Die skattige klein Elah het in die woorde van haar ouma, Ronel Brink, soos ’n regte “blommekind” gelyk toe Karlien en haar man, die sakeman Joe Breytenbach, hul dogtertjie met ’n Boheemse partytjie bederf om heer eerste verjaardag te vier. 

“Dit was ’n bitter spesiale dag waar ons haar eerste mylpaal kon vier. Die tema was Boheems met blomme, want sy is ’n regte blommekind,” het Ronel aan Huisgenoot vertel. 

Karlien het ’n pragtige foto van haar en Elah op Instagram gedeel met die woorde: “Elah! Ek’s vandag emosioneel dat jy al een jaar oud is, maar so dankbaar vir jou! Dankie vir die foto, Almari Ernst.”

Manlief Joe het hom ook tot die sosiale media gewend en geskryf: “Ons klein Elah se smile smelt elke keer my hart! Ek bid vir jou gesondheid, en ek sien uit na al jou verjaardae wat voorlê. Karlien, jy het haar dag gemaak (ek dink wel die ouers het dit die meeste geniet op die ou einde).”

En as 'n mens so na die foto’s kyk wat ouma Ronel ook op Instagram gedeel het, kan jy sien dit was ’n spesiale dag tussen vriende en familie. 

Ronel het ’n kosbare brief aan haar kleindogter saam met ’n foto van hulle gedeel.

“Liefste liewe Elah. Vriendelikste poppie! Lagbekkie. Vandag een jaar oud. Jy maak die stukkies seer plekkies in ons harte (wat die wêreld soms toedien) beter wanneer ons in jou sagte blink lagogies vaskyk. Die venster van jou siel. Ek weet wat dit is wat ons in jou sien. In jou en in meeste van die kinders sien ons die suiwerste vorm van God se liefde. Dit is dit wat ons weer sag maak. Wat ons bietjies vir bietjies weer heel maak. Sag maak. Dankie Here, dat U my so bless met my kleinkinders. Dankie dat ek U liefde in die oë van my kleinkinders sien. Baie geluk liefste Elah-poppie, met jou verjaardag. Ons almal het jou so verskriklik lief. Ouma bid oor jou Jer 29:11. God weet watter gedagtes Hy aangaande jou, Elah, koester. Gedagtes van vrede en nie van onheil nie. Om vir jou ’n hoopvolle toekoms te gee. Elah, ek spreek oor jou, en al my ander kleinkinders, kinders en skoonkinders dat julle in jul roeping SAL stap. Dat julle SAL weet wie julle in Christus is. Dat julle SAL onthou wie julle was voor die grondlegging van die wêreld. Dat julle waaragtig SAL wees en word dit wat God oor julle elkeen (en myself) geroep en gedroom het. Soos Tom altyd so mooi gestel het vir sy kinders - LIEFDE UIT DIE BINNEVLERK. Die binnevlerk van God. Liefde altyd en ewig. Ouma Ronel.”