Dit was anders as enige ander troue van ’n Britse koninklike wat ons in onlangse jare gesien het. Geen skares nie, geen parade van belangrike gaste nie, geen swetterjoel fotograwe nie.

Trouens, min mense buite die paartjie se binnekring het geweet dit gebeur. Prinses Beatrice (31) en Edoardo Mapelli Mozzi (37) het stil-stil ewige trou aan mekaar beloof.

Hulle het die maatreëls weens die coronaviruskrisis en haar ouma koningin Elizabeth se rooster in ag geneem – en was waarskynlik alte bewus daarvan dat enige groot affêre weer die kollig op haar gevalle pa sou laat val.

Dit was die eerste koninklike troue in 235 jaar wat agter geslote deure gehou is. Maar wat dit aan glans en swier kortgekom het, is in oormaat vergoed met intimiteit en nostalgie: van Beatrice se keuse van ’n uitrusting, ’n rok en tiara wat sy by haar geliefde ouma geleen het, tot die trouplek, die piepklein All Saints-kapel in Windsor waarheen die koningin die meeste Sondae vir ’n kerkdiens gaan.

koningin elizabeth
Koningin Elizabeth het die tiara wat sy op haar troue met prins Philip gedra het (LINKS) asook die rok wat sy in 1962 na die première van Law­rence of Arabia gedra het (NAASLINKS) vir Beatrice geleen. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Die bruilof met net 20 gaste is vermoedelik haastig aanmekaargeslaan nadat coronavirusreëls rakende troues in Brittanje in onlangse weke ietwat verslap is.

Die koningin se vol rooster was nog ’n groot oorweging. “Sy was die eregas, en dit was belangrik dat sy daar moes wees,” sê ’n bron aan die tydskrif People.

Beatrice word immers dikwels die 94-jarige se gunstelingkleindogter genoem.

“Die troue moes plaasvind voor Haar Majesteit aan die einde van die maand vir haar jaarlikse somervakansie na Balmoral in Skotland gaan,” vertel nog ’n bron.

Beatrice en Edo sou in Mei ’n groot troue met 150 gaste gehou het. Hulle sou by die koninklike kapel in die St. James-paleis afgehaak het met ’n onthaal in die tuin van die Buckinghampaleis agterna. Maar hulle moes dit weens die inperking afstel – en het toe dié plan gemaak.

beatrice se troue
’n Stralende prinses Beatrice het op ’n klein maar betekenisvolle seremonie met Edoardo Mapelli Mozzi afgehaak. Foto: Benjamin Wheeler/Buckingham Palace/Reuters/Gallo Images

“Baie gaste was teleurgesteld dat hulle nie die groot dag kon meemaak nie, maar verstaan die rede daarvoor,” sê ’n bron. “Soos enige ander familie ter wêreld moes hulle in hierdie tyd opofferings maak.”

Die paartjie het een voorwaarde gehad: Hulle wou nie te lank wag nadat hulle in September verlede jaar ná ’n warrelwindromanse verloof geraak het nie.

Een kykie na hul troufoto’s bevestig hul vreugde. “Beatrice se grootoog-sywaartse blik laat dit lyk asof sy nie kan glo hulle het eindelik daar uitgekom nie – ondanks ’n paar yslike struikelblokke,” sê die lyftaalkenner Judi James.

Boaan die lys van struikelblokke is die voortslepende skandaal rondom haar pa, prins Andrew, se betrokkenheid by Jeffrey Epstein.

Dié drama het die koninklike familie in die skande gebring en gemaak dat Andrew, wat ’n vriend van die oorlede seksoortreder was, sy koninklike pligte ontneem is.

Die vernedering is nog ’n rede waarom koninklike waarnemers meen Beatrice haar groot dag privaat wou hou – sy wou haar pa teen nuuskierige oë beskerm.

Maar familievriende sê dit het gegaan oor die paartjie se ware begeerte om ’n intieme plegtigheid met net hul naastes en geliefdes te hê. Beatrice het glo die aand voor die troue saam met Andrew en haar ma, Sarah Ferguson, by die Royal Lodge deurgebring.

