Op die kassie speel hy ’n prokureur wat moet bontstaan vir al die regs­tameletjies van die inwoners van die Laan, maar hier, net ’n paar dae voor Kersfees, maak die akteur Theodore Jantjies reg om op ’n bedompige, warm dag in die Bosveld ewige trou te beloof aan ’n regte, egte prokureur.

Vandag is die 36-jarige akteur nie die bedrewe regsman Xander Meintjies van die SABC2-sepie 7de Laan nie, maar ’n opgewonde bruidegom wat in die kapel by die Tsekama-trouvenue in die distrik Modimolle in Limpopo op die liefde van sy lewe, Tammy van der Merwe (32), wag.

Hy lyk omtrent spoggerig in sy swart broek, wit hemp en baadjie toe hy saam met sy drie vriende hul plek voor die kansel inneem. 

En hy straal weer soos op sy TV-troue toe hy destyds as Xander met Vanessa (gespeel deur Ingrid Paulus) afgehaak het. Maar dié keer loop sy beker van geluk werklik oor.

Die manne staan skaars, dan weerklink Craig Owen se weergawe van “Here Comes the Bride” oor die luidsprekers, en die agterste houtdeur skuif oop. 

En hy straal weer soos op sy TV-troue toe hy destyds as Xander met Vanessa (gespeel deur Ingrid Paulus) afgehaak het. Maar dié keer loop sy beker van geluk werklik oor.

Tammy se gevolg kom ingestap, met die jong ringdraertjie Christopher van der Merwe, haar broerskind, heel voor. 

Hy hou ’n hartvormige swart kennisgewing vas met die woorde “Uncle Theo, hier kom jou ribbekassie”. 

Toe hy dit sien, raak Theodore se glimlag sowaar nóg breër, want dis sy troetelnaam vir die prokureur met die diepbruin oë wat al as ’n skoolmeisie van die Swartland sy hart gesteel het.

Dan volg Tammy in ’n elegante wit skepping met kralewerk om haar skouers, ontwerp deur Kobus Dippenaar van Kaapstad. 

Sy hou haar pa, Christiaan, se hand vas. Hy het in 2013 ’n ernstige beroerte gehad en word nou deur haar ma, Ina, in ’n rolstoel ingestoot.

Christopher van der Merwe het almal met dié bordjie laat giggel. Foto: Lubabalo Lesolle
Die pragtige bruid word deur haar ouers, Christo en Ina van der Merwe, die kapel inbegelei. Foto: Lubabalo Lesolle

Eerw. Moses Thabethe wil sommer dadelik by die gaste weet of iemand enige beswaar het teen vandag se huweliksbevestiging. 

Dan kyk Theodore gemaak-kwaai om na die gaste, net om seker te maak niemand probeer ’n stokkie voor die verrigtings steek nie.

In die fiktiewe Hillside in Johannesburg, waar 7de Laan afspeel, was daar ’n paar jaar gelede juis groot sepiedrama toe die karakters Xander en Vanessa se dogtertjie, Karmen, ontvoer is net toe dié paartjie hul troubeloftes hernu.

Klein Shiloh, Theodore en Tammy se tweejarige seuntjie, is egter veilig en het net vinnig voor die amptelike seremonie sy pappa kom groet en nie die diens of onthaal bygewoon nie.

Toe hulle die trouringe aan mekaar se vingers steek, verseël hulle hul liefdes­belofte en die eerwaarde verklaar hulle man en vrou.

Die egpaar se seuntjie, Shiloh, het voor die amptelike seremonie gou vir sy pappa kom hallo sê. Foto: Lubabalo Lesolle
theodore jantjies,akteur,7de laan,troue
Die trouringe: Syne is ’n trou­pand van witgoud en hare ’n ewigheidsring, ­ook van witgoud, albei 9 karaat. Foto: Lubabalo Lesolle

Al is Tammy vandag ’n prokureur in Johannesburg, het dié twee se paadjies toevallig op die verhoog gekruis toe sy in 2004 as gr. 11-leerder die hoofrol in die musiekblyspel van die Sekondêre Skool Schoonspruit op Malmesbury vertolk het, vertel hulle kort voor hul troue aan Huisgenoot. 

Tammy (toe 17) se pa was destyds die skoolhoof, en hy het ’n jong man wat pas sy diploma in die uitvoerende kunste aan die Northlink-kollege in Kaapstad voltooi het, aangestel om die regie te behartig. En daar stap die 22-jarige Theodore Jantjies die skoolsaal binne.

“Kyk, laat ek vir jou eerlik sê, toe ek daai pragtige skoolmeisie sien, toe weet ek hier kom ’n ding,” erken Theodore terwyl ons kuier. 

“Maar ek het geweet ek kan niks daaraan doen nie, want ek mag nie. Sy was op skool én haar pa was die hoof. Ek het gedink: Watse verliefnonsens is hierdie?” 

