Dis die perfekte strandweer, met die lug ­poeierblou, sonder ’n wolkie in sig. Die Februariemiddagson bak ’n heerlike 25 °C, met ’n effense briesie om die groepie bruilofsgaste op die wit sand gemaklik te hou.

Die see, wat liggies op die agtergrond dreun, is vandag ’n belangrike getuie by die troue van een van Suid-Afrika se bekendste surfer chicks.

Maar nou stap die horlosie aan en van die bruid, Roxy Louw (32), ’n bekende model en beroepsbranderplankryer, is nog g’n teken nie.

Haar Nieu-Seelandse bruidegom, die sakeman en voormalige Kiwi-rugbyster Sam Burton (32), wag angstig hier op Skulpiesbaai se strand by Stilbaai aan die Tuinroete.

Hy is van kop tot sy kaalvoettone in spierwit uitgevat, met die Maori-sjaal wat die strooijonker, Lyall Grimmer, reeds om sy skouers gehang het ter voorbereiding vir die seremonie.

Sam staan darem nie alleen voor die mooi tipi-tent uit stokke, geborduurde gaasmateriaal, pampasgras en opgetooi met pastelkleurige lisianthusblomme nie. Sy gevolg is daar ter ondersteuning: Lyall, sy grootwordmaat, Josh en Ben, sy 29-jarige tweelingbroers, en Robbie (27), Roxy se enigste boetie.

Die ­tipi-tent waar hulle op die strand getrou het. Foto: Corrie Hansen
Die ­tipi-tent waar hulle op die strand getrou het. Foto: Corrie Hansen

Die sowat 140 gaste, baie van hulle van ver plekke soos Australië, Nieu-Seeland en Johannesburg, geniet solank die klassieke musiek wat die romantiese stemming afrond. Die troutema is boho-sjiek en al die genooides speel saam.

Die vroue lyk soos vlinders in hul helderkleurige, vloeiende lang rokke by natuurlike grimering en los hare. Die mans dra enig­iets van bont Hawaise tot etniese Afrikahemde.

Azille (61), Roxy se ma, daag op. “Kyk hoe mooi lyk my maatjies!” roep sy en deel lugsoene uit. “Hallo, almal!”

’n Entjie verder staan die bruid se pa, die oudrugbyspeler en Springbokheld Rob Louw (65), en kyk in die vars­geskraapte grondpad af op soek na ’n teken van die bruidsmotor.

“Dalk het hulle verdwaal,” sê hy.

Sy seun, Robbie, haal sy selfoon uit en bel sy suster.

“Sam, sy het weggehardloop,” spot hy en lag lekker saam met die gaste. “Dis tipies vrou. Hulle doen dit aspris. Hulle terg ons.”

Dis al 15:25, byna ’n halfuur laat.

“Dalk het sy gou ’n brander gaan tem,” meen een van die gaste.

Sy woorde is nog nie koud nie, toe ver­skyn die troukar.

Dis ’n rooi Jeep met drie branderplanke wat bo die agterste sitplekke uitsteek.

Die bruidsmotor was ’n rooi Jeep met branderplanke agterin. Foto: Corrie Hansen
Die bruidsmotor was ’n rooi Jeep met branderplanke agterin. Foto: Corrie Hansen

En toe verskyn Roxy, beeldskoon uit­gevat in ’n nousluitende wit trourok met ’n sluier wat agter haar aan wapper.

Pa Rob begelei haar onder ’n ­sambreeltjie na die rye wit houtstoele waarop almal toe weer hul sit gekry het.

Roxy se Spring­bok­legende-pa, Rob Louw, stap onder ’n sambreel saam met haar in die paadjie af. Foto: Corrie Hansen
Roxy se Spring­bok­legende-pa, Rob Louw, stap onder ’n sambreel saam met haar in die paadjie af. Foto: Corrie Hansen

Hulle stap na Sam-hulle toe op die maat van die Hawaise sanger Israel Kamakawiwo‘ole se weergawe van “Over the Rainbow”.

