Die meisietjie klouter tot op haar ma se skoot. Haar blonde krulle wip terwyl sy die storie van haar eerste besoek aan die Afrika-bos vertel.

“Die aap het die roosterbrood gesteel,” sê prinses Gabriella oor die parmantige dier wat hul ontbyttafel geplunder het.

“En ons het ’n leeu ’n wildsbok sien eet,” praat haar grootoogbroer, prins Jacques, tussenin. Vir die vierjarige tweeling was die safari op ’n wildplaas ’n onvergeetlike ervaring en iets wat hulle lank sal bybly, maar vir hul ma was dit veel spesialer.

Dit was ’n ware vakansie van eerstes vir Haar Deurlugtige Hoogheid prinses Charlene van Monaco. Nie net was dit hul eerste wilduitstappie nie; dit was die kinders se eerste keer in die land waar sy grootgeword het en, toe pa Albert eers by hulle aansluit, die eerste keer dat al vier lede van die gesin saam tyd in Suid- Afrika deurgebring het.

“Terwyl ons die lughawe genader en ek Johannesburg onder my gesien het, het ek eintlik tranerig geraak,” vertel sy tydens ’n eksklusiewe onderhoud in ’n suite by Emperors Palace in Gauteng.

“Ek was so trots. Ek kon nie glo my kinders gaan eindelik hier wees nie.”

Albert en sy dogter geniet die Middellandse natuurprag. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

Die 41-jarige prinses, wat in Benoni grootgeword het, is die toonbeeld van elegansie in ’n mooi blomrok met stylvolle swart spykerhakskoene daarby, haar grimering subtiel en haar blonde bob so netjies soos altyd. Sy is ook vriendelik, innemend en ’n raakvatma; daar is trouens nie ’n kinderoppasser in sig nie.

Charlene tel “Bella”, soos sy haar dogter noem, op toe die meisie skielik skaam raak en gee die rustelose Jacques ’n drukkie toe hy ongeduldig raak om na sy speelgoed in hul kamer by ’n nabygeleë hotel terug te gaan.

Hulle het baie saamtyd tydens die vakansie gehad, vertel Charlene. Hul eerste week in Suid-Afrika is hoofsaaklik by haar familie in Benoni deurgebring, waar die tweeling by hul nefie Raigen (5) en niggie Aiva-Grace (2), die kinders van Charlene se jongste broer, Sean (35), en sy vrou, Chantell (32), gekuier het.

Charlene en haar seun op ’n uitstappie in die bos. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

Raigen en Aiva-Grace het al by die Pienk Paleis gekuier, maar dit was die eerste keer dat Gabriella en Jacques op hul tuisgrond tyd saam met hulle deurgebring het. En natuurlik is die kinders met aandag van hul liefdevolle grootouers, Mike en Lynette Wittstock, oorlaai.

Mike het tydens die besoek verjaar en die familie het in ’n motor geklim en koers gekry om in ware Suid-Afrikaanse tradisie fees te vier: by die plaaslike Spur.

“Die tweeling was dol daaroor,” sê Charlene.

Tydens hul eerste paar dae in Suid-Afrika het die kinders hul nefie Raigen (seun van Charlene se broer Sean) se skool in Benoni besoek en vet pret gehad. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

“Hulle het in die kindersone gespeel, hoenderbrokkies geëet en borrelgommelkskommel gedrink. En, ja, totaal oorsuiker en oormoeg geword,” voeg sy met ’n rol van die oë by.

’n Sekuriteitspan volg die gesin waar hulle ook al gaan, maar hulle is baie diskreet. Die meeste mense in die Spur het nie eens besef koninklikes lê in hul midde aan burgers en skyfies weg nie.

Die tweeling is albei “waterbabas” soos hul voormalige Olimpiese swemmer-ma en was dol daaroor om in die hartjie van die somer in die swembad te wees, ver van die middel van die winter in Europa.

Nog ’n hoogtepunt was ’n besoek aan Raigen se skool, waar hulle ’n groot treffer was. “Toe hulle aankom, het die kinders vir hulle ’n dansie uitgevoer,” sê Charlene.

“Toe kon hulle vrae stel, waarvan party nogal snaaks was. Een kind het gevra of die paleis ‘punterig’ is, en waar is Charlene se prinsesrok en tiara dan?

“Hulle het ook belanggestel om te hoor of ons al in die sneeu was en of ons vir hulle sneeu kan stuur. Toe is al die skoene uit en die tweeling speel op die klimraam saam met al die ander kinders en het hope pret.”

Was hulle nie ’n bietjie skaam nie?

Jacques, wat meer beskeie is as sy suster, kon skaars wag om die skool se klimraam te beproef. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

“Glad nie; hulle het net pret gehad.” Volgende aan die beurt was ’n besoek aan die KwaZulu-Natalse Middelland, ’n plek wat Charlene na aan die hart lê en wat haar baie vreugde verskaf.

“Ons het op ’n wildplaas gebly wat ek al langer as 10 jaar besoek. En dit het diere; dus kon ons op wildritte gaan en hulle regtig van naby sien. Die eerste keer dat Gabriella ’n rooibok gesien het, het sy gesê: ‘Kyk, daar’s ’n rendier’. ”

In dié tyd het Albert (60) van Indië af gevlieg waar hy op amptelike koninklike sake was. “Dit was so ’n roerende, gelukkige tyd vir my,” sê Charlene. “Die een dag het ons ’n pragtige piekniek gehad. Ons het na watervalle gestap, die kinders het gaan visvang. Dit het alles so normaal gevoel en ek was so gelukkig.”

Maar sake verloop nie altyd soos beplan nie; daarvan kan enige ouer getuig wat al met klein kindertjies met vakansie gegaan het. Klein Jacques was ietwat oorweldig deur ’n tradisionele plaaslike verwelkomingsdans in die Middelland, sê Charlene.

Gabriella, wat meer selfvertroue het as haar broer
Gabriella, wat meer selfvertroue het as haar broer, was nie skaam om ’n groep tradisionele Zoeloe­dansers te groet nie. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

Die spontane Gabriella was meