Hier in die huis van een van Suid-Afrika se gewildste paartjies woon deesdae sommer drié dogtertjies. Toe ons by die voordeur instap, kom die vierjarige aangehol.

Eenkant op die bank sit haar sussie van drie knus langs haar ouma Carien. En op ouma se bors lê die jongste – nog ’n poppie toegewikkel in ’n pienk kombersie – vas aan die slaap.

Baba Elsa is nog net enkele dae oud, maar is reeds tuis tussen haar sussies, Katerien (4) en Elise (3), in die vrolike gewoel van Minki van der Westhuizen (34) en Ernst Joubert (37) se gesellige huis op Stellenbosch.

Klein Katerien en Elise wou van die begin af ’n sussie hê, vertel ma Minki, en is gek oor haar. Foto: Claudia De Nobrega

Dis net sewe dae ná haar derde baba se geboorte toe Huisgenoot eksklusief by Minki en haar nuweling kuier, maar Minki lyk klaar weer pragtig en stralend. Soos altyd is dié TV-liefling kameragereed, selfs met net ’n vegie grimering.

Om haar nek dra sy twee roosgoudhangertjies – een met die letters “K” en “E”, haar twee oudstes se voorletters, en ’n ander een met die letter “E”. Nes Katerien en Elise, wat genoem is na hul oumas, Carien van der Westhuizen en Annelize Joubert, spog klein Elsa met ’n familienaam.

“Sy’s na my ouma Elsa van der Westhuizen genoem. Ouma Elsa het vier seuns en is nog nooit vernoem nie,” vertel Minki.

Elsa (86) het al haar naamgenoot kom ontmoet. “Klein Elsa het in haar arms geslaap. Dit was net so dierbaar en spesiaal om te sien,” se Minki. Oral waar die oudaanbieder van Boer Soek ’n Vrou en haar babadogter deesdae gaan, kloek nuuskieriges om hulle – of dit nou op winkeluitstappies of by haar oudste dogters se skole is.

“Almal wil weet: ‘Mag ons haar maar sien?’ Dan sê ek: ‘Ja, julle mag kyk, want sy’s so mooi!’ ” gesels sy.

“Jy dink aan die begin hoe sal jy plek maak vir nog ’n klein lyfie in jou hart? Dan kom hierdie mensie en jou hart is net weer so vol. My hart loop oor van liefde en warmte.”

Foto: Claudia De Nobrega

Tydens ons onderhoud ’n paar dae tevore is die ruim vierslaapkamerhuis ’n rukkie lank tjoepstil, al verklap die pienk popspeelgoed en naellak op die sitkamervloer dis ook die tuiste van twee kleutermeisies.

“Dit is so stil, want Katerien en Elise is by die skool,” verduidelik Minki. Manlief “Errie” – soos sy die oudrugbyspeler noem – is landuit. Hy het vier dae ná Elsa se geboorte Engeland toe gevlieg vir die afskeidsete van sy gewese spanmaat Schalk Brits by die Londense rugbyklub Saracens.

Dié skop nou vir goed sy rugbystewels uit, vertel Minki terwyl sy in hul oopplankombuis werskaf en koekies en koffie aandra. Toe ’n piepgeluidjie eindelik uit die babawiegie in Minki en Ernst se slaapkamer opklink, spring sy dadelik op.

“Daar’s hy; kom ek gaan haal haar!” sê sy en verdwyn vinnig die huis in. Sy kom terug met Elsa snoesig in ’n kombersie in haar arms toegedraai.

“Ag, mamma! Kyk net hoe oulik is sy,” koer die trotse ma.

Die skattige Elsa is na Minki se ouma Elsa van der Westhuizen genoem. Sy het haar opwagting op 16 Maart gemaak. Foto: Claudia De Nobrega

“Sy’t net ’n vlekkie op haar oog,” beduie sy na die baba se regterooglid. “Dit moet seker nog weggaan.”

Elsa gaap skielik hier in haar ma se arms op die rusbank.

“Ag, dis baie lekker, mamma,” laat hoor Minki en die kleinding antwoord met babageluidjies.

Nes met haar vorige twee swangerskappe was sy oortuig sy verwag ’n seuntjie. Ook Ernst het gedink dis dié keer ’n boetie vir sy dogters. Minki gooi haar kop agteroor en lag uit haar maag.

“Ons het op 16 weke uitgevind dis ’n dogtertjie. My man was ’n bietjie geskok!

