verloofde, dr. Franz Michels, ’n professor in geologie aan die Universiteit van Berlyn. Hy het twee jaar tevore haar ouers Suid-Afrika toe gestuur. Wat kan verder van Nazi-­Duitsland wees as die Kaap die Goeie Hoop?

“Helga, ek kan jou nie langer beskerm nie. Vat jou klavier en gaan kuier vir hulle. Hierdie besigheid sal net ’n paar maande duur.”

Dié besigheid synde die opkoms van Adolf Hitler.

Dus is Helga Bassel en haar Blüthner­klavier per skip na die Kaap die Goeie Hoop.

Die eerste werk wat sy in Kaapstad as beroepspianis gekry het, was ’n uitvoering in die stadsaal: van Mozart se komposisie vir twee klaviere saam met die orkes en ’n Suid-Afrikaanse pianis met die naam Hannes Uys. Ek moet dus twee mense bedank dat ek vandag hier is: Amadeus en Adolf.

Hy het as kind sangtalent getoon en sy ma, Helga, het hom aangemoedig.

Die tweede brief is ’n afskrif van die een wat ma in 1948 aan Franz geskryf en gepos het. Helga Bassel, nou mev. Hannes Uys, vertel waar sy haarself bevind.

“Ek sit in De Waalpark in Kaapstad. Dis ’n pragtige somersdag. Tafelberg staan voor my soos ’n rotsmuur. My driejarige blonde seuntjie, Pieter, speel in die gras met ons worshondjie, Fritz. ’n Bordjie op die bank waarop ek sit, lui ‘Slegs Blankes / Whites Only’. Hoe het ek hier beland vanuit ’n plek wat ‘No Jews / Juden raus’ geskree het?”

Ek het nooit die vrou wat so praat, geken nie. Sy’t selfmoord gepleeg voor ek die moed gehad het om haar te vra.

Vandag het haar gemoedstoestand ’n naam: bipolêr. Vandag is medikasie beskikbaar. Vandag praat mense daaroor. Vandag is dit deel van die lewe. Maar op daardie dag, 26 Mei 1969, was dit die einde van ’n lewe.

Ek en my suster, Tessa, het geweet ma drink pille. Sy het dit “vitamienpille” genoem. Ons het nooit geweet sy is jare lank vir depressie behandel nie. Haar dokter het sterker pille gekry wat haar beslis meer sou help.

Pieter as jong seun.

Die dag toe sy die pille gaan haal, was die dokter op die gholfbaan en sy jong assistent het vergeet om aan mev. Uys te verduidelik dat die nuwe, sterker pille haar aanvanklik eers terneergedruk sal laat voel.

Dit was ’n Maandag en sy moes die oggend ’n klavieruitvoering van Mozart, Schumann en Schubert in die radio­ateljee van die SAUK in Seepunt opneem.

Voor sy ons huis in Homesteadweg, Pinelands, verlaat het, het sy voor die klavier gaan sit om haar vingers op te warm. Sy’t haar hande op die klawers gesit, maar haar vingers wou nie werk nie.

Sy het nie geweet dit was die pille nie. Sy het daarna nie Seepunt toe gery nie, maar na Houtbaai en van daar af verder op met Chapmanspiekrylaan tot waar die uitsig op sy mooiste is, daar waar ons dikwels gestop het om foto’s te neem.

By sy ouers, Helga en Hannes, en suster, Tessa, op Chapmans­piek, naby Kaapstad. In 1969 het Helga op dieselfde skilderagtige plek ’n einde aan haar lewe gemaak.

Sy’t stilgehou, uitgeklim, haar jas opgevou en op die agtersitplek neergesit, haar handsak oopgemaak, die klein nota­boekie uitgehaal, een bladsy uit­geskeur en met ’n potlood 15 woorde geskryf, die nota opgevou en dit op die voorste sitplek gelaat.

Daarop het gestaan: “Hannes, Pieter, Tessa. Forgive me. I don’t want to be a burden. I love you.

Ek het saam met Tessa van Brittanje, waar ek die London Film School by­gewoon het, af teruggevlieg. In Londen is ons kortliks oor die foon ingelig dat ma ’n ongeluk gehad het en dat sy fine is, maar dat ons liewer huis toe moet kom.

'Iets verskrikliks'

Toe ek albei tantes in die aankomssaal sien wag, het ek dadelik geweet dat iets verskrikliks op ons wag.