Min het Tammy toe geweet dat die jong aspirantakteur heimlik halsoorkop op haar verlief was. 

Die paartjie word deur die gaste toegejuig. Foto: Lubabalo Lesolle
Pasgetroud! Foto: Lubabalo Lesolle
Pienk en rooi vellies. Nou is die bruidspaar gereed om die dansbaan aan te vat! Foto: Lubabalo Lesolle

“Hy het nie eintlik met my gepraat nie en het my nie sommer in die oë gekyk nie,” vertel sy. “Hy het lekker aandag gegee aan almal, maar my geïgnoreer.”

“So, ek het nie juis veel van hom gedink nie. En hy het maar swak gelyk. Jy weet, soos ’n student. Hy het een sweetpakbroek sommer elke liewe dag gedra!”

Tog het sy mettertyd met ander oë na hom begin kyk, maar hiervan het Theodore ook niks geweet nie.

Drie maande later was die blyspel verby en Theodore moes terug Johannesburg toe gaan om homself as akteur te probeer vestig. 

Hy onthou hoe die Translux-bus daardie aand by die Engen-garage op Malmesbury gestop en ’n groep skool­kinders, onder andere Tammy, hom kom wegsien het.

Die akteur en sanger Hennie Jacobs vermaak die gaste na afloop van die amptelike ­seremonie op die hout­stoep buite die kapel. Hy vertolk die rol van Diederik in 7de Laan. Foto: Lubabalo Lesolle
Die bruidspaar saam met Theodore se ma, ­Petronella. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek het skielik besef ek kan nie op die bus klim sonder haar nommer nie,” vertel hy verder. “Toe stap ek oor na haar toe en vra dit!” 

Die bus was skaars weg uit die dorp, toe stuur hy vir haar ’n SMS: “Ek weet dit is die laaste ding wat jy verwag, maar ek dink ek is verlief op jou.”

Oomblikke later SMS sy terug: “Ek dink ek voel dieselfde.”

Daardie aand het hulle dwarsdeur die nag per SMS gesels.

“Ek was op cloud nine, maar ons kon niks hiervan vir ander mense sê nie. Dit moes ons geheim bly,” sê Tammy. 

Die 7de Laan-akteurs is van links Zane Meas, Jacques ­Blignaut en Christo Davids. Foto: Lubabalo Lesolle
’n Paar van Theodore se mede-akteurs en kollegas by 7de Laan, ­asook ander vriende, in ’n vrolike bui tydens die onthaal. foto: Lubabalo Lesolle
Wie trou volgende? Tammy gooi haar ruiker na ’n groep ­opgewonde gaste. Foto: Lubabalo Lesolle

Nogtans kon Theodore nie van haar af wegbly nie. Aangesien hy tydens sy verblyf van drie maande op Malmesbury baie vriende gemaak het, het hy gereeld teruggegaan om te kuier.

En omdat hy en Tammy se ouers ook bevriend geraak het, het hy natuurlik by hulle ook gaan kuier – sodat hy darem vir Tammy kon sien. 

“Dan het ons ure in die tuin sit en gesels,” onthou Tammy. “My mammie en pappie wou later by my seker maak ons is net vriende, dan het ek maar ja gesê.”

Teen die einde van haar matriekjaar was daar ’n groot verskeidenheids­konsert op die buurdorp, Wellington, en Theodore wou hê Tammy moes saam met hom gaan. Maar eers moes hy haar pa se toestemming kry.

“Ek klop aan hul voordeur en hulle vat ekstra lank om oop te maak. Ek dink die meneer en juffrou was seker besig met ’n slapie. Daardie suspence!”

Die drielaagtroukoek is met eetbare rose versier. Foto: Lubabalo Lesolle
theodore jantjies,akteur,7de laan,troue
Die tafels by die onthaal is gedek met wit linne en afgerond met ruikers van verskillende blomme. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek en die meneer het koffie gedrink en toe moes ek hom vra. Hy het my mooi laat verstaan dit is sy enigste dogter en as ek haar sou seermaak, sal hy sy gun gaan haal. Hy het my goed laat verstaan dat ek haar voor tienuur die aand terug by die huis moet hê, anders is daar pêre. Daardie Saterdag het ek haar met my rooi Tazz gaan oplaai, en dit was ons eerste amptelike date!”

Hy het eers gewag dat sy klaar is met matriek voor hy haar aan die einde van 2005 gevra het om sy meisie te wees. 

Maar dit sou ’n langafstandverhouding moes wees, want Theodore het reeds in September daardie jaar Johannesburg toe getrek nadat hy die rol van Xander in 7de Laan losgeslaan het. Tammy sou weer in 2006 vir haar LL.B.-graad by die Universiteit Stellenbosch inskryf.

“Kom ons fast track die storie na 2008,” sê Theodore. “Die afstand het nie gewerk nie. Sy moes student wees, en ek moes voltyds werk. Die punt is ons het besef dis nie gesond nie. Ons het ’n realistiese en weldeurdagte besluit geneem om die verhouding te beëindig.”

Dit was ’n moeilike besluit vir albei, maak hulle nou hart oop. Theodore het destyds nog vir haar gesê: “Ons paaie gaan nou uitmekaar, maar ek weet met wie ek gaan trou.”

Die bruidspaar en hul gevolg. Van links is Colin Hendricks, Lawrence Moolman, Terry-Lee Arendse, Clive Steyn, Tammy en Theodore, Chandré Blaauw en Randy Deal. Foto: Lubabalo Lesolle

Hulle was so vasbeslote om hul verhouding te beëindig dat hulle alle kontak met mekaar vermy en albei selfs in ander verhoudings betrokke geraak het.

Sewe jaar later, ná haar pa se beroerte, het Theodore by haar ouers gaan inloer – min wetend dat Tammy, wat toe in die Paarl as prokureur gepraktiseer het, toevallig ook daardie naweek by haar ouers sou wees. “Toe ons na mekaar kyk, toe weet ons die liefde het nie weggegaan nie,” onthou sy dié dag.

In Oktober 2015 het sy Johannesburg toe getrek nadat hulle besluit het om dinge weer ’n kans te gee. Hulle het reeds in 2017 troustories begin praat voor Shiloh in 2018 gebore is.

“En so het ons die kringloop voltooi,” sê hy. “Ons moes eers by ander gaan uitvind dat ons bymekaar moet wees.”

Ná die seremonie in die kapel kuier die 130 gaste op die groot houtstoep wat op ’n gronddam uitkyk. Hulle lê weg aan peuselhappies soos biltong, ’n verskeidenheid kase en soutkoekies, asook vrugte soos spanspek, waatlemoen en druiwe.

“En so het ons die kringloop voltooi,” sê hy. “Ons moes eers by ander gaan uitvind dat ons bymekaar moet wees.”

Die pasgetroude paartjie en hul gevolg kom die onthaalarea opgewek binne op die polsende ritme van Miriam Makeba se “Pata Pata” voor hulle ook gaan sit. 

Hier is vanaand geen formele toesprake nie; Theodore en Tammy verwelkom en bedank die gaste sommerso om die beurt van agter die mikrofoon. 

Onder die gaste is talle 7de Laners, soos Vinette Ebrahim (Charmaine), Hennie Jacobs (Diederik), Jacques Blignaut (Vince), Christo Davids (Errol), Zane Meas (Neville) en André Lotter (Rickus).

Zane, wat die rol van Neville Meintjies, Xander se pa in 7de Laan, gespeel het, vertel hoe hy 14 jaar gelede gehoor het sy karakter gaan ’n seun kry. 

“Die dag toe Theodore op die stel opdaag, was daar dadelik ’n band van liefde tussen ons,” stap hy terug in tyd. “Vandag voel ek soos ’n pa wat sy seun se troue bywoon.”

theodore jantjies,akteur,7de laan,troue
Die stralende huwelikspaartjie dans hul toekoms tegemoet. Foto: Lubabalo Lesolle

Theodore se ma, Petronella, onthou weer hoe haar seun haar destyds gebel het met die nuus dat hy ’n oudisie vir 7de Laan aflê.“Mammie, bid vir my,” was sy versoek.

Die nuus dat Theodore 7de Laan verlaat en net tot middel Januarie op die kassie te sien sal wees, is reeds verlede jaar bekendgemaak. 

Die akteur vertel daar lê vanjaar verskeie opwindende dinge vir hom voor, maar meer kan hy nie nou verklap nie. 

Intussen begin gaste opskep, waarna die verliefde paartjie die dansbaan open.

Die kronkelpad van die liefde het hulle eindelik gebring waar hulle hoort: die kamma-regsman en die regte, egte prokureur. 

Die huwelikspaar bedank:

KATUVELLIES (SKOENE) 067-042-5165; VELD­SKOEN (SKOENE) 083-258-2904; KLAWERWYNE (WYN) 027-216-1561; PIETER VIDEOPHOTOGRAPHY (VIDEO) 082-869-7364; IZELLE (HARE) 071-288-1816; NICOLA (GRIMERING) 083-938-2031; SUBARU CENTURION (MOTOR) 012-653-7309; GD SUITS (TUXEDO) 082-485-6941; LEADING EDGE (KOUSE) 044-874-4778; RAAKWYS CPT (T-HEMDE) 062-345-8761; LILIES AND LUST (JAPONNE) 084-220-0296; H&C EXPLORERS (WITTEBROOD) 073-431-3572; AQUA VITA WATER (WITTEBROOD) 082-552-0513 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.