“Dit het net so ’n uur geduur voor hy besef het hy sal nooit ’n seun hê nie,” sê sy dan vrolik en verduidelik hul gesin is nou voltallig.

“Ons het altyd gesê ons wil drie kinders hê. Ons is net so dankbaar. Ons is ongelooflik geseën met drie gesonde, normale, perfekte kindertjies.”

Elsa het duidelik klaar diep in haar ouers se hart ingekruip. Tydens die kleinding se eerste fotosessie ’n paar dae later is Ernst terug in die land en kan ook hy skaars uitgepraat raak oor sy derde dogtertjie.

“Sy is ’n soet klein dingetjie. Anders as die ander twee hou sy van slaap en melk. Ons het nou die dag omtrent eers vir die eerste keer haar oë gesien, want sy slaap heeltyd.”

Gevra of hy nie spyt is die derde enetjie is toe nie ’n seun nie, lag Ernst.

“ ’n Mens hoop mos maar daar sal iewers ’n seuntjie wees, maar dit is wonderlik om drie klein dogtertjies te hê. Ek sal moet fiks bly vir al die manne wat eendag hier gaan aanklop,” skerts hy.

Minki vertel haar man sê nou al hy sal baie kwaai met sy dogters se kêrels wees. “Maar hy mag nie! My pa was nooit kwaai met my kêrels nie,” voeg sy by.

“En Ernst is baie bekommerd oor die drie troues waarvoor hy sal moet betaal.”

Hul twee oudste spruite is in St. Albans net buite Londen gebore terwyl Ernst, ’n oud-Leeu, daar vir die rugbyklub Saracens uitgedraf het. Hy het ná ses en ’n half jaar en 161 wedstryde as hul agtsteman en onderkaptein sy rugbystewels weggepak.

Hy is nou hoof van die Stellenbosse Sportakademie se rugby-instituut. Kort ná hul terugkeer na Suid-Afrika einde 2015 het Minki die aanbieder van die kykNET-werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou geword. Dit was ’n moeilike besluit om verlede jaar ná twee seisoene die reeks te verlaat, sê sy. “Die program was ongelooflik vir my.”

Maar haar hart het gehunker na nog ’n “klein lyfie” in die huis, een wat hier in Suid-Afrika gebore sou word. Hier het sy immers ’n groot steunnetwerk. Ernst se ouer susters, Hanli Brink en die sangeres Alta Joubert van Lollos-faam, is ook Stellenbossers en woon naby hulle.

Minki se jonger broer, Ben, en hul ouers, Carien en Herman, woon ’n halfuur se ry van hier in Durbanville in Kaapstad se noordelike voorstede. En ouma Annelize is ook naby, in die Strand.

Almal was uit die veld geslaan toe die jongste toevoeging tot die familie haar opwagting 10 dae voor haar verwagte geboortedatum, 26 Maart, maak. “Ek het so drieuur die oggend begin kraampyne kry,” vertel Minki oor die geboorte op Vrydag 16 Maart.

“Ek het my ma gebel en gesê sy moet solank kom (om Katerien en Elise op te pas). Errie moes vroeg opstaan om Leeukop saam met spelers van die instituut uit te klim.

“Ek het geweet sy wekker sou afgaan en het hom laat slaap. Toe hy kwart oor vier opstaan, was ek al aan die skarrel en besig om my hospitaaltassie te pak!”

Vyfuur is Ernst saam met haar hospitaal toe pleks van Leeukop se hange aandurf.

“Tien oor sewe is Elsa gebore,” vertel Minki. Soos met hul oudste twee was dit ’n natuurlike geboorte. Klein Elsa het 3,5 kg geweeg en was 51 cm lank.

Elsa is 10 dae voor haar verwagte datum gebore. Foto: Claudia De Nobrega
Sy het dieselfde donker hare as kind gehad, vertel Minki, wat as tiener modelwerk begin doen het. Foto: Claudia De Nobrega

Trots vertel haar ma nou: “Amper twee liniale!”

Minki het al die helfte van die 10 kg verloor wat sy tydens haar derde swangerskap aangesit het. “Dis regtig net goeie gene. Ek is ontsettend gelukkig,” vertel sy.

Dan bieg sy tog: “Ek wil weer begin oefen. Ek was baie lui!”

Sy borsvoed nie en Ernst help met die bottelvoedings, veral oor naweke. In die week het die kinders ’n voltydse oppasser, Lisa Mpofo, wat inslaap. Die twee oudstes slaap meestal snags deur, maar Elise kom nog soms snags by haar ouers inkruip. Ernst is ’n raakvatpa.

