Só vertel die sangeres Elme Churr (33) van haar en haar man, Ben (36), se eerste oomblikke saam met hul eersteling.

“Dit is ’n Agape-liefde wat oor jou stort van die eerste oogopslag en ’n begeerte en ’n wil om hierdie mensie op te pas en te beskerm met jou hele menswees,” vertel Elme aan Huisgenoot

“Wat my altyd oor Luke se geboortedag sal bybly, is die afwagting, die nuuskierigheid oor hoe sy ou gesiggie gaan lyk, die voetjies, die handjies en hoe dit sou voel om eindelik hierdie ou wonderwerkie vas te hou,” sê sy.

Die skattige seuntjie het vroegoggend op Woensdag 17 Junie sy opwagting gemaak. Die kleinding heet Luke en het die babaskaaltjie op 3,05 kg laat staan en was 51 cm lank toe hy gebore is.

Die egpaar is op 18 Mei 2013 getroud en kon sedertdien nie wag om ouers te word nie. Maar dié voorreg het hulle sewe jaar lank eers ontgaan.

“Toe ek Luke die eerste keer vashou, was dit ’n warboel van emosies wat oor my gespoel het,” vertel Elme.

“Met Luke se lyfie eindelik in my arms ná sewe jaar se gebede en sy ogies wat nes pappa s’n lyk, was ek totaal en al verlief en uitverkoop,” voeg sy by.

Sy en haar man moet soms hulself knyp nadat hulle so lank vir “so ’n wonderwerkie” gebid het. “Luke se geboorte bewys dat daar altyd hoop is ten midde van ’n mens se omstandighede en dat elke tree in geloof tot deurbrake in alle aspekte van ’n mens se lewe lei,” sê Elme.

“Soms moet ons mense herinner van God se groot genade en liefde vir ons sodat hulle kan vashou aan die hoop en droom wat in hulle harte is,” verduidelik sy.

Hoewel die kleinding hulle reeds in sy eerste week tuis baie besig hou, sal hulle dié tyd vir niks verruil nie. “Die min slaap, doeke omruil, pop speel met verskillende kleertjies terwyl daardie ogies na ’n mens staar, is die grootste geskenk waarvoor ons ooit kon gevra het,” koer Elme. 

Sy bieg dat hulle soms in die aande wakker skrik net om seker te maak klein Luke haal nog asem. “Hy lê altyd soos ’n ou poppie en slaap; so salig en rustig met sy armpies in die lug,” vertel Elme.

“Hy huil net as hy ongelukkig is, verder is hy die soetste seuntjie,” voeg sy by.

Gelukkig is Elme se ma, Rina, ook by hulle om hand by te sit met Luke. “Dit is die grootste voorreg om ouma Rina hier te hê, veral met Luke se eerstes. Sy eerste bad, sy eerste aand se slaap in sy eie bedjie en die eerste paar daggies van sy lewe,” vertel sy.

Terwyl die coronakrisis steeds wêreldwyd woed, is Elme bekommerd oor Luke omdat hy nog so klein is. “Dit voel amper of ’n mens hom net in ’n glaskassie wil sit en heeltyd wil beskerm teen die wêreld, hartseer en siektes,” sê Elme.

Tog waai die idee van ’n glaskassie vinnig by die deur uit wanneer sy aan al die lekker aktiwiteite dink wat Luke nog saam met haar en sy raakvatter-pa gaan hê.

“Ek sien uit vir hoe lekker hy gaan bal speel met sy pappa, sy eerste gholfstokkies, piekniek en liedjies sing. En natuurlik sy eerste woorde: ‘Mamma,’” lag Elme.

Pa Ben sien weer uit om saam met Luke vis te vang, te jag, rugby te speel en om saam biltong te eet, vertel sy.

“Vir nou koester ons elke oomblik en sekonde saam met Luke, want ons wil niks mis nie,” sê Elme.