Gewapen met sambrele teen die reënbui het Melinda
Gewapen met sambrele teen die reënbui het Melinda Brink en Francois Brink op 20 November vanjaar getrou. Foto: Amoia Photography

Melinda, wat die rol van Tracey in die hospitaaldramareeks vertolk, en Francois, ’n musikant en voormalige deelnemer aan The Voice SA, het in November 2019 verloof geraak en sou aanvanklik in Mei vanjaar afgehaak het. Weens die coronaviruspandemie moes hulle egter hul planne aanpas. Hulle het toe op 20 November afgehaak. Nou deel sy die pragfoto's van haar groot dag met Huisgenoot.

“Ek en my man (ek giggel nog steeds elke keer wanneer ek dit sê, voeg Melinda by), het vooraf besluit om nie hierdie perfekte dag te verwag nie, maar om elke ding wat nie volgens beplanning verloop het nie, te verwelkom en te geniet. 

“Ek sal altyd die donderweer en reën onthou wat begin neersak het die oomblik toe die kapel se deure oopgaan en ek en my pa, Bennie, instap. Ons het die Here se teenwoordigheid so tasbaar gevoel,” vertel Melinda drie weke ná haar troudag. 

Melinda en Francois het behoorlik die reënweer op
Melinda en Francois het behoorlik die reënweer op hul troudag geniet. Foto: Amoia Photography

Die dag voor haar troue het die aktrise aan Huisgenoot vertel dat sy nie te hartseer was oor die veranderinge wat hulle noodgedwonge vir hul spesiale dag moes aanbring nie, want als het “op die mooiste manier” verander.

En haar troudag was werklik gevul met vele kosbare oomblikke. 

“Dit was ’n besonderse dag van saam die verlede laat gaan, saamdroom en beloftes maak vir die toekoms, om in die oomblik te kon wees en om baie van blydskap te lag en huil! Dit was ook vir ons baie spesiaal om ons hondeseuntjie, Kallie, daar te kon hê om vir ons die ringe in te bring," het Melinda vertel.

Hul hondekind Kallie het die groot taak gehad om d
Hul hondekind, Kallie, het die groot taak gehad om die ringe in te bring. Foto: Amoia Photography

“My niggie het ook vir ons ’n pragtige boodskap en liedjie van Riana Nel, wat Francois se mentor in The Voice SA was, gespeel in die ontvangsarea,” verklap Melinda. Die egpaar het vooraf besluit om hul eie troubeloftes te skryf, en Melinda vertel dat sy heeltemal verras was toe dit Francois se beurt was. 

“Hy het spesiaal vir my ’n liedjie geskryf en gesing as deel van sy beloftes. Ek sal nooit vergeet hoe ek my vals wimpers afgetjank het nie,” lag sy. 

Melinda Brink en Francois Viljoen het op 20 Novemb
Melinda Brink en Francois Viljoen het op 20 November ewig trou aan mekaar beloof. Foto: Amoia Photography

Pa Bennie se woorde in sy toespraak was ook een van Melinda se gunstelingoomblikke tydens die onthaal.

“My pa het ’n goeie geheue en het, soos net hy kan, humoristies begin by die dag toe ek gebore is en hoe hy die Bokke se wedstryd op die draadloos geluister het saam met die dokter wat die wedstryd op die kassie misgeloop het as gevolg van my tydsberekening. Later, natuurlik ná baie trane en lag deur die trane, was ek oorweldig deur dankbaarheid dat hy mý pappa is en dat ek weet ek is so geliefd. Francois het dieselfde gevoel, want enige nuwe skoonseun waardeer sy skoonpa se woorde van vertroue, liefde en aanvaarding.”

Melinda sien uit na hul behoorlike wittebrood oor
Melinda sien uit na hul behoorlike wittebrood oor die Desember-vakansie. Foto: Amoia Photography

Die weer het geensins die nuwe egpaar se vreugde ontspoor nie. 

“Die fotograaf, Amoia Photography, het vir ons gesê dis net die tweede keer in haar loopbaan van 25 jaar waar dit so gereën het tydens die bruidspaar se fotosessie. Dit was verseker uniek en daar is pragtige oomblikke vasgevang,” onthou Melinda opgewonde. 

Die Viljoen-egpaar het die Saterdag ná hul troue vinnig koers gekies Magaliesburg toe, maar moes weer die Maandag terug wees vir werk. 

“Ons het besluit om liewers ’n lekker Desembervakansie vir ons wittebrood te doen, so ons gaan ’n bietjie see toe oor Kersfees en Nuwejaar,” laat Melinda hoor. Maar vir eers is sy dolgelukkig om net die gevoel van getroud wees te geniet. 

Om haarself Francois se vrou te kan noem is wonder
Om haarself Francois se vrou te kan noem is wonderlik, verklap Melinda. Foto: Amoia Photography

“Ek het voor ons getrou het by baie ander getroudes gehoor dat niks verander nie. Maar ek kan vandag met oortuiging sê, alles verander! As ’n mens na God se perfekte idee vir die huwelik kyk, kan dinge nie anders as om te verander nie, op die mooiste manier. Om getroud te wees is ’n ongelooflike gevoel van veiligheid en oorgee en ’n span word in elke aspek van ons lewens."

En niks kan die gevoel oortref van "die liefde en blydskap wat oor ’n mens kom elke keer wanneer jy opnuut besef 'ons is nou getroud’ of mekaar ‘my man’ of ‘my vroutjie’ kan noem" nie, koer Melinda opgewonde.