Op die troudag het Andrew uit sy huis by die Royal Lodge daar naby te voorskyn gekom om saam met sy dogter kansel toe te stap – en wat ’n prentjiemooi bruid was sy nie.

Sy het ’n pragtige antieksjiek rok aangehad wat die koningin self in 1962 na die Londense première van Lawrence of Arabia gedra het. Haar ouma het ook vir haar een van haar kosbaarste erfstukke geleen, die pragtige Koningin Mary-diamanttiara wat sy in 1947 na haar eie troue gedra het.

“Die koningin het die deftige tiara spesifiek vir Beatrice gespaar,” sê ’n bron aan die tydskrif People. “Dit is moontlik die sentimenteelste stuk wat nog by die koningin geleen is.”

Beatrice se somerruiker het takkies mirt bevat – ’n koninklike troutradisie wat koningin Victoria begin het.

Die diens moes aan streng covid-19-maatreëls voldoen – die gaste is volgens iemand in die binnekring vooraf getoets, moes hul afstand hou en daar is nie tydens die diens gesing nie.

Beatrice het net een strooimeisie gehad, vermoedelik haar suster, prinses Eugenie (30). Sy was Eugenie se strooimeisie toe dié en Jack Brooksbank in 2018 getrou het.

Edo se familie is verteenwoordig deur sy ma, die Britse Nikki Williams-Ellis, en stiefpa, die beeldhouer David Williams-Ellis.

Sy halfbroer, Alby Shale, was ook daar, maar sy biologiese pa, die Italiaanse graaf Alessandro Mapelli Mozzi, het nie gekom nie, al is hy genooi. “Hy en Edo is nie na aan mekaar nie,” sê ’n bron.

Die bruidegom se strooijonker was Christopher Woolf, sy vierjarige seun uit sy verhouding met die Amerikaans-Chinese argitek Dara Huang.

Beatrice is nou die eerste bloubloedprinses wat ’n stiefma word – ’n rol wat haar blykbaar soos ’n handskoen pas. Die paartjie se gunstelinggedigte is tydens die seremonie deur hul ma’s voorgelees: William Shakespeare se Sonnet 116 en “

” deur E.E. Cummings. Die onthaal was ook gemaklik.

Die pasgetroudes het 13 vriende na die Royal Lodge genooi, waar hulle tot vroeg die volgende oggend feesgevier het met ’n jukebox, veerpyltjiebord en mengeldrankies.

Daar was selfs ’n springkasteel, waarskynlik vir klein Christopher, maar van die volwasse gaste het dit ook benut, sê bronne.

Koninklike kenners sê die feit dat Andrew op geen van die amptelike troufoto’s verskyn nie, spreek boekdele en sou die prins diep seergemaak het – dieselfde geld vir sy eksvrou, Fergie.

“Die mense in beheer het duidelik besluit dis nie ’n goeie idee dat hy op die historiese foto’s van die geleentheid verskyn nie,” skryf Camilla.

Die koningin het empatie teenoor Beatrice, sê nog ’n koninklike bron. “Bea en Eugenie is diep geraak deur die skandaal wat hul pa verswelg het – en, by assosiasie, haar ma, wat steeds by Andrew bly.

“Die afgelope jaar was ’n ontsettend moeilike een vir die familie. Die kinders was so platgeslaan deur dit alles. Daarom was dit regtig goed om die troue weg van die openbare oog te hê.”

Die koningin het die besluit geneem om die bruid se ouers uit die amptelike foto’s te laat – en die koningin se woord is wet, sê die koninklike kenner Katie Nicholl.

Die kommentator Richard Kay sê ook Andrew sou verslae gewees het.

“Vir hom, wat so daaraan gewoond is om die middelpunt van aandag te wees, moet die vernedering nou volkome wees. Baie mense het gedink Beatrice se troue sou ’n geleentheid vir Andrew wees om sy openbare beeld ná die Epstein-drama te begin herstel. Wanneer dit nou gaan gebeur, weet nugter.

Bronne: independent.co.uk, dailymail.co.uk, express.co.uk, townandcountrymag.com, tattler.com, elle.com, timeslive.co.uk, telegraph.co.uk, hellomagazine.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe