Kleinboet en sy gade is dalk die meesters wat warmte en glans betref, maar dis ouboet en sy vrou wat wéét hoe om hul stempel subtiel af te druk.

Kort op die hakke van Harry en Meghan se onlangse besoek aan Suid-Afrika het prins William en Catherine, die hertogin van Cambridge, ook hul sjarme in ’n ander land ten toon gestel.

Kate en Will,pakistan toer
Kate ontvang ’n ruiker van ’n aanhanger. Foto: Reuters

Dis die eerste keer in meer as ’n dekade dat lede van die Britse koninklike familie Pakistan besoek, en waarnemers was dit eens dat William en Kate net die regte egpaar was om die koningshuis in dié land te verteenwoordig.

Met hul volop toerervaring, begrip vir die belang van protokol en hul sensitiewe, gesofistikeerde aanslag was die Cam­bridges die ideale mense vir dié vyf dae lange koninklike sending.

“Die hertog en hertogin (albei 37) se sogenaamde sagte mag was daar vir almal om te aanskou: Hulle het diplomatieke brûe versterk en die kollig op van die land se dringendste kwessies soos kinderopvoeding en die klimaatskrisis geplaas,” sê een koninklike waarnemer. 

Kate en William daag in ’n tuktuk by ’n geleentheid op. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die toekomstige koning en sy vrou het dit met hul tipiese onderbeklemtoonde elegansie gedoen – en ’n tikkie subtiele swier danksy die immer stylvolle Kate.

Wie anders kan met ’n aandrok en hemelhoë hakke uit ’n toektoek klim en dit laat lyk asof dit ’n koninklike koets is? Die twee is ook geloof omdat hulle tradisionele drag gedra het en so respek aan die gasheerland betoon het. 

“Hulle het Oosterse elegansie uitgestraal,” het ’n plaaslike koerantredakteur gesê – iets wat aanklank gevind het by Pakistan se plaaslike bevolking en moontlik ook by die sowat 1,5 miljoen mense van Pakistanse herkoms wat in die Verenigde Koninkryk woon. 

William het ’n sjerwani-jas, ’n lang, formele baadjie wat geskep is deur Nauman Arfeen, ’n Pakistanse ontwerper wat in Londen woon, na ’n onthaal by die Britse Hoë Kommissaris in Islamabad gedra, en die ontwerper het trots gesê die prins het daarin “die kollig gesteel”.

Kate en Will,pakistan toer
Saam met die premier en oudkrieketspeler, Imran Khan. Foto: Reuters

“Dit was ’n trotse oomblik vir Pakistan dat die baadjie groen was soos hul vlag,” sê Nauman.

Kate was ook soos altyd in die kol in haar groen rok deur die Britse ontwerper Jenny Packham. 

Die toer is gereël op versoek van die Britse departement van buitelandse en Statebondsake om Pakistan se beeld te poets en toeriste na die land te lok.

Koninklike toere is altyd ’n logistieke nagmerrie, maar dié een was die kersie op die koek, sê mense in die binnekring. 

“Dit was regtig een van die ingewikkeldste toere ooit weens die uiterste kommer oor sekuriteit,” sê een assistent.

“Niks is aan die toeval oorgelaat nie.”

Spanning tussen Pakistan en sy buurland Indië oor die betwiste streek Kasjmir bly op ’n naaldpunt; daarom moes veiligheidspersoneel op ’n hele rits verander­likes voorbereid wees.

Kate en Will,pakistan toer
Die egpaar besoek ’n moskee in die stad Lahore. Foto: Gallo Images/Getty Images

Meer as 1 000 plaaslike polisielede is saam met die koninklikes se eie sekuriteitspan in die land ontplooi om hul veiligheid te verseker, en besonderhede oor hul daaglikse afsprake is eers op die nippertjie bekendgemaak.

Die koninklikes het al in die verlede spannende oomblikke in Pakistan beleef.

Toe William se pa, prins Charles, en dié se vrou, Camilla, in 2006 in die land getoer het, moes hul beplande besoek aan die stad Pesjawar gekanselleer word weens kommer oor hul veiligheid. 

Dit was nadat Pakistanse militêre magte ’n aanval op ’n godsdienstige skool uitgevoer het.

Dié skool in dieselfde provinsie as Pesjawar en naby aan die grens met Afganistan is daarvan verdink dat dit ’n Al-Kaïda-opleidingskamp is. Maar die Cambridge-toer het gelukkig glad verloop; die enigste haakplek was ’n vlug wat weens kwaai weerlig moes omdraai voor dit sy bestemming kon bereik. 

Will en Kate
Kate en William by ’n hondesentrum in Islamabad. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koninklike waarnemers is dit eens dat Kate “die toonbeeld van ’n toekomstige koningin” was. 

“Sy is mooi, welsprekend en sit nooit ’n voet verkeerd nie. Sy is eerbiedig wanneer nodig, maar het ook haar eie stem.”

Kate fokus ál meer op kwessies om moederskap, vroeë ontwikkeling en die gesondheid en opvoeding van kinders. 

Will en Kate
Die twee op ’n uitstappie in die Hindoekoesj-bergreeks aan die grens van Pakistan. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op ’n besoek aan SOS Children’s Vil­lages, ’n welsynorganisasie vir wees­kinders in die stad Lahore, het sy haar toespraak begin met ’n groet in Oerdoe, een van die amptelike tale van Pakistan, voor sy die organisasie se werk geloof het.