Die bruid se gevolg is in vrolike sonneblomgeel getooi: haar susters, Shahnee George (29) en Misty Louw (30), haar vriend Hilton Conradie en vriendin ­Joëlle Kayembe.

Weerskante van die paadjie is droë palmblare wat Azille en Shahnee, wat ook die troubeplanner van die geleentheid is, met tradisionele Maori-patrone in wit verf versier het.

Roxy se eiesoortige voettooisels. Foto: Corrie Hansen
Roxy se eiesoortige voettooisels. Foto: Corrie Hansen

Roxy en Sam gryp mekaar se hande vas en laat nie los tot hulle deur hul prokureursvriend Arno van Deventer as man en vrou verklaar is nie.

Sam gooi sy linkerhand triomfantelik in die lug. Roxy skree opgewonde: “Whoo-hoo!” en Joëlle ululeer in Afrikatradisie om die feesvierings te laat begin.

Sam en Roxy ver­seël hul huwelik met ’n soen op 4 Februarie op die Stilbaai-strand. Foto: Corrie Hansen
Sam en Roxy ver­seël hul huwelik met ’n soen op 4 Februarie op die Stilbaai-strand. Foto: Corrie Hansen

Veel later, by die onthaal op die olyfplaas aan die oewer van Stilbaai se Goukourivier, is daar geen troukoek om te sny nie. Kelners loop met silwer skinkborde tussen die gaste rond en deel roomysstokkies uit, want op Sam en Roxy se heel eerste afspraak het hy vir haar ’n roomys gekoop.

Geen troukoek nie, maar roomys vir die gaste. Foto: Corrie Hansen
Geen troukoek nie, maar roomys vir die gaste. Foto: Corrie Hansen

Hoe dan anders as die bruid ’n branderplankryer met ’n groot liefde vir die son en see is?

’n Dag voor die troue kuier Huisgenoot by die paartjie in ’n vriend se strandhuis op Stilbaai, waar hulle ook gaan aantrek vir die spesiale dag.

“Dis so lekker om nie vandag weg van mekaar te wees nie,” sê Roxy. Die huweliksfees het eintlik al die naweek in Kaapstad begin, op die prettige Cape Town 10’s-sportdag. Hulle het hul eie BBP-tent gehad waarin hulle gekuier het.

Die grasskaafmerk aan die regterkant van Sam se voorkop verklap dat hy net so hard op die rugbyveld as daarvan af gespeel het. Roxy is maar bly sy het nie op die sportdag hokkie gespeel nie.

Sam het vir die voorfees spesiale hempies laat ontwerp met ’n Kiwi, Springbok, tekenprentjie van Roxy wat branderplank ry en ’n daggablaar op.

Hulle het ’n onderneming wat wegbreeknaweke reël waarin hoofsaaklik joga gedoen word en dagga sonder die aktiewe bestanddeel, THC, gebruik word om mense te help ontspan.

Die twee het besluit om dié tyd van die jaar te trou, en bepaald op ’n Dinsdag, omdat hulle mekaar in 2017 op ’n Dinsdag tydens die Cape Town 10’s ontmoet het. Dit was 29 Januarie, by Café Caprice in Kampsbaai.

Sy het destyds heel toevallig vroeër teruggekeer van ’n vakansie in Zanzibar.

“Iets het net vir my gesê ek moes daardie aand uitgaan,” onthou Roxy.

Gemeenskaplike vriende het hulle aan mekaar voorgestel. Hulle het gesels oor spiritualiteit; oor die dieper dinge in die lewe.

“Dit was soos ’n tennisspel. As ek iets gevra het, het sy flink teruggeantwoord, en so het dit 30 minute lank gegaan. Toe vra ek: ‘Wanneer trou ons?’

“Dis asof alles so bestem was. ’n Klomp skuifdeure wat vir ons oopgegaan het,” vertel Sam.

Die volgende dag het hulle op die promenade in Seepunt gaan roomys eet, en twee jaar later het hulle in Nieu-Seeland verloof geraak.

