Die krulkopdogtertjie blaas saggies en dan vlieg vier fyn seepbelle deur die lug. Sy kyk hoe hulle wegsweef en een vir een bars. Klein Lira (4) kraai van plesier en blaas weer.

Haar 20 maande oue boetie, Jean Luc, verwonder hom aan die blink borrels vol reënboë. Dis nie lank nie, of hy wil ook soos ousus belle blaas.

Die volgende oomblik laat spaander Lira na die rotse in die vlak water van die Strand en kyk rond.  ’n Laggende Jean Luc waggel kort op haar hakke. “Kyk, mamma, kyk! ’n Seester!” roep Lira haar ma.

Lira blaas seepbelle op die strand. Foto: Jacques Stander

Die aktrise en voormalige Pasella-aanbieder Vicky Davis (37) kom nader gestap en bewonder die klein swart seesterretjie langs ’n klip in die water.

Dan wys Jean Luc na die hoë woonstelgeboue oorkant die pad en gesels met babageluidjies vrolik saam. Vicky en haar man, die musikant Schalk Joubert (44), het in Augustus 2017 hul tweede kind verwelkom – ’n seuntjie met donker oë en spierwit krulhare, net soos sy ousus.

Dis vandag die eerste keer dat albei Joubertspruite saam voor Huisgenoot se kameras baljaar.

“Hulle is verskillend, maar die twee kom in hierdie stadium goed oor die weg,” vertel Vicky later tydens ons onderhoud in ’n bedrywige koffierestaurant net ’n klipgooi van hul huis op Somerset-Wes.

Lira en haar boetie, Jean Luc, is reeds goeie maats en speel lekker saam. Foto: Jacques Stander

Die mooi donkerkop is onopgesmuk en sonder fieterjasies. “Hulle is baie lief vir mekaar en begin ook nou met mekaar speel,” vertel sy oor haar twee woelige spruite.

Dit was maar ’n aanpassing toe daar skielik ’n tweede kind in die huis is, erken Vicky. “Tog vind ek die kombinasie van ’n seuntjie en dogtertjie bring ook ’n soort balans. En dit is ’n fantastiese dinamika.”

Sy was aanvanklik onseker hoe Lira dit gaan beleef wanneer sy skielik nie meer die enigste kind in die huis is nie. Maar toe sy eindelik saam met pa Schalk haar ma en boetie by die hospitaal gaan haal, was klein Lira dadelik smoorverlief op die nuweling.

“Haar eerste reaksie was ongelooflike besitlikheid. Sy het gesê dit is háár baba, en sy het hom fisiek in sy waentjie uit die hospitaal gestoot.

Dit het ons omtrent ’n uur gevat om daar uit te kom . . . Maar sy het hom op ’n manier ge-claim,” vertel Vicky laggend.

Lira en Jean Luc deel 'n spesiale oomblik. Foto: Jacques Stander

“Ek dink dit is vir haar baie lekker om ’n boetie te hê. Sy sê dikwels: ‘Hy is só cute!’ of ‘Ek hou so van jou, kleintjie!’ “Maar ja, soms is daar nog enkele oomblikke dat sy ’n bietjie hartseer is omdat ek nie al my aandag aan haar kan gee nie.”

Tog is die aktrise bly haar kinders het nou elkeen ’n maatjie. “Wanneer jy ’n broer of ’n suster het, beteken dit later in jou lewe baie,” sê Vicky, self die jongste van drie kinders wat geheg is aan mekaar.

“Ek hoop hulle sal ook eendag kan vriende wees.”

Om ’n seuntjie in die huis te hê is ’n heel nuwe ervaring, sê Vicky. “Dit is heeltemal anders as met ’n dogtertjie, hééltemal anders.”

Hoewel klein Jean Luc of Luki, soos hulle hom soms liefdevol noem, nog klein is, kan sy sien hy is ’n ontspanne kind. “Hy is die sweet-ste dingetjie,” koer sy oor haar jongste.