Ek het hulle vermy en in die koerantkiosk asem­geskep. Toe sien ek die Cape Times se voorbladfoto en Die Burger met die hoofopskrif: “Helga Bassel selfmoord – Jong man sterf.”

Lede van die bergklub het met toue oor die krans afgesak om die lyk van die vrou op die rotse te haal en ’n tou het gebreek. ’n Jong man het na sy dood geval.

’n Mens herstel nooit van so iets nie en soms wil jy nie, want jy’s bang jy vergeet die giggel, die lag en die liefde. In my geheue is nou net ’n leë raam sonder haar foto in die middel. Genadiglik is haar musiek altyd by my – Mozart, Schumann, Schubert, Scarlatti, Liszt, Brahms.

Maar by haar gedenkdiens het geen musiek gespeel nie. Iemand het seker ­later gaan vra: “Verskoon my, maar het julle nie enige klassieke musiek nie? Klavier­musiek? Helga Bassel was ’n briljante pianis, ’n talentvolle musikus.

Maar ma was nie daar om te help nie . . .

Hulle het gaan soek en ’n kasset met orrelmusiek deur Frederick Handel gekry. Die band was gerek. Die orrelklanke was ’n verdorwe, verwronge gemors.

Ma sou onbeheers begin giggel het. Haar geproes sou almal aangesteek het, maar ma was nie daar om te help nie.

Ek sal nooit weer iets so aakligs soos daardie geraas hoor nie; en dat dit nou op haar begrafnis moes gebeur. Ek het uit die kapel gehardloop en liewer in die huil­ende suidooster tussen vreemdelinge se grafte gaan staan.

Die een persoon met wie ek kon praat, is vir altyd weg. Maar ek het die adres van iemand ver weg gehad en het ’n brief geskryf: “My mother jumped off Chapman’s Peak and is dead. I don’t know what to do.

’n Paar dae later kom ’n antwoord per spoedpos by my aan: “You must help your father and sister. You must not cry now. You will be able to do it one day, but not now. Now you have to be brave. Be brave and keep up your courage. I love you. Sophia.

Hoe het ek Sophia Loren leer ken?

Dit het alles by dr. Hendrik Verwoerd begin. Op skool en in die kerk is ­gefluister dat hy nie net die argitek van apartheid en ons eerste minister is nie, maar ’n god­gegewe gawe. Dus het ek ’n foto van oom Hendrik teen my kamermuur opgeplak.

Die meeste van my skoolvriende het foto’s van hom in hul kamers gehad, soms langs knipsels oor rugbyspelers, maar ek het nie so ver gegaan nie.

Toe sien ek in die nuutste Stage & Cinema ’n pragtige Ita­liaanse filmster. Ek het die foto versigtig uitgeknip en langs ons land se leier teen die muur geplak.

Die volgende dag het oom Hendrik van die muur afgemoer. Hendrik Verwoerd het daarna nooit weer teen my muur verskyn nie, terwyl Sophia altyd daar was. Ek dink sy het my lewe gered.

Met sy 21ste verjaardag in 1966 het hy die agterstoep van sy ouerhuis in Kaapstad met voorbladfoto’s van Sophia versier sodat sy deel van die viering kon wees. “Ek het vir haar foto’s gestuur,” vertel hy. “Sy het gesê dit het haar laat lag.”

Ek is nie meer 12 jaar oud nie. Ek is iets in die 70 en sy is in die 80, maar eens op ’n tyd was ek 16 en sy 27. Ek maak klaar met matriek en ma gee my die wonderlikste geskenk om my vryheid te vier – ’n retoerkaartjie na die Noordelike Halfrond. “Pietie, go and see where I come from.”

Nadat ek Londen besoek het, is ek na Duitsland, Frankryk en laastens Italië. Na Rome. Want sy woon daar!

Ek het ’n swart-wit foto uit Oggi geknip van die jong, beeldskone Sophia Loren wat by die venster van haar Rome­woning uitleun en vir die kamera waai. Op die agter­grond was ’n sierlike lamppaal en ’n antieke ruïne.

Maar die hele Rome is vol sierlike lamppale en antieke ruïnes. Dus het ek drie dae lank, knipsel in die hand, na die regte lamppaal en ruïne gesoek – en het ek albei in die skaduwee van die Victor Emmanuel-monument gekry. Ek kyk op. Daar is die venster. Sophia woon daar!

