Skaars drie weke oud, maar ewe dramaties uitgevat in ’n swart kolletjiesrompie wat uitpof, lyk dit of Aleiah-Rose Linden haar regmaak vir ’n lewe op die verhoog.

Waar sy knus in haar ma se arms lê, strek sy haar lenige beentjies uit en punt haar tone so asof sy wil oefen vir al die danspassies wat sy nog gaan uitvoer.

“Ag, sy is só oulik,” koer die sangeres Charlize Berg oor haar en haar man, Warren Linden, se eersteling.

“Ek is nog besig om uit te freak oor haar. Sy is nog net twee weke by die huis.” Dit was so amper of die kleinding het haar opwagting op haar ouers se eerste huweliksherdenking op 13 April gemaak.

Klein Aleiah – of Allie soos almal haar noem – is net ’n paar dae later om 10:12 op die oggend van 17 April met ’n keisersnee in die Unitashospitaal in Centurion gebore.

Sy het ’n gesonde 2,94 kg geweeg en was 49,5 cm lank. Die swangerskap was ’n groot verrassing vir die jonggetroudes wat mekaar al as tieners by die Hoërskool Eldoraigne in Centurion ontmoet het.

Aleiah-Rose se babakamer is in ligte skakerings van grys en pienk versier. Foto: Sharon Seretlo
Foto: Sharon Seretlo

“Ons het dit glad nie beplan nie. Maar nou . . . sy het soveel rykdom in ons lewe ingebring.

"Om ’n kind te hê is so ’n wonderwerk. Dit verander jou hele uitkyk op die lewe wanneer sy in jou arms lê,” sê ’n stralende Charlize (26).

Dan erken die sanger van die treffer As Jy Weet Dis Liefde: “Ek het nooit geweet daar is nog soveel liefde in my om te kan gee nie. Dit is baie vervullend.”

Pa Warren (ook 26) haal ’n pienk rokkie en bypassende gebreide skoentjies uit die kas vir sy babadogter se eerste amptelike fotosessie.

“Sy het meer klere as ek en Charlize saam,” sê die argitek wie se heuningblonde hare net ’n raps korter as sy vrou s’n is. Charlize skud haar blonde krulhare oor haar skouers en maak grootoog vir die baba.

“Sjoe, ek is omtrent broeis,” laat sy hoor.

Charlize ­vertel sy is sommer nog baie broeis oor die kleinding. “Dit verander jou hele uitkyk op die lewe,” sê sy. Foto: Sharon Seretlo

Die babakamer is in skakerings van pienk en liggrys getooi. Teen die muur hang ’n geraamde skets met die woorde: Beautiful girl, you can do amazing things.

Langsaan is ’n skets met haar naam in sierletters daarop geskryf: Aleiah-Rose.

Dié ongewone naam is deels in ’n droom aan hulle geopenbaar, vertel Charlize. En ’n ander droom het al vroeg-vroeg verklap ’n dogtertjie is op pad.

Kort nadat sy uitgevind het sy is swanger en voor die baba se geslag bepaal kon word, het Charlize se pa, Petrus, gedroom van ’n dogtertjie met lang hare wat voor hom staan. Sy het hom aan die hand geneem en gesê: “Kom, oupa.”

Die volgende dag het Petrus gesê die woord Rose moet in sy kleindogter se naam wees, “want sy is my rosie”.

Toe ’n sonar daarna bevestig hulle verwag ’n babadogter, kon Charlize en Warren nie op ’n naam besluit nie.

“Ons het letterlik honderde name oorweeg, maar niks het reg gevoel nie,” vertel sy.

Sy was sowat ses maande swanger toe sy droom haar ma, Ilse, vra vir haar: “Waar is Aleiah?”

Dit was die eerste keer dat Charlize dié naam hoor, en toe hulle dit naslaan, sien hulle dit het ’n Hebreeuse oorsprong en beteken “opkomend’’.

“Toe weet ons dis die regte naam en kom van God af.”