“Lira het ’n sprankelende, opgewekte persoonlikheid en ons is verskriklik close, maar ek dink klein dogtertjies ervaar dinge baie intensiewer. So jy moet maar mooi met hulle werk. Seuntjies gaan net aan, maar dogtertjies is baie emosioneel; daarom werk ek ’n bietjie verskillend met hulle. Ek weet Jean Luc is nog klein, maar ek kan agterkom hy is ’n bietjie meer go- with-the-flow,” vertel Vicky oor hoe die twee verskil.

“Dit is regtig great om albei te kan ervaar.” Schalk en Lira is na aan mekaar, en dit is vir Vicky wonderlik om te sien hoe Schalk en Luki se band as pa en seun ontwikkel.

“Jean Luc is ook so ’n regte seuntjie- seuntjie. Hy sal vir jou ’n bal en ’n stok gee en die ander stok vat, dan wil hy hê jy moet hokkie saam met hom speel,” vertel Vicky.

Lira, aan die ander kant, wil nou net met grimering en juwele mooimaak. “Ek speel baie lekker dress-up saam met haar.” En wie aard na wie? “Schalk dink hulle aard na my, en ek dink hulle aard na Schalk,” skerts Vicky.

‘Ek het Jean Luc al gekry waar hy die potte uitpak en die deksels neersit, dan speel hy met houtlepels tromme’

“Lira is heeltyd besig om stories op te maak en te vertel. Soms vertel sy saans vir my stories pleks van ek vir haar,” sê Vicky, skrywer van die 2013-kinderboek A Is vir Appel.

“Jean Luc is nogal musikaal. Hy het goeie ritme en gaan sit deesdae voor die klavier met albei handjies op die klawers, nes ’n grootmens, en dan begin hy so gelyk met sy handjies beweeg, asof hy met albei hande speel.”

Wanneer hy nie voor die klavier inskuif nie, verken hy graag sy ma se kombuiskaste.

“En ek het hom al gekry waar hy die potte uitpak en die deksels neersit dat dit amper soos simbale klink, dan speel hy met twee houtlepels tromme.”

Die grootste uitdaging vir die ouerpaar is hul gebrekkige slaaproetine. “In dié stadium slaap ek en Schalk elke aand saam met een van die kinders in hul bed,” sê Vicky en begin lag.

“Om saam met ’n kleuter te slaap is baie uitdagend, hoor, want hulle slaap heeltemal uitgestrek oor die bed en jy lê hier ineengekrimp. Dan word jy beslis met die een of ander nekpyn wakker. Dit is ons een groot doel: om hulle te kry om alleen te slaap!”

Schalk en Vicky is in 2014 ná ’n vriendskap van baie jare getroud en die twee het mekaar reeds goed geken toe hulle saam nesskop.

Vicky Davis en haar dogtertjie, Lira, het ’n hegte band. Vicky het ook as kind sulke blonde krulle soos Lira gehad. Foto: Jacques Stander

Tog verg dit deesdae balanseerwerk en koördinasie om al die balle in die lug te hou, want albei van hulle werk ook heeltyds.

Schalk reis dikwels wanneer hy saam met musiekgroepe optree; ander kere is hy in die ateljee besig met die vervaardiging van ’n musiekalbum of doen hy die regie van ’n musiekproduksie.

Hy en Vicky het onlangs teruggekeer van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn, waar hul maatskappy, The Cape Town Music Academy, ’n huldeblykkonsert aangebied het om die fees se 25ste bestaansjaar te vier – Vicky was die vervaardiger en Schalk die regisseur.

Aan die begin van Maart was hulle ook op die Woordfees op Stellenbosch met die konsert Musiek en Liriek – 40 Jaar Later waarin kunstenaars soos Anton Goosen en Jannie du Toit opgetree het.

Vicky is boonop die programbestuurder van die Cape Town Music Academy, ’n maatskappy sonder winsbejag wat geleenthede en steun vir kontemporêre musikante en kunstenaars in die Wes-Kaap skep.

Tussendeur doen sy ook stem- en modelwerk en werk sy soms as vryskutaktrise. Ons sien haar binnekort in die nuwe kykNET-rillerreeks Die Spreeus, maar sy mag nog nie veel meer hieroor verklap nie.