Toe skryf ek ’n brief: “Dear Miss Loren / Mrs Ponti, I am in your beautiful city and I love it. And I love all your films and, of course, you. I have your pictures up on the wall of my room and in my scrapbooks. I live in Pinelands in South Africa and I just want to say I love you. Pieter Uys (U-Y-S, pronounced A-C-E).”

Net in­geval sy dink “Uys” is ’n spelfout.

Ek klim toe die trap na die eerste verdieping. (In daardie dae was daar nie sekuriteit nie.) Ek klop aan die deur. ’n Vrou maak oop: “Nee, mev. Ponti werk aan ’n rolprent in Frankryk, maar ek sal sorg dat sy dit kry.”

Sy ciao; ek ciao. Ek is in die wolke! My brief aan Sophia is afgelewer.

Terug by die huis in Kaapstad wag daar vir my ’n brief met ’n Italiaanse posseël. ’n Brief met haar handskrif agterop: From Sophia Loren. Dié superster het die moeite gedoen om persoonlik aan ’n klein poepgat van Pinelands, Suid-­Afrika, te skryf.

Ek skryf toe terug, en sy antwoord. Ek skryf weer en sy antwoord weer, en ná jare van penvriendskap kry ek daardie brief wat my lewe verander het met die onvergeetlike woorde: “You will cry one day, but not now . . . Be brave.

Eindelik ontmoet ek haar die eerste keer in 1975 in Parys. Ek het geweet dat Sophia nou in Avenue George V in ’n woonstel op die vierde verdieping woon – dit sê so in my plakboeke. Ek het presente vir haar en haar twee seuntjies uit Kaapstad gebring.

Dear Sophia, I am here in Paris at the Hotel de la Paix, but just want to drop these for you and your boys with my love as always. With much love again and again and again from Pieter from Pinelands.

In die ingangsportaal staan ’n con­cierge in uniform met ’n pet en ’n suur gesig. Ek probeer in my geleerde Frans. “Bonjour, mon General, pour Madame Ponti?

Non.”

Oui.”

Non.”

Toe strip my moer en die Afrikaans borrel uit. “K*k, man! Dit staan in my plakboeke. Sy woon hier op die vierde vloer. Sorg asseblief dat hierdie pakkies afgelewer word. Hulle kom van ver. Verstaan jy wat ek sê?”

Oui,” sê hy wraggies.

Ek laat my geskenke by hom en gaan terug na my goedkoop hotel, ’n nare ervaring. Die vrou agter die toonbank was baie onbeskof, want ek kan nie Frans praat nie en sy wou nie Engels probeer nie. Toe ek om die draai kom, sien ek haar voor die hotel staan. Sy kyk rond en sien my. En waai. En glimlag.

“Monsieur Arse? Monsieur Arse! Sophia Loren, she phone for you in my hotel. Sophia say she love you.”

Ek moes sesuur na haar woonstel gaan vir ’n drankie. Tweeuur is ek al gereed.

Toe haar sekretaresse my by haar sitkamer inlei, het ek dit reeds geken. Die hele vertrek en alles daarin was in my plakboeke. Die Francis Bacon teen die regtermuur, die ding wat sy van die Vatikaan gekry het teen die ander muur. Haar goue Oscar op die rak en al haar Bambi-pryse uit Duitsland op ’n tafel.

Toe Sophia Loren instap in ’n swart rok met ’n groot rooi roos op – dieselfde rok wat sy op die foto teen my kamermuur dra, reg langs my gesig sodat ek dit kan sien wanneer ek wakker word – was dit asof dié foto lewend geword het en my groet met die glimlag wat ek beter as enig­iemand anders s’n ken.

“Hello, Pieter.”

Ons het saam met haar twee seuntjies op die tapyt gesit en die Suid-Afrikaanse posseëls wat ek vir hulle gebring het, gesorteer. Die wilde diere was maklik. Die politieke diere het eenkant op ’n hopie gelê.

Sophia tel ’n smal, reg­hoekige seël op. “Look, Edoardo, Chipi. This is an elephant’s tooth.” Ek draai dit om.

No, Sophia, you have it upside down. That’s the Afrikaans Taal­monument.

Ek is nog altyd geboei deur akteurs se verkleurmannetjieagtige talent om hul stemme, gesigsuitdrukkings en vermomming in te span om in ’n karakter te verdwyn.