“Hy kan hare kam, maar nog nie vasmaak nie,” sê Minki. “Hy en Katerien en Elise swem lekker saam hier by die huis,” vertel sy en beduie na die swembad by hul agterstoep wat met ’n seil bedek is.

“Hy speel swaaibal saam met hulle. Dis vir hom baie belangrik dat hulle ’n bal kan vang en skop,” vertel sy laggend oor dié oudrugbyspeler. 

Ernst met sy kroos. Die oud­rugbyspeler is ’n raakvatpa, vertel Minki. Hy is mal oor sy dogters. Foto: Claudia De Nobrega

In hul sitkamer pryk ’n kitaar waarop Ernst af en toe tokkel. “Wanneer hy speel, kerm die girls, want dan moet hy hierdie liedjie en daardie liedjie speel en hy wil net speel wat hy wil,” vertel sy.

Elsa het nes haar sussies haar eie kamer, maar slaap nog in ’n wiegie langs haar ouerbed. Katerien en Elise verkies om in een kamer te slaap.

“Ek het gehoop hulle sou na aan mekaar wees. Maar ek het nooit in my wildste drome kon dink hulle sou so lief, oulik en mal oor mekaar wees nie,” sê Minki oor die oudste twee.

“Natuurlik baklei hulle soos sussies. Ek dink hulle is liewer vir mekaar as vir my. Hulle is absoluut mal oor mekaar.”

En hulle is klaar gek oor hul babasussie.

“Katerien en Elise wou van die begin af ’n sussie hê,” vertel hul ma.

Minki saam met haar oudste spruite, Elise en Katerien. Die gewese Boer Soek ’n Vrou-aanbieder het die program vaarwel toegeroep om meer tyd saam met haar kinders deur te bring. “Hulle is nou my prioriteit,” sê Minki. Foto: Claudia De Nobrega

Toe die hele gesin vir ons fotosessie bymekaar is, streel Katerien dan ook liefdevol oor Elsa se swart babahaartjies. Om haar aandag onder drie kleingoed te verdeel is nie kinderspeletjies nie, erken Minki.

“Ek maak ’n punt daarvan om ietsie alleen saam met elkeen te doen.” Sy en haar “#katerienlief” – soos sy haar oudste spruit in die sosiale media noem – was onlangs op ’n uitstappie na die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuin. Kort daarna was dit “#elisehartjie” se beurt om alleen saam met mamma winkels toe te gaan.

Katerien en Elise se klerekaste hang juis vol ontwerpersklere. “In Engeland het hulle verskriklik baie hand-me-downs gekry. Ek het ’n Walliese vriendin gehad wat baie geld aan haar kinders se klere bestee het. Ek hou als vir Elsa.”

Katerien en Elise is “verskriklike girlie girls”, sê Minki – lief vir rokkies en om hulle op te tof. Maak hulle dalk reg om in hul ma se voetspore in die modelwêreld te volg?

Die sussies is baie geheg aan mekaar, vertel Minki. “Ek het nooit in my wildste drome voorspel hulle sou so lief, oulik en mal oor mekaar wees nie.” Foto: Claudia De Nobrega

“Hulle moet dit net nie op 11 of 12 vir my kom sê nie. Dis te jonk,” sê Minki, wat op haar dag vir modehandelsmerke soos Guess modelwerk gedoen het en wie se kurwes haar al die titel as die sexyste vrou in die land besorg het.

“Ek het eers op 16 begin en op 17 my eerste internasionale modelwerk gedoen,” vertel sy. “En my ma-hulle was baie streng oor skool klaarmaak.”

Elise geniet dit klaar om vir die kamera te poseer, anders as haar ousus.

“Katerien het nie ’n saak nie! Ek moet altyd smeek: ‘Katerien, kom ons neem gou ’n foto, toe.’ Maar Elise wil net op foto’s wees.

“Gister terwyl ek en sy in die winkel was, wou die vroue wat daar werk ’n foto neem. Toe ons klaar is, sê Elise uit die waentjie: ‘Hulle wil nie vir my afneem nie,’ ” vertel Minki in ’n kamtige huilstemmetjie en lag.

“Ek sê toe: “My liefie, jy wás op die foto – op die agtergrond!’ ”

‘My kindertjies is net te klein. Hulle is nou my prioriteit’

Het sy ooit gedink sy sou op 34 ’n ma van drie wees?

