PJ Powers sê dit gaan goed in die hospitaal. Foto:
PJ Powers sê dit gaan onder omstandighede goed met haar in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die legendariese sangeres is tans in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad met longontsteking, het sy in die sosiale media geskryf. “Ek kry nie genoeg suurstof nie,” het sy in haar inskrywing gesê.

“Ek het op 22 Mei ’n baie noue ontkoming met covid gehad,” vertel sy uit haar hospitaalbed aan Huisgenoot.

“Twee mense by ’n gesinsfunksie was positief met covid, en hulle het dit nie geweet nie. Daar was ’n paar mense rondom my wat baie siek geword het met covid en ek was heeltemal asimptomaties en het goed gevoel. Ek het op die vyfde dag vir ’n toets gegaan en negatief getoets. Ná die toets het ek huis toe gegaan,” sê PJ.

Die “Feel so strong”-sangeres (60) sê sy het wel gedink sy het covid onder lede. “En ek was nie oortuig dat die negatiewe uitslag nie ’n vals negatief was nie. 

“Ek is steeds nie heeltemal oortuig daarvan dat dit nie covid is nie. Ek dink ons moet baie versigtig wees, want ja, ek is asmaties, maar hoekom was ek heeltemal oukei tot Vrydag, en toe val my suurstofversadiging tot by 82? Dis toe dat ek hospitaal toe gebring is,” sê sy.

Sy weet nog nie wanneer sy uit die hospitaal ontslaan gaan word nie, maar doen goed. “Ek dink ek doen oukei. Ek is die meeste van die dag en saans op suurstof. Ek dink ek doen goed as ek dit vergelyk met hoe ander mense voel.

“Op ’n skaal van 10 dink ek is ek op vyf en ses; soms sewe.” 

PJ Powers gaan beslis binnekort weer op die verhoo
Die sangeres vertel sy gaan beslis binnekort weer op die verhoog wees. Foto: Verskaf

Wat is die eerste ding wat sy wil doen wanneer sy weer tuis is? “Ek sal waarskynlik iets smullekker kook, want ek eet net hospitaalkos.”

Intussen behandel die inperking haar soos “enige ander mens,” sê PJ.

“Dis skrikwekkend, finansieel skrikwekkend. Ek dink ons is redelik wanhopig, veral musikante, omdat ons werk heeltemal van ons weggeneem is en omdat dit langer gaan voortduur soos ons hierdie derde golf binnegaan. 

“Ek dink almal van ons sukkel, maar ek dink meer as enigiets is dit net verskriklik om niks te doen nie,” sê die “World in union”-sangeres. 

Maar die verhoog gaan haar beslis weer sien. “Ek sal waarskynlik weer in Johannesburg op die verhoog te sien wees, want ek het pas die Kaap voltooi voordat ek siek geword het. Ek sal my klein unplugged vertoning na ’n paar plekke in Johannesburg neem, en ek sien baie uit daarna, want dis ’n goeie vertoning vol inspirasie.”


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.