Sedert daardie eerste ontmoeting was dit net visumvereistes wat hulle van mekaar kon weghou.

“Ek is steeds ’n toeris en my visum verval oor vyf dae,” vertel Sam.

Maar môre trou hy met sy Suid-Afrikaner en dan kan hulle vir ewig bymekaar wees.

“Hier is ons nou. Dis baie opwindend,” voeg hy by.

Roxy kyk verlangend in die rigting van die branders wat oorkant die pad van hul blyplek af klots.

“Daar doer is my pa saam met 50 vriende op branderplanke in die water,” sê sy.

Sy gaan nou-nou by hom en hul gaste wat reeds hier is, aansluit vir ’n middag op die water voor die groot dag môre.

Dokters het meer as 10 jaar gelede vir pa Rob vyf maande gegee om te leef nadat velkanker na sy organe versprei het.

Die gewese rugbyspelers Schalk Burger sr. (links), Schalk Burger jr. en Rob Louw. Foto: Corrie Hansen
Die gewese rugbyspelers Schalk Burger sr. (links), Schalk Burger jr. en Rob Louw. Foto: Corrie Hansen

Met die hulp van ’n familievriend, die sakeman Johann Rupert, het Rob in 2009 by die beroemde Anderson-sentrum in Houston, Amerika, uitgekom. Daar het hy onder meer ’n operasie gehad om die kanker te bestry. Hy is steeds kankervry.

Roxy dra vandag ’n pêrelhangertjie wat Sam vir haar laat maak het. Sy het die pêrel in ’n oester ontdek tydens ’n ete in Houston net voor haar pa geopereer is.

“Ek duik al jare vir pêrels, sonder sukses; toe kry ek dit op my bord,” vertel Roxy.

Sam se pa, Geoff Barton, is op 39 dood aan dieselfde siekte wat die Springbokheld Joost van der Westhuizen se lewe geëis het: amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ’n aggressiewe vorm van motorneuronsiekte.

Roxy en Sam saam met haar ouers, Azille en Rob Louw, en Sam se ma, Jacqui Wilson. Foto: Corrie Hansen
Roxy en Sam saam met haar ouers, Azille en Rob Louw, en Sam se ma, Jacqui Wilson. Foto: Corrie Hansen

Hul ma, Jacqui Wilson, moes haar drie seuntjies – almal onder vyf jaar – op haar eie grootmaak. Haar tweeling, Josh en Ben, is nou 29 jaar oud.

“Ek gaan hom mis,” vertel Jacqui die volgende dag by die onthaal oor Sam.

“Hy is my oudste en nou is hy getroud met Suid-Afrika, maar ek is baie bly vir hom. Hy glimlag heeltyd.”

’n Maori-sjaal hang oor Sam se skouers. Foto: Corrie Hansen
’n Maori-sjaal hang oor Sam se skouers. Foto: Corrie Hansen

Op die onthaal ná die troue vertel Sam die interessante groenkwartshangertjie om sy nek is ’n tradisionele Maori-poenamoe, en sy pa het kleintyd vir elk van sy drie seuns een laat maak.

Dié hangertjies lyk baie soos ’n vishoek, maar dit kom in ver­skillende ontwerpe, elk met ’n eiesoortige simboliek wat by die draer se persoonlikheid pas. Die een wat sy pa vir hom gekies het, is die simbool van liefde.

“My pa sou so bly gewees het om ons te sien trou. Dis hy wat ons na mekaar toe gestuur het,” vertel Sam nadenkend tussen die gemaal van die gaste in die groot nomadetent.

Die bruilofsgaste kon op enige plek sit, aan tafels of op strooikussings op die vloer, by die onthaal wat op ’n olyfplaas naby Stilbaai gehou is. Foto: Corrie Hansen
Die bruilofsgaste kon op enige plek sit, aan tafels of op strooikussings op die vloer, by die onthaal wat op ’n olyfplaas naby Stilbaai gehou is. Foto: Corrie Hansen

Die boheemse tema word voortgesit met bont strooikussings op ’n mat in die middel van die tent. Dit is vir die gaste wat op die grond wil sit en by ’n lae tafel wil eet.