Will en Kate
Op ’n besoek aan die SOS Children’s Villages, ’n liefdadigheidsorganisasie in Lahore waar Kate ’n toespraak gelewer het. Sy het dié toespraak met ’n groet in Oerdoe begin. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek weet baie van julle het al besonder moeilike tye in jul lewe beleef. Maar dit is inspirerend om te sien hoe julle krag en positiwiteit inspan om die lewe van jong kinders hier te herskep,” het sy gesê.

“Vroeër vanjaar het ek gepraat oor hoe dit ’n hele gemeenskap neem om ’n kind groot te maak. Die gemeenskap wat ons vandag hier sien, is die beste voorbeeld daarvan wat ek my moontlik kon indink.”

Ingrid Seward, redakteur van die tydskrif Majesty, sê hoewel die koninklike lewe aanvanklik vir Kate oorweldigend en intimiderend was, het sy nou haar voete gevind. “Sy het mense oorgehaal deur haar plig na te kom,” sê Ingrid.

Will en Kate
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy werk hard en het nog min foute begaan.”

Die belangrike toer wys ook dat ko-­ningin Elizabeth haar skoondogter vertrou, voeg Ingrid by. “Hierdie toer was ernstig en polities sensitief, en dis ’n groot eer dat sy en William gevra is om dit af te lê.”

En Kate lyk gelukkiger as ooit, sê Ingrid.Kate kry dit oënskynlik reg om haar verantwoordelikhede as ma en haar koninklike pligte goed te balanseer, sê sy.

“Sy het haar lewe so gereël dat sy soveel moontlik tyd saam met die kinders kan deurbring en steeds al haar werk doen.” 

DIANA WORD ONTHOU

Kate en Diana
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die toer was ook op ’n persoonlike vlak vir William belangrik.Sy ma, prinses Diana, het Pakistan talle kere in die 1990’s besoek. 

Benewens haar liefdadigheidswerk in die land het sy ’n persoonlike belang gehad: Sy was twee jaar in ’n verhouding met die Pakistanse chirurg dr. Hasnat Khan (nou 61). 

William en Kate het dieselfde kankerhospitaal in Lahore besoek waar die bekende foto geneem is van prinses Di wat ’n siek kind vashou, en dr. Aasim Yusuf het – nes hy vir Diana gedoen het – William en Kate op ’n toer van die hospitaal geneem. 

In een hartroerende toneel het die egpaar ’n teepartytjie saam met ’n jong pasiënt gehou. Sy het ’n blink kroon gedra, en Kate het haar voorbeeld gevolg. 

Foto: Greatstock/Shutterstock

Kate het eer aan haar oorlede skoonma betoon deur van haar ikoniese styloomblikke subtiel na te boots.

Met hul aankoms in Pakistan het sy ’n treffende blou rok en bypassende broek gedra – ’n moderne weergawe van die tradisionele salwar kameez.

Kate en prinses Diana
Foto's: Gallo Images/Getty Images

Diana het tydens haar 1996-besoek ’n soortgelyke uitrusting gedra. Kate se uitrusting is boonop deur die Frans gebore Catherine Walker gemaak – dié Londense ontwerper het meer as duisend uitrustings vir Diana gemaak. 

Kate en prinses Diana
Foto's: Gallo Images/Getty Images

ate het eer aan haar oorlede skoonma betoon deur van haar ikoniese styloomblikke subtiel na te boots

DIE CAMBRIDGES SLAAN PAKISTAN VIR ’N SES

Will en Kate
Foto: Gallo Images/Getty Images

Will en Kate het ’n krieketwedstryd saam met kinders en Pakistan se krieketspan by die na­sionale krieketakademie in Lahore gespeel. 

Kate se hare, gekleur in ’n ligter skakering as gewoonlik, was in ’n poniestert vasgemaak. Kate is twee keer uitgevang, maar William het ’n ses geslaan.

HUL LYFTAAL

Noudat hulle ouer is, is die Cambridges “meer bewus daarvan om die koninklike stereotipe van besadigdheid en waardigheid te vervul”, sê die Suid-Afrikaanse lyftaalkenner dr. Denise Bjorkman.

“Hulle is nie een so oormatig vatterig soos Meghan en Harry nie.”

Wanneer die twee langs mekaar staan, lyk hul nabyheid eg, voeg sy by. “Daar is spontane warmte en samesyn.”

Will en Kate
Foto: Reuters

Denise sê Kate “is gemaklik in haar koninklike rol. Haar kleredrag is vroulik, beskeie en geskik vir die geleentheid.”Sy voeg by Kate “glimlag met haar oë”, maar William se “reaksies op die publiek is stywer en meer beheers”.

Hulle loop albei met lang treë – ’n teken dat hulle in beheer is, sê Denise.

“Die smal ruimte tussen hulle is ’n goeie een – dit vorm ’n kontras met die gespanne fisieke verwydering wat Diana en Charles op hul staatsbesoeke gehad het. 

“Kate en William het duidelik ’n sterk band wat hulle sal help deur die uitdagings wat nog op hulle wag.” 

Bronne: People.com, dailymail.co.uk, harpersbazaar.Com, allure.com, express.co.uk, thesun.co.uk, metro.co.uk