Klein-klein rocker

Ons kan nie genoeg kry van dié boorling van Port Elizabeth (22) se jongste enkelsnit, Only Get Better, nie. Die liedjie is ’n “bood­skap van hoop vir dié wat deur moeilike tye gaan”, sê Gino.

Die sanger, wat die Groot Appel deesdae sy tuiste noem en die liedjie daar geskryf en vervaardig het, het onlangs weer ’n draai in sy geboortestad kom maak om eksamen te skryf vir die rekenaarwetenskapkursus wat hy vanjaar aan Unisa begin studeer het.

Dié oudleerder van die Theodor Herzl-­skool het van kleins af klavier gespeel en op 12 al ’n rockgroep, Rover Road Band, saam met van sy skoolmaats begin.

“Ons het baie in PE opgetree en aan ’n paar talentkompetisies, insluitend die eerste seisoen van SA’s Got Talent in 2009, deelgeneem,” vertel hy.

Die groep was egter net twee jaar saam.

“In 2010 het ek my sololoopbaan begin navolg nadat ek die nasionale KTV M-Net Young Stars-talentkompetisie gewen het.”

Sy pad na New York

Ná sy matriekjaar in 2013 het Gino ’n studiebeurs gekry om ’n jaar aan die roemryke New York Film Academy in Amerika te studeer. Hier het hy ’n jaar lank toneel geswot.

“Ek het dit baie geniet om daar te studeer,” vertel hy.

“Ek het ongelooflike vriende daar ontmoet.”

Gino het einde Junie weer teruggekeer na New York nadat hy sy studie in 2015 beëindig het om bande te bou met musiekmaatskappye.

“Maar dié keer was ’n hap uit die Groot Appel nie so soet nie,” sê Gino, wat tot onlangs nog in die New Yorkse buurt Roosevelt Island gewoon het. Mense wat beloftes gemaak het om sy musiekdrome waar te maak het hom teleurgestel.

“Gelukkig het ek Jason Jordan van (die musiekmaatskappy) ONErpm daar ontmoet wat in my musiek geglo het,” vertel hy.

Hy het sedertdien ’n musiek­kontrak by ONErmp in New York geteken.

Kitsvrae
  • Jou grootste swakheid? Sjokolade. Ek het ’n suikertand.
  • Jou geheime talent? Ek kan spoke sien.
  • Beyoncé of Rihanna? Beyoncé.
  • Gunstelingkosse? Soesji en my ma se kerrie.
  • Grootste inspirasie? My ouers, Bernie en Clive.

Popsanger

Gino maak deesdae popmusiek.

“Dit is waarvoor ek lief is en waarna ek geniet om te luister.”

Sy debuutsnit, Back to Me, is ver­lede jaar uitgereik.

“Dit gaan daaroor om dinge reg te maak met die persoon wat jy seergemaak het.”

En met net drie amptelike enkelsnitte wat tot dusver uitgereik is, het hy al talle hoogtepunte in sy musiekloopbaan gehad.

“Een was beslis om op die KFM- en Algoa FM-trefferlyste te wees.”

Welkom terug (vir eers)

Hy is terug in Suid-Afrika om eksamen te skryf en ook vir sy broer Marco (29) se troue wat in Oktober plaasgevind het.

Marco is deesdae ’n mediese dokter, maar het des­tyds liedjies vir Gino se rockgroep geskryf. Hul ouboet, Rico (36), is ’n bekende tatoe­kunstenaar in Kaapstad. Gino se ma, Bernie, is ’n afgetrede onnie en sy pa, Clive, ’n dokter.

Gino is die enigste sanger in die gesin en hou ook sy lyf akteur en model.

“Ek het in musiekvideo’s vir die sangers Jessie J en Mary J. Blige verskyn,” vertel hy. Hy was in Jessie J se Flashlight-musiekvideo en Doubt van Mary J. Blige, wat in 2015 in Los Angeles geskiet is.

Wanneer hy so met die sterre uithang, moet hy homself omtrent knyp om seker te maak hy droom nie. “Ek het Jessie J ontmoet. Sy is baie plat op die aarde,” vertel hy.

Gino Lee sê
  • Ek was drie toe ek begin lees en skryf het.
  • Ek is linkshandig.
  • Ek haat sport en narre.
  • Ek studeer tans B.Sc. Rekenaarwetenskap.