Nes die ander tafels is dit versier met ’n mengelmoes van verskillende glasies en inheemse blomtuine in glasbakke.

Daar is nie plekkaartjies met name op by dié informele troue nie. Almal kan sit waar hulle wil en na hartelus rondskuif en kuier. Ook die toesprake is gemaklik en lig.

Joëlle, ’n model en boorling van die Demokratiese Republiek die Kongo, woon deesdae in Noorweë, en sy kry ook ’n spreekbeurt.

Roxy en haar modelvriendin Joëlle Kayembe. Foto: Corrie Hansen
Roxy en haar modelvriendin Joëlle Kayembe. Foto: Corrie Hansen
Roxy saam met die modelle en TV-persoonlik­hede Lyndall Jarvis (links) en Cindy Nell-Roberts. Foto: Corrie Hansen
Roxy saam met die modelle en TV-persoonlik­hede Lyndall Jarvis (links) en Cindy Nell-Roberts. Foto: Corrie Hansen

Sy vertel hoe sy en die bruid mekaar in 2008 by ’n Sports Illustrated-fotosessie op die Maledive-eilande ontmoet het. Sedertdien noem die twee vriendinne mekaar “Mars Bars”.

Sy verduidelik: Daar was nie slaapplek vir al die modelle nie, en Roxy het toe gesê sy sal met Joëlle ’n kamer deel.

“Ek het sjokolade,” het Roxy vir haar gefluister toe hulle twee alleen is, want hulle moes hul gewig dophou vir voor die kameras. Roxy haal toe ’n piepklein Mars Bar-stafie uit haar sak wat hulle gedeel het. En net daar is ’n hegte vriendskap gesluit.

“Jy is my lojaalste vriendin in hierdie oppervlakkige modewêreld. En liefde lyk goed aan jou, girl,” het sy haar toespraak afgesluit.

Toe Rob aan die woord kom, het hy hardop gewonder of die eerste kleinseun vir die All Blacks of die Springbokke gaan uitdraf.

“Kom ons vier die sirkel van ons diepgaande liefde wat voltooi is,” lig Sam ’n heildronk in antwoord op sy skoonpa.

Net voor die pasgetroudes die dansbaan open, sing Sam se tannie Gina Bergham, haar dogter, Diane, en Gina se niggie Donna Rouse vir die paartjie ’n tradisionele Maori-trouliedjie.

Die bruidspaar open die dansbaan. Foto: Corrie Hansen
Die bruidspaar open die dansbaan. Foto: Corrie Hansen

En later sing die klomp op die dansbaan, ouens wat gewoonlik op die rugby­veld aartsvyande is – All Blacks, Wallabies en Bokke – uit volle bors saam met Sister Sledge se treffer “We Are Family”.

DIE HUWELIKSPAAR BEDANK:

Troubeplanner: Niche events, niche.events/shahnee@niche.events; wyn: deetlefs.com; Fitch & leedes: fitchleedes.co.za; Inverroche: inverroche.com/za; Hare: Thairapy: Alycia Savva, 079-465-4766; Rok: Lauren R couture, laurenrcouture.wixsite.com/official; Materiaal: Rubitex Bridal, rubitex bridal@gmail.com; Smartlaser: smartlazer.co.za; Wenkbroue: Yallure Aesthetics, info.yallureaesthetics@gmail.com; Las paletas: laspaletas.co.za; Grimering: andreamakeup­artistry.co.za; Cape Town Tens: capetown.10s.co.za; Dataan Productions: @dataanproductions; Azura Re­treats: azura-retreats.com; Archipelago Charters: archipelago.co.za; SAA Airlink: flyairlink.com; Tourismcorp: tourismcorp.co.za; Foto’s: Gareth Barclay photography, garrethbarclay.com/projects
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.