Die teatergrimering waarmee ons op dramaskool moes werk, was in buise wat soos vet sigare gelyk het en elke skake­ring was genommer om hier te verhelder en daar skadu te skep voor donker en lig met ’n versigtige laag poeier in­geskakeer is.

Ek onthou nog hoe ek my soos Lau­rence Olivier se Mahdi in die rolprent Khartoum opgemaak het, met ’n donker vel, woeste blik onder ’n paar vals wimpers en ’n wit handdoek om my kop gedraai. Toe kom die sexy, verlepte oë van Mar­lene Dietrich met haar sorgvuldig in­gekleurde wondrooi lippe.

Ek het op­getree met vals neuse, kort hare, lang hare, vlegsels, snorre, baarde, littekens en sproete. Net omdat ek kon, het ek my oë ingekleur dat hulle soos katoë lyk en my vol rooi lippe in die spieël soos die Ita­liaanse filmster teen my kamermuur getuit.

Evita Bezuidenhout het te voorskyn gekom toe die redakteur van die Sunday Express my in die 1970’s vra om ’n week­likse rubriek te skryf om die mallemeule van die inligtingskandaal se politiek met humor uiteen te sit.

Nuusberigte moes destyds, in die dae voor twiets en televisie­flitse, op koerantvoorblaaie staatmaak en dié is dikwels gesensor. Toe skep ek ’n Afrikaanse dame wat een keer per maand by ’n opskop in Pretoria haar geliefde Nasionale Party verheerlik met flou, lomp lof.

Nelson Mandela het haar altyd geniet. Indien daar een goeie rede vir haar bestaan was, was dit haar vermoë om hom te laat lag.

Ek is dikwels na geldinsamelings en etes genooi om vir my 15 minute van roem op hoë hakke die nuutste opper­gode op die Olimpus van mag te vermaak – Oprah, Bill Clinton en koningin Beatrix van Nederland.

Een aand het Evita en Madiba ’n oomblik lank langs mekaar op die rooitapyt gestaan. Deur saamgeperste lippe het ek gefluister: “President Mandela? Every time you see me, I’m dressed as Evita ­Bezuidenhout.

Hy’t met ’n glimlag geantwoord: “Don’t worry, Pieter, I know you’re inside.

Evita Bezuidenhout saam met Nelson Mandela kort voor die verkiesing in 1994 by ’n ANC-­saamtrek in Kaapstad. Madiba was ’n groot aanhanger van Pieter se alter ego.

Toe die rolprentmaker Willem Oelofsen voorstel dat ons ’n dokumentêr oor my maak (Nobody’s Died Laughing, 2016), wou hy ’n lys van mense hê om vir kommentaar te kontak. Ek het al my geliefdes en getroues se name neergeskryf.

Die Sondagmiddag vieruur lui die foon en die antwoordmasjien neem oor: “Please leave a message.

Hello, Pieter, I know you’re there. This is Sophia.

Ek tel dadelik op. Ek vertel haar van die plan vir ’n dokkie. Sy gee haar laggie.

I want to be in your film.

“Regtig?”

Of course,” dring sy aan, “I am your best friend.”

En sy is. Ons vlieg toe Genève toe, ’n driemanspan. Die middag voor ons die onderhoud met Sophia op film verewig het, is ek na haar woonstel en het ons mekaar ná baie jare omhels. Vir ’n paar uur het ons gesels oor ons lewe – die lief en leed, haar kleinkinders en my katte.

Die volgende oggend kom sy by die vyf­sterhotel aan waar ons die sessie gaan hou. Miskien moet ek liewer sê die silwerdoekgodin Sophia Loren het uit die limousine geklim.

Ons driemanskap sal daardie oomblik nooit vergeet nie. Sy’t by die suite in­gestap, haarself voor­gestel en hulle toegelaat om hul werk te doen – ligte, klank, kamera, aksie!

Terwyl ek eenkant staan en dit bekyk, kon ek net vir Pietertjie Uys in 1958 sien, besig om die foto uit die Stage & Cinema te knip.  

'n Geredigeerde uittreksel uit Weerklink Van 'n Wanklank - Memoires van Toe en Nou
Weerklink van ’n wanklank – Memoires van toe en nou deur Pieter-Dirk Uys (Tafelberg, R280)
  • Beskikbaar by Tafelberg (R280)
  • Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
FOTO'S: BENNY GOOL, VERSKAF