“Dit is waarom ’n goeie steunstelsel baie help,” sê Vicky.

Gelukkig is haar ouers, Heloïse en Douglas Davis, ook op Somerset-Wes en baie betrokke by hul kleinkinders. Lira en Jean Luc gaan onderskeidelik voldag en halfdag na ’n speelskooltjie om die draai van die Jouberts se huis, en hul kinderoppasser, Fundiswa Mbobi, sit ook hand by.

“Ons probeer om teen halfses klaar te werk sodat ons ons volle aandag aan die kinders kan gee, maar wanneer een van ons dalk noodgedwonge moet laat werk, los ons mekaar af met die kinders. Gelukkig het ons albei begrip vir die eise van die vermaakbedryf en is ons goeie vriende.”

Hulle glo in gehaltetyd en dit help hulle om die balans te handhaaf.

“Jy kan byvoorbeeld heeldag by die kinders wees en op jou selfoon besig wees. Dan beteken die tyd saam met hulle nie veel nie. Ons kan dalk nie heeldag by hulle wees nie; daarom wil ons in die tyd dat ons wel saam is 100% teenwoordig en gefokus wees.”

Kykers het Vicky in 2006 leer ken toe sy die rol van Tessa Krige in die SABC2-sepie 7de Laan vertolk het. “En jy sal dit nie glo nie, dis crazy hoe mense jou daarvoor onthou – mense herken my steeds soms as Tessa,” lag sy.

Nadat sy die sepie in 2008 verlaat het, het sy by die SABC2-joernaalprogram Pasella as aanbieder aangesluit en ook in dié tyd kans gekry om as insetselregisseur agter die skerms te werk.

Vicky straal behoorlik as ma van twee. Foto: Jacques Stander

Sedert 2013 was Vicky twee jaar lank ’n vervaardiger van die Expresso Breakfast Show op SABC3 en het sy gehelp om die Afternoon Express-geselsprogram, ook op SABC3, in 2015 te begin.

Sy is gek daaroor om agter die skerms te werk, maar is net so lief vir aanbiedingswerk.

“Ek hou van die skeppende kant en om op al die verskillende plekke betrokke te wees.”

Haar ouers was albei joernaliste en hulle skryf deesdae self die nuusbulletin vir die Expresso-ontbytprogram.

Dis vandeesmaand ’n jaar sedert Vicky Pasella vaarwel toegeroep het. “Die jaar het regtig verbygevlieg,” erken sy.

Met Pasella het Vicky die land platgereis, nuwe dorpies verken, mense ontmoet en deur die kleintydfotoalbum geblaai van al wat ’n bekende is.

“Dit was so ’n bietjie soos om ’n backstage pass tot die lewe te hê, want jy kan gaan kyk wat agter die skerms van ’n fliek gebeur, jy is in bekendes se huise toegelaat, jy kan beleef wat in die kombuis van ’n restaurant gebeur. Ek is mal oor toneelspel, maar dink ek geniet die aanbieding omdat daar ook ’n element van joernalistiek is.”

Sy was met Pasella in ’n stadium 10 tot 15 dae per maand op die pad en het die program eindelik ná tien jaar gegroet. “Ek dink dit is ’n leefstyl wat by ’n sekere tyd in jou lewe pas,” verduidelik sy.

“En ek het gevoel tien jaar was ’n goeie kolfbeurt.”

Die joernaalprogram was vir haar ’n wonderlike leerskool vol ongelooflike herinnerings – van rekspring tot vryval uit ’n vliegtuig – wat sy graag eendag met haar kinders wil deel, sê sy. Maar sy is nou reg vir ’n nuwe televisie-uitdaging.

“Ek is op ’n plek in my loopbaan waar ek regtig iets wil doen wat ek sal geniet en waarin ek belangstel. En ook ’n bietjie deel kan wees van die kreatiewe proses – of dit nou dalk ’n televisieprogram is wat my kant toe kom of iets is wat ek self begin . . .” 

  • Hare en grimering: Teri Tomsett; Stilering: Abby-Gene Bissolati en Charlea Sieberhagen-Grey; Klere: Woolworths