Die aktrise Kate Roothman het onlangs met Willie O
Die aktrise Kate Roothman het onlangs met Willie Oberholster, haar kêrel van die afgelope 11 jaar, getrou. Foto: Chené Smit van PETAL & LEAF PHOTOGRAPHY

Op Vrydag 23 Oktober het die twee toe op ’n plaas in Muldersdrift, Gauteng, voor hul naaste vriende en familie ewige trou aan mekaar beloof. 

“Dis ’n onbeskryflike gevoel om getroud te wees. Armand Aucamp het eenkeer vir my gesê: ‘Daar is iets so mooi daaraan om iemand jou familie te maak,’ en ek kan dit nie mooier stel nie,” sê Kate.

“Ons droom so lekker saam oor die toekoms. Ons is baie opgewonde oor wat vir ons voorlê en om saam daaraan te bou,” koer sy.

Willie en Kate se eerste soen as man en vrou. Foto
Willie en Kate se eerste soen as man en vrou. Foto: Chené Smit van PETAL & LEAF PHOTOGRAPHY

Die idee vir die troue het eintlik as ’n grap tussen Kate en Willie ontstaan. 

“Ons het aanvanklik gegrap en gesê ons gaan sommer in die hof trou. Hoe meer ons daaroor begin praat het, hoe meer het ons begin voel dat ons dit regtig wil doen, en dat ons dit saam met ons naastes wil vier,” vertel sy.  

Kaila Botha het Kate se grimering gedoen. Foto: Ch
Kaila Botha het Kate se grimering gedoen. Foto: Chené Smit van PETAL & LEAF PHOTOGRAPHY


Teen die einde van September het Kate, haar ma, René du Toit, en haar sussie, Marsel Roothman, weggespring met die troureëlings. 

Kate en haar ma, René du Toit, deel ’n spesiale oo
Kate en haar ma, René du Toit, deel ’n spesiale oomblik. Foto: Chené Smit van PETAL & LEAF PHOTOGRAPHY

“Hulle het gewoeker, veral my sussie met al die reëlings en die dekor. Sy is ’n fotograaf en neem baie troues af, so sy het gelukkig geweet wat ons in so ’n kort tydjie uitgerig gaan kry,” laat Kate hoor. 

Willie klink ’n glasie met die akteur Ruan Wessels
Willie klink ’n glasie met die akteur Ruan Wessels. Foto: Chené Smit van PETAL & LEAF PHOTOGRAPHY

“Daar was nie nog tyd om vol fiemies te wees oor sekere goed nie, maar ek is eintlik dankbaar daarvoor, want ek kan vinnig van plan verander as ek wil.”

Kate het in Februarie 2017 haar debuut op die kassie gemaak as Rosie Spencer in die dramareeks Erfsondes. Sy het later daardie jaar by die sepie Getroud met rugby aangesluit as Anna. Sy het verlede jaar dié sepie gegroet.

'n Hele paar Getroud met rugby-sterre was onder die gaste toe Kate en Willie, haar kêrel van die afgelope 11 jaar, afhaak. Hieronder was die akteur Werner Coetser en sy vrou, Marijke (Blitz en Maryke), Marlee van der Merwe (Kristien) en Melissa Massyn, wat Nesie speel.

Kate by Melissa Willering en die Ge­troud-skrywer
Kate by Melissa Willering en die Ge­troud-skrywer Burger Meyer. Foto: Chené Smit van PETAL & LEAF PHOTOGRAPHY
’n Hele paar Getroud met rugby-sterre was onder di
’n Hele paar Getroud met rugby-sterre was onder die gaste. Van links is Werner Coetser, Melissa Massyn, Marijke Coetser, Marlee van der Merwe en Kate. Heel regs is Armon Barnard, die man wat Kate se hare gedoen het. Foto: Chené Smit van PETAL & LEAF PHOTOGRAPHY

Hul wittebrood sal vir eers moet wag, vertel Kate. 

“Ons skedule is 'n bietjie woes op die oomblik, so ons gaan Desember ’n bietjie wegbreek vir ’n mini-wittebrood. Ek is tans besig met die kykNET 10-films, waarvan ek een reeds verfilm het en nou voorberei vir die volgende een. Verder is ek besig met dinge op die kantlyn wat kykers hopelik binnekort sal sien," sê die aktrise.

“Maar ons wil graag vir ons eerste huweliksherdenking die behoorlike wittebrood doen, oorsee,” verklap sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.