Haar stem is klokhelder en klink opgewek en vrolik oor die foon. Duidelik het sy genadiglik nie meer asemnood nie. Die afgelope Saterdag het sy in ’n aanlyn uitsending van die Suid-Afrikaanse Musiekpryse (Samas) ’n prys vir lewensbydrae ontvang.

“Ek koester hierdie en elke ander prys. Ek is bly ek kan myself relevant hou en dat belangrike mense dit gepas voel om my te vereer,” vertel die legendariese sangeres aan Huisgenoot.

PJ is in Mei vanjaar in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad opgeneem. Sy het “die fout” gemaak om op sosiale media te skryf: “Ek kry nie genoeg suurstof nie.” Dit het aanhangers en vriende dadelik op loop gehad dat dit die gevreesde covid-19-virus is wat haar daar laat beland het. 

Die “Feel so strong”-sangeres (61) sê sy het wel gedink sy het covid onder lede. Maar sy het drie keer negatief getoets. “Ek dink ons moet baie versigtig wees, want ja, ek is asmaties, maar hoekom was ek heeltemal oukei tot Vrydag, en toe val my suurstofversadiging tot by 82? Dis toe dat ek hospitaal toe gebring is,” sê sy.

Sy is nou ingeënt. Op 22 Mei het sy ’n noue ontkoming met covid gehad.

“Twee mense by ’n gesinsgeselligheid was covid-positief en hulle het dit nie geweet nie. Daar was ’n paar mense rondom my wat baie siek geword het en ek was heeltemal asimptomaties en het goed gevoel. 

"Ek het op die vyfde dag vir ’n toets gegaan en negatief getoets. Ná die toets het ek huis toe gegaan,” het PJ toe in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel. Maar sy moes begin Junie hospitaal toe omdat sy longontsteking opgedoen het.

PJ Powers gaan beslis binnekort weer op die verhoo
Die sangeres vertel sy gaan binnekort weer op die verhoog wees. Foto: Verskaf

“Ek drink nou my ACC 200. Ek gaan nie in die koue lug uit nie en draai heeltyd my kop toe, want dit is dan wanneer ek longontsteking kry . . .

“Ek word so geseën dat covid my nog nie gekry het nie. Ek het so, so baie vriende daaraan verloor; belangrike mense vir wie ek innig lief was. Hulle was almal so versigtig. Een vriend sou binne ’n paar dae sy inenting kry toe hy dood is aan die virus.”

PJ, wat in Johannesburg woon, was weer die afgelope twee weke in Kaapstad om onder meer haar nuwe album op te neem.

“Dis ’n heel ander soort klank,” vertel sy geheimsinnnig. Die eerste enkelsnit behoort vir Kersfees uitgereik te word en die res van die album in die nuwe jaar.

“Ons gaan ook van my ou treffers soos ‘Jabulani’ ’n vars lagie verf gee en uitbring,” vertel sy opgewonde. Sy is ook op die oomblik besig om te skiet aan ’n M-Net-dokkie oor ikoniese Suid-Afrikaners.

Hulle het klaar in Kaapstad geskiet en is op pad Durban toe, waar sy grootgeword het. “Ek is in baie goeie geselskap saam met mense soos Sandra Prinsloo, Elon Musk en Mark Shuttleworth, wat ook ingesluit word.”

Sy het vir haarself ’n hutsmerk op sosiale media toegeëien: #thatmadmallsinger. "Om mense op te beur sal ek na ’n winkelsentrum toe gaan en net skielik begin sing. Ek was al by die Fourways Mall en by die Waterfront in Kaapstad.

“Jy weet nooit waar ek gaan verskyn nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe