Lood de jager, constance de jager
Die Springbokstut Lood de Jager en sy vrou, Constance, het in September die ouers van ’n babadogtertjie geword. Foto: Kikitography

Op die rugbyveld kry selfs die grootste manne die ritteltit wanneer hy met daardie ellelange treë die slag regtig inklim. 

Die sagmoedige reus met die vriendelike seunsgesig – soos in rugbykringe van die Springbokslot Lood de Jager gepraat word – is immers ’n kolos van meer as 2 m lank. Net sy brute stootkrag in die skrum is genoeg om menige sterkman te laat sidder . . . 

Benewens die glorie op die rugbyveld is daar vir Lood (27) een titel wat al die ander troef: “Pappa.” 

Die Springbokheld en sy vrou, Constance (27), bars van trots wanneer hulle praat oor hul gesin wat onlangs, ná die geboorte van hul dogtertjie, Annah Fraym, op 15 September op SomersetWes in die Wes-Kaap, na vier uitgebrei het. Die “groot bondeltjie” het hulle “baie verras”. Met geboorte het sy ’n stewige 4,56 kg geweeg en sy was 57 cm lank. Sommer vanuit die staanspoor lank, nes haar pa.

Lood was op die groot dag nog op pad terug uit Manchester, Engeland, waar hy klubrugby speel. Terwyl Constance in die kraamsaal was, het ’n angstige Lood op die lughawe in Amsterdam, Nederland, vir ’n aansluitingsvlug én vir die koms van sy dogtertjie sit en wag. 

“Dit het half onwerklik gevoel. ’n Mens kan nie dink jy’s ’n baba ryker terwyl jy op Amsterdam se lughawe sit nie,” vertel hy.

Lood de jager, constance de jager
Al het die Bokstut Lood de Jager verskeie rugbyseges in sy loopbaan gehad, is sy vrou, Constance, en hul twee kinders, Elijah en Annah, sy grootste wentitel. Foto: Kikitography

“Hy was op Facetime toe sy gebore is,” las Constance by. En tydens dié video-oproep kon hy kwalik die trotse glimlag van sy gesig vee.

’n Dag later kon hy eindelik die nuwe toevoeging tot hul gesin ontmoet. Die klein donkerkoppie het haar ouers se hart dadelik gesteel. En klein Elijah (byna 2), haar boetie, kan nie ophou om drukkies vir sy kleinsus uit te deel nie.

“Hy wil haar net heeltyd vashou,” vertel Constance oor hul seuntjie wat sy en Lood in 2018 aangeneem het toe hy ’n paar maande oud was. “In die eerste paar dae ná haar geboorte het Eli haar gereeld probeer skrikmaak deur soos ’n leeu te brul. Dit was te kostelik.” 

Dis blomseisoen in hul lewe, sê Constance. Want selfs al kon Lood verlede jaar daardie goue Wêreldbekertrofee omhoog hou, bly hulle mekaar se grootste geskenk.

“Lood wil hê ons moet sommer ’n klomp kinders hê,” sê sy. 

Hoeveel is ’n klomp? “ ’n Baie groot gesin,” antwoord Lood. “Ek wil nie ’n syfer hardop sê nie, want ek is bang my vrou hardloop weg.”

Lood de jager, constance de jager
As dit van Lood afhang, is hulle gesin van vier net die begin . . . Foto: Kikitography

Pa-wees nog altyd sy droom

Hy wou nog altyd ’n pa wees. As skoolseun het hy nie net daarvan gedroom om eendag die groen-en-goud oor sy kop te trek nie; ook om ’n gesin te hê. 

“Ek het van ’n jong ouderdom af baie na my eie pa opgekyk en altyd gedink dis wat ek ook eendag wil hê – ek wil ook ’n pa wees,” vertel hy.

Maar hoe voel Constance oor sy droom van “ ’n baie groot gesin”?

“Dis dalk ’n bietjie vinnig vir so ’n vraag,” antwoord sy. “Maar ons sal graag weer ’n keer wil aanneem.” 

Ná ’n huwelik van vier jaar sê die Bokstut hy staan dikwels verdwaas oor hoe “tough” sy vrou is, veral in die afgelope paar maande. 

Sy het ’n moeilike eerste trimester in haar swangerskap gehad toe sy met ’n seldsame toestand van kwaai oggendnaarheid – bekend as hyperemeses gravidarum – gestoei het, wat ’n fraksie van swanger vroue se lot is. Dit is dieselfde toestand wat prins William se vrou, Kate Middleton, tydens haar swangerskappe in die hospitaal laat beland het.

