NET HAARSELF 

Met haar eerlike lirieke, dromerige stem en gothic voorkoms is Billie Eilish (18) die stem van Generasie Z en die gesig van tienerangs. 

Billie is onbeskaamd haarself, en haar 49 miljoen Instagram-aanhangers kan nie genoeg kry van haar treffers soos “Bad Guy” en “Everything I Wanted” nie. 

View this post on Instagram

still here

A post shared by BILLIE EILISH (@billieeilish) on

Sedert sy vier jaar gelede op die musiektoneel verskyn het, het dié tienerster die een rekord ná die ander verbeter.

Sy is vanjaar vir ses Grammy-pryse benoem en is die jongste persoon nóg wat in vier van die gesogste kategorieë benoem is: opname van die jaar, liedjie van die jaar, album van die jaar en beste nuweling. 

007 

Billie het onlangs die eerste persoon geword wat in Apple se nuwe Music Awards as wêreldkunstenaar van die jaar aangewys is. 

Haar debuutalbum, When We All Fall Asleep, Where Do We Go?, was in 2019 die mees gespeelde album op Apple Music, en 12 van die 13 snitte daarop het die Amerikaanse Billboard Hot 100-trefferlys gehaal – die meeste nóg vir ’n vrouemusikant. 

View this post on Instagram

THANK YOU AMAS ??

A post shared by BILLIE EILISH (@billieeilish) on

En 2020 begin op ’n hoë noot. Dis onthul dat Billie die temalied van die nuwe James Bond-fliek, No Time to Die, geskryf en uitgevoer het – sy is die jongste sanger nóg om dit te doen. “Ek is steeds in skok,” sê sy. 

GROOTWORDJARE 

Billie het in Los Angeles grootgeword en kom uit ’n kreatiewe gesin: haar ouers, Maggie Baird (60) en Patrick O’Connell (62), is akteurs en ouboet, Finneas O’Connell (22), is ’n sanger. 

View this post on Instagram

c??????

A post shared by BILLIE EILISH (@billieeilish) on

Die sibbes skryf en vervaardig haar musiek saam. Finneas het “Ocean Eyes”, die liedjie waarmee sy in 2015 op 14 roem verwerf het, geskryf. 

Dis teen April verlede jaar al 200 miljoen keer op die stroomdiens Spotify geluister. 

BOODSKAP

Benewens die aansteeklike ritme en bisarre musiekvideo’s is Billie se musiek gewild danksy die inhoud daarvan. 

In “Bad Guy” kry sy ’n steek in na toksiese manlikheid en in When We All Fall Asleep, Where Do We Go? roer sy talle aktuele sake aan, soos die klimaats­krisis, tienerselfdood en die nuwe neiging onder jong mense om nugter te leef. 

NEE VIR DWELMS

Al verwys haar liedjie “Xanny” na Xanax, ’n voorskrifmiddel wat dikwels as glansryk uitgebeeld word, stel sy nie in dwelms belang nie. 

Die snit se boodskap is “minder ‘moenie dwelms gebruik nie’ en meer ‘wees veilig,’ ” sê sy. 

“Ek het nog nooit dwelms gebruik nie,” het sy aan die koerant The Guardian gesê. 

View this post on Instagram

huuuuuuuh

A post shared by BILLIE EILISH (@billieeilish) on

“Dis net nie vir my interessant nie. Ek het ander dinge om te doen. Ek weet mense om jou wat daai k** doen, maak dat jy dit wil doen, maar jy hoef nie,” is haar raad. 

Sy spoor haar aanhangers ook aan om hul deel vir die omgewing te doen. 

Billie het vir haar Where Do We Go?-wêreldtoer, wat in Maart begin, plastiekstrooitjies verbied en konsertgangers gevra om herbruikbare waterbottels te bring. 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, REFINERY29.COM, VOX.COM, NEWS. SKY.COM, SEVENTEEN.COM, MARIECLAIRE.COM, THEGUARDIAN. COM, CNN

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.