Aan die begin van haar swangerskap was sy “maar lekker siek”, sê Charlize, maar ná die eerste trimester het dit beter gegaan.

Tot op 28 weke het sy steeds opgetree. “Toe het ek opgehou, want die harde musiek van die luidsprekers op die verhoog kan nie goed vir die baba se ore wees nie.

Oupa Petrus en ouma Ilse, Charlize se ouers. Foto: Verskaf

"Ek het ook bang geword om na optredes te vlieg,” verduidelik sy. Sy het daarna voortgegaan om vir haar ongebore baba musiek te speel – “allerhande musiek, maar ook van my eie liedjies”.

En dit lyk asof klein Aleiah voor geboorte ’n gunstelingliedjie gehad het.

“Ek dink sy hou veral van my liedjie Wit Rok, want wanneer ek dit gespeel het, kon ek voel sy beweeg anders,” vertel die nuwe mamma.

“Sy moet my musiek ken; sy het my live gehoor toe sy nog in my maag was.”

Terwyl ons gesels, skuif Charlize ongemaklik op haar stoel rond. Die wond van haar keisersnee is nog baie seer, verduidelik sy.

‘Ek het nooit geweet daar is nog soveel liefde in my om te kan gee nie’

“Daar is ’n persepsie dat ’n keiser maklik is, maar dit is nie. Dis seer.”

Ma en dogter is drie dae ná die geboorte ontslaan, maar Charlize is twee dae later weer in die hospitaal opgeneem weens ’n chroniese ingewandsiekte.

“Toe kon ek haar twee dae lank glad nie sien nie. Dit was die traumatiesste van alles en die langste twee dae van my lewe. Ek het die tyd net omgehuil.”

Ouma Ilse het in dié tyd by Warren en Aleiah kom bly om met die baba se versorging te help.

Soos enige nuwe ma het Charlize aanvanklik haar vrese gehad. Sy het haar onder meer bekommer dat sy nie sal weet wat dit beteken as haar baba huil of kerm nie.

“Maar ná die geboorte het die babataal dadelik ingeskop. Ek het onmiddellik geweet wat elke skree beteken.” Aleiah-Rose begin juis te kerm.

Sy is honger, verduidelik Charlize voor sy kamer toe gaan om die baba te borsvoed. Later vertel sy sy en Warren slaap maar min, want Aleiah moet elke drie uur gevoed word.

“Ons het kringe onder ons oë; moenie dat hierdie grimering jou fool nie,” spot sy en beduie na haar gesig.

Warren en Charlize kort ná die geboorte in die hospitaal. Foto: Verskaf

Gelukkig bly Charlize se ouers en Warren s’n, John en Yvonne Linden, naby en kan hulle met die baba kom help.

“Hulle is ’n telefoonoproep ver.”

Oupa Petrus kom loer elke oggend op pad na sy werk as eiendomsontwikkelaar in om sy klein Rosie te groet.

Ouma Ilse maak ook elke dag ’n draai. Charlize gaan vandeesmaand nog rustig saam met haar baba deurbring, maar vroeg in Junie begin sy met opnames vir ’n Kersalbum, en in Augustus keer sy terug na die verhoog.

As sy naby genoeg aan die huis optree, sal Warren en Aleiah saamgaan. So nie sal die baba by haar oumas agterbly.

Dink sy haar dogter gaan eendag in haar voetspore in die musiekwêreld volg?

“Eintlik maak dit nie saak watter loopbaan sy eendag wil volg nie,” sê Charlize.

“Maar as dit in die vermaakbedryf is, sal ek wil hê sy moet eers iets gaan studeer. Die bedryf is maar onvoorspelbaar.”

Warren het sy eie argiteksfirma, Linden-Berg. Dalk sal Aleiah-Rose liewer planne teken as musiek maak en die onderneming oorneem.

Maar oupa Petrus wil hê sy kleindogter moet ’n dokter word. Dis alles groot drome van ’n blink toekoms vir ’n klein mensie wat reeds diep in baie harte ingekruip het.