“Sy het soveel deursettingsvermoë gehad met die swangerskap,” sê Lood vol bewondering oor Constance. “Sy was baie siek, maar het steeds na Eli omgesien en baie gereis. Sy is ’n ongelooflike mens wat enigiets sal doen vir die mense vir wie sy lief is.”

Lood de jager, constance de jager
Lood en Elijah het ’n baie spesiale band. Foto: Kikitography

Die rugbyreus en die petite donkerkop wat met gemak onder sy arm kan inglip, het mekaar in 2014 by ’n braai in Bloemfontein ontmoet. Hulle het dadelik geweet hulle is vir mekaar bedoel, het hulle al tevore aan Huisgenoot vertel.

Nou koer Constance oor haar man: “Ek is oortuig daarvan dat hy die beste pa in die wêreld is.”

Die gesin is in Januarie vanjaar sak en pak Manchester toe waar Lood ’n vierjaarkontrak met die Sale Sharks-rugbyklub onderteken het. Constance het in dieselfde tyd gehoor sy is swanger. 

“Die nuus was vir ons albei soos ’n wonderwerk,” vertel sy. “Ons was ontsettend opgewonde oor ons gesinnetjie wat groter sou word.”

Vir albei was een ding seker: Constance moes in Suid-Afrika die lewe kom skenk. Daarom het sy in Julie toe sy 32 weke swanger was sonder Lood hierheen teruggekeer.

“Die meeste van ons familie bly in die Kaap; so ons het ’n groot steunnetwerk van familie en vriende hier. Ons groot behoefte was ook om mense om ons te hê wat vir Eli kon besig hou terwyl ek nie so beweeglik was nie,” verduidelik sy.

Lood de jager, constance de jager
Lood en klein Elijah. Foto: Kikitography

Haar ouers, Lourens en Connie Bekker, woon in die Paarl en Lood se ouers, Lood sr. en Juanita, in Somerset-Wes. 

Constance se suster, Isobel Viljoen (30), het Lood se skoene op die dag van haar bevalling in die Mediclinic Vergelegen volgestaan. “Ek spot en sê sy was sommer my all in one support – my man, my doula, die masseuse en sommer videograaf en cheerleader ook. Sy was ongelooflik.” 

Sy en Lood was aanvanklik bang die streng reisbeperkings weens die covid-19-pandemine sou meebring dat hy eers weke ná Annah se geboorte by hulle kan aansluit, maar ’n skouerbesering het toe sy terugkeer bespoedig. Dieselfde besering wat hy verlede jaar tydens die Wêreldbekereindstryd opgedoen het, het tydens ’n onlangse wedstryd vir die Sale Sharks vererger en Lood moes terugkom Suid-Afrika toe vir ’n operasie.

“Dit was die silwer randjie van sy besering,” sê Constance.

Die geboorte van klein Annah

Klein Annah was net ’n dag oud toe haar pa hier aangekom het. Dit was liefde met die eerste oogopslag, vertel sy oor Lood se eerste ontmoeting met sy dogter. 

Haar naam beteken “God has favoured her”. “En jy spreek dit sommer gewoon Afrikaans uit. Selfs al spel ons dit baie fancy,” sê Constance.

“Sy is ongelooflik oulik,” spog die ma met haar jongste. “Sy slaap baie en is altyd honger – in daardie opsig is sy haar pa se kind.

“In die begin het sy baie na haar pappa gelyk, maar nou begin sy ál meer na my lyk – en daaroor is ons baie verlig!” terg sy vir Lood.

Maar sy is die ene erns wanneer sy vertel hoe ongelooflik dit is om Lood met Elijah en Annah dop te hou. 

Lood de jager, constance de jager
Klein Annah. Foto: Kikitography

“Joeg, hy is ’n ongelooflike pappa. Hy is ’n raakvatter: Hy ruil doeke om of lees vir Eli ’n boek om hom saans aan die slaap te sus. Selfs al is sy program soms veeleisend, sit hy baie energie by die huis in speeltyd in. Hy geniet dit ontsettend baie as Eli speel en gelukkig is; daarvoor sal hy sy eie gemak en moegheid opsy sit.”

En Lood beaam: “Die lekkerste deel van pa-wees is om met hulle te speel en te sien hoe gelukkig dit hulle maak. Dit bring vir my groot vreugde.”

Maar vir ’n pa wie se ander groot liefde – rugby – hom dikwels duisende kilometers ver van sy gesin wegneem, is dit nie altyd maklik nie.