“Nooit! As jy die eerste aand toe ek en Ernst agt jaar gelede op ’n semi-blind date op Stellenbosch was vir my gesê het ek sou oor agt jaar terug hier wees met drie dogtertjies, van wie twee in Engeland gebore is, sou ek dit nooit in my wildste drome kon dink nie.”

Sy en haar “Errie” vier in Junie hul sesde huweliksherdenking, maar op Instagram koer hulle nog gereeld soos jong verliefdes vir mekaar. Tog sê Minki hulle “sit vas” nes enige ander paartjie.

“Jy moet stry en van mening verskil. Anders is dit mos nie normaal nie.”

Dan erken sy: “Voor Katerien se geboorte het ek gedink ek sou jaloers wees, want hier is nou nog ’n vrou wat wedywer vir my man se aandag. Maar dis vir my so lekker om te sien hulle is so mal oor hom en hoe sag, lief, warm en beskermend hy oor hulle is.

"Dit maak my hart net warm en my net nog liewer vir hom.”

Hul kinders het hulle net nader aan mekaar gebring. “Dis ontsettend harde werk, maar dis so lekker as julle mekaar kan ondersteun. Dis ook belangrik om nie jou man af te skeep nie.

“Ek maak seker die kinders is ’n sekere tyd in die bed sodat ons op die bank kan lê en TV kyk.”

Bedags eet hulle iewers iets of drink vinnig koffie by Ernst se werk.

“Of ek stuur ’n boodskappie om te sê ek is lief vir hom of ek dink aan hom.”

Sy wil haar kinders graag gee wat sy gehad het, sê Minki, wie se ouers in Desember hul 37ste huweliksherdenking vier. “As die kinders kan sien mamma en pappa is lief vir mekaar, voel hulle veilig.”

Sal ons die bedrywige ma weer op TV te sien kry? Sy geniet haar werk as veldaanbieder vir die joernaalprogram Kwêla steeds, vertel Minki.

“Dis heerlik. Dis ’n dag se skiet. Ek doen dit baiekeer hier in die omliggende dele, wat wonderlik is.”

Maar Boer Soek ’n Vrou was ’n ander storie. Sy moes die land platry en was maklik twee weke per maand van die huis af weg. Sy het terdeë besef hoe lank twee weke vir ’n kind moet wees toe Ernst vir minder as ’n week weg Engeland toe is.

'Ek het ook maar dae dat ek emosioneel en onseker van myself voel'

Katerien en Elise het baie na hom verlang en gedurig gesê: “Pappa moet nooit weer weggaan nie.” Dit het haar hart gebreek, sê Minki.

“My kindertjies is net te klein. Hulle is nou my prioriteit.”

Sy het nog nooit haar opvolger by Boer Soek ’n Vrou, die sangeres Leah, ontmoet nie, maar dink sy sal baie goed vaar as aanbieder.

“Ek het al baie onderhoude van haar gesien en sy lyk spontaan. Sy laat my baie aan myself dink. Sy is net so warm en die tipiese girl next door, die een met wie mense kan identifiseer.”

Wat van ’n werklikheidsreeks oor die Jouberts soos dié oor Amerika se Kardashian-Jenner-kliek?

Foto: Claudia De Nobrega

Nog nooit gesien nie! Sy wil liewer op ander maniere teruggee aan aanhangers.

“Ek word baie gevra om op vroue- of ma-en-dogter-oggende te praat. Hulle wil sien Minki het ook pigmentasie en sukkel ook om haar laaste swangerskapskilo’s af te skud. Ek is oop en eerlik oor daai goed. Ek wil wys ons ervaar presies dieselfde stryd.”

Sy lyk dalk na ’n superma, maar soms raak alles ook vir haar te veel. “Ek het nou die dag ’n breakdown gehad in my skoonsus se arms en het nie geweet hoe ek drietjies gaan hanteer nie. Maar jy moet eenvoudig aangaan.”

Party dae hou sy nie van die vrou wat uit die spieël na haar kyk nie. “Ek weet nie of die pigmentasie ooit sal weggaan nie. ’n Mens het mos maar rekmerkies. En jy dink: Sal jou maag ooit weer so plat wees soos dit was?

“Ek het ook maar dae dat ek emosioneel en onseker van myself voel. Gelukkig het ek ’n man en kinders wat mal is oor my. Ek besef ek het soveel om voor dankbaar te wees. En kyk wat lê hier,” sê Minki en staar na klein Elsa wat snoesig in haar arms lê; “kyk net watter prys ek gekry het. So mooi . . .”