Die wolke pak saam om die toring van die byna eeu oue Katolieke kerkie op die Letsatsi-landgoed tussen Vredendal en Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap.

Maar die reën bly weg – nes in die omgewing van Carnarvon in die Noord-Kaap waar Carl Möller en sy medeboere saam met die Karoovlaktes na uitkoms smag.

Maar midde-in ’n versengende droogte is die boerebruilof vandag ’n lafenis vir hul gemoed. Al het Carl (34), ’n deelnemer aan die 10de seisoen van Boer soek ’n vrou, toe nie voor die TV-kameras liefde gevind nie, trou hy vandag met sy droomvrou.

En toevallig het sy blonde bruid, Danél Saayman (25), ’n onderwyseres van Vredendal, vir dié seisoen van die maatsoekreeks op kykNET ingeskryf. Sy het eers boer Jacques Vlok (29) in die oog gehad.

Danél se trouring met een groot diamant en 54 klein diamantjies rondom. Foto: Corrie Hansen

Dis dié dat Carl die dag voor die troue oor die bieghokkie in die kerk spot: “Ek dink ek moet haar daar invat en seker maak sy is oor Jacques.” “Daar was niks,” laat Danél hoor.

“Ek het vir Jacques geskryf, want hy bly op Loeriesfontein, wat naby genoeg is dat my ma my dieselfde aand kan kom haal as ek nie meer daar wil wees nie.”

So ’n drastiese stap was toe darem nie nodig nie. Sy en Jacques is goeie vriende en hy is onder die 150 bruilofsgaste. Al word op die groot dag gelag en gesels, is die wurggreep van die droogte nie vergete nie.

“Ons jonger boere is vol moed en hoop, maar dit verander nie die situasie nie,” sê Carl, ’n skaapboer. “Met Danél aan my sy sal dit makliker wees.”

Hul eerste soen as man en vrou. Foto: Corrie Hansen

Hul lewenspaaie het wye draaie gemaak voor dit gekruis en hulle vandag kansel toe gelei het. Toe Danél twee jaar gelede vir boer Jacques geskryf het, het haar ma, Deirdré (50), reeds ’n ander boer vir haar dogter in die oog gehad.

“Toe my ma Carl op TV sien, het sy gesê: ‘Dís nou vir jou ’n oulike boer,’ ” onthou Danél.

“Maar ek het gemeen my ouderdom gaan teen my tel en dat hy nie eens na my brief sal kyk nie,” sê sy oor hul ouderdomsverskil van nege jaar.

Ouers
Danél en haar ouers, Dawid en Deirdré Saayman. Foto: Corrie Hansen

Al was sy een van die drie vroue wat Jacques na sy plaas genooi het, het die liefde toe nie tussen hulle geblom nie. Ook Carl het nie sy hart op een van die vroue verloor wat hy voor die TV-kameras ontmoet het nie.

Maar dit was ’n ander storie toe sy en Danél se paaie ’n paar maande later kruis. ’n Vriendin van Carl, Janika Louw (28), het Kupido gespeel nadat sy Danél toevallig een Saterdagmiddag op Vredendal op ’n geselligheid ontmoet het, nog voor die reeks op TV was.

Die pas­getroudes word deur gaste met vars blomme­blare bestrooi toe hulle uit die kerk stap nadat hulle die jawoord gegee het. Foto: Corrie Hansen

Die ontmoeting het Janika laat besluit: Dis Carl se trouvrou dié. Sy was by toe hy die briewe van vrouebewonderaars gelees het nadat hy vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het.

“Sy het geweet wat ek in ’n vrou soek: iemand wat spontaan is, lekker gesels en goeie beginsels en waardes het,” sê Carl.

Toe Janika hom destyds van Danél vertel, het hy haar op Facebook bevriend. Kort daarna, toe hy na ’n ramparty op Villiersdorp genooi is, het Carl die middag op pad daarheen haar blou motortjie toevallig naby die nuwe brug buite Vredendal gewaar en haar herken. “Ek is agter jou,” het hy oor die selfoon laat weet.

Toe hulle langs die pad uitklim, was Danél se eerste woorde glo: “Can’t resist . . .” Of so vertel Carl graag.

Daardie middag in Oktober 2017 het hulle in ’n restaurant soos ou vriende die ure omgesels. Die Boer soek ’n vrou-reeks waarin hulle albei verskyn, was toe reeds geskiet, maar het pas op die kassie begin.

“Mense het ons saam gesien en gevra: ‘Is jy nie by die verkeerde boer nie?’ ”sê Danél.

“Dan antwoord ek: ‘Wag en kyk.’ Dit was moeilik om die geheim te hou.”

Die pasgetroudes dans. Foto: Corrie Hansen

Net so moeilik was die afskeid elke keer wanneer Carl ná ’n kuier by haar die 450 km tussen sy plaas en haar tuisdorp moes aandurf. Maar nou het Danél haar gr. 3-klas by die Primêre Skool Vredendal-Noord vaarwel toegeroep.

Die Katolieke kerkie waar hulle op Saterdag 21 September ewige trou beloof, dateer uit 1926.

Eers daag die blommemeisie, Sarí Boomker, op.

Sy is ’n jaar oud en haar ma, Sunita (32), Carl se suster, stoot haar binne in ’n houtwaentjie met blomme versier.

Sunita Boomker, Carl se sussie, stoot die blommemeisie, Sarí, in ’n bruilofskarretjie in die paadjie af. Foto: Corrie Hansen

Toe klink Danél se stem oor die luidsprekers op met ’n boodskap wat sy vooraf opgeneem het. Daarin beloof sy om haar “liefste Carl” deur dik en dun by te staan: “As die droogte jou op jou knieë dwing, sal ek ook op my knieë gaan en saam met jou bid.

En as die reën oor ’n jaar of wat kom, sal ek saam met jou dans en baljaar in die reën.”

Klokslag om vieruur daag die bruid in haar wit enkellengte-trourok aan haar pa, Dawid (56), se arm op en stap haar bruidegom tegemoet.

Hul liefde is nie ’n 7de Laan-, Boer soek ’n vrou- of Getroud met rugby-liefde nie, maar ’n Bybelse liefde, sê ds. Bekker Nieuwoudt, wat die plegtigheid behartig.

“Dis nooit ’n neem-en-gee-liefde nie. Dit is sonder om iets terug te verwag.”

Nadat die bruidspaar hul huweliksbeloftes afgelê het, weerklink Juanita du Plessis se lied “Ons belofte aan mekaar”.

Terwyl die bruidspaar vir foto’s poseer, word happies voorgesit met pizzavulsels, kase, konfyte en smere. Later is Karoo-lamsboud, hoenderstukke, pampoenpoffertjies, melktertjies en Peppermint Crisp-tertjies op die spyskaart.

“Die duiwe van Sandpan sal trots wees op hoe jy pronk,” sê Robert Boomker (33), die seremoniemeester, vir die bruidegom, sy swaer.

Carl is al sedert 2011 ’n wedvlugduifgeesdriftige.

“Daar is een boer hier onder ons wat die vis laat wegkom het,” spot Robert, en by tafel 18 wys boer Jacques na homself. Dit laat die ander drie Boer soek ’n vrou-deelnemers aan sy tafel skaterlag.

Hulle is Stoffel Boshoff (32), wat al vyf maande getroud is, Willie Dreyer (24), wat op trou staan in Oktober vanjaar en Eben Prinsloo (31), wat aanstaande jaar in Maart trou.

Die TV-boere wat daar was: Jacques Vlok (links voor), Eben Prinsloo (regs voor), Willie Dreyer (links agter) en Stof­fel Boshoff (regs agter). Heel agter is Derius Kruger. Foto: Corrie Hansen

Jacques is enkellopend. Later verdwyn die vier boere en kom met ’n hooibaal terug wat hulle by die trougeskenke in die voorportaal neersit. Daarmee wil hulle hul meelewing wys met Carl en ander boere van sy kontrei wat swaar trek in die droogte.

“Baie, baie dankie, ouens,” sê Carl. Toe draai hy na sy bruid. “My skat, ek het nie woorde nie. ’n Blou diamant soos jy skop ’n mens nie agter elke bos uit nie. Nou hoef ons nie weer bye te sê nie. Jy gaan saam plaas toe.”

Voor hulle op Sandpan gaan nesskop, neem Carl haar Zanzibar toe vir ’n wittebrood in die eiland se turkoois waters. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.