“Om vir lang tye weg van die huis te wees is seker die een van die moeilikste dinge,” erken hy. “ ’n Mens besef eers die waarde van tyd saam wanneer jy weg is van mekaar. Dit is aaklig.”

Gelukkig sal hy sy gesin kan saamneem wanneer hy binnekort na Engeland terugkeer. Lood het kort ná Annah se geboorte ’n skoueroperasie in die Mediclinic Constantiaberg in Kaapstad ondergaan. Dit was ’n sukses, maar ’n rehabilitasieproses van minstens ses maande wag nou op hom in Manchester.

Dit bly elke keer vir hulle moeilik om van hul mense hier afskeid te neem.  

“Jong, dit was maar ’n aanpassing,” sê Constance oor die groot trek na Engeland. “Die weer is die grootste uitdaging. In die winter raak dit soggens eers ná negeuur lig, en die son sak weer net ná vieruur. Ons mis die mense, ons mense. Dis eers wanneer jy in die buiteland was dat jy besef watter ongelooflike land Suid-Afrika werklik is. Die dae daar is kort en koud en dit raak moeilik om ’n besige seuntjie in ’n woonstel besig te hou.”

Op twee volg Elijah al in sy pa se voetspore, reken sy ma. “Hy is gek oor enige bal. Hy geniet dit ongelooflik baie om sy pappa op die kassie te sien rugby speel. Hy vertel met groot trots vir almal van sy pa.” 

Lood de jager, constance de jager
Lood hou sy Annah vas. Foto: Kikitography

Hulle “gelukkige seun met die sagte hart” leer hulle nog elke dag van liefde, sê Constance. Sy en Lood was uit die staanspoor albei passievol oor aanneming, en het al vroeg in hul verhouding besluit om op dié manier met ’n gesin te begin.

“Dit was vir ons belangrik om eerste aan te neem sodat Eli kan besef hy was ons eerste keuse en behoefte,” verduidelik sy.

Al was die aanneming geen maklike proses nie, kan hulle hulle vandag nie die lewe sonder hom indink nie.

“Ons geloof is getoets,” onthou Constance. “Maar die Here het vir ons soveel vrede kom gee en ons kon nie anders as om te weet dat dit vir ons beskore is nie. Min het ons geweet hoe die Here ons gaan bless met klein Eli.

“ ’n Mens dink aanvanklik jy doen ’n ‘goeie ding’ om aan te neem, maar om klein Eli as ’n kind te hê is net een groot blessing. Hy was nie lucky om by ons uit te kom nie; ons was lucky om hom as seuntjie te kry.” 

Hy en sy sussie is reeds onafskeidbaar. “Annah is een van die woorde wat Eli al die mooiste kan uitspreek en kan sê,” spog hul ma.

Lood de jager, constance de jager
Klein Elijah is dolverlief op sy kleinsus, en kan kwalik ophou om drukkies uit te deel. Foto: Kikitography

’n Lewe op die pad

Om ’n rugbyheld as wederhelf te hê sorg dikwels vir chaos in die dagboeke, erken Constance. Maar haar lewe saam met Lood bly ’n avontuur.

“Ons sê gereeld vir mekaar: Ja, soms is dit ’n bietjie besig en deurmekaar, maar die lewe is nooit vervelig nie.

“Soms is dit moeilik omdat jy min kan beplan en om ver van die familie af te wees, maar ons het soveel om voor dankbaar te wees – die goeie oorskadu al die ander klein uitdagings wat ons teëkom.”

Terwyl hulle nog in Suid-Afrika is, bly “oumas en oupas” die grootste seën. “ ’n Mens voel soms maar baie onhandig met so ’n klein lyfie,” erken Constance, “maar my ma leer my elke dag soveel dinge. Sy het so ’n natuurlike aanslag met babas.” 

Sy hoop die blomseisoen in hul lewe kom nooit tot ’n einde nie. Maar as sy dalk net een wens kon hê . . .

“Dan sou dit wees dat ons gesinnetjie kan settle; dat ons op een plek saam kan tyd deurbring.” 

En Lood se wens? Dis volbring, skryf hy op Instagram. “Ek sê elke dag dankie vir God dat hy Constance geskape het. Ek kan steeds nie glo sy is my vrou nie.”

Lood de jager, constance de jager
Die slot hou daarvan om saam met sy seun in die buitelug te speel – selfs al is hy moeg ná ’n lang dag op die veld. Foto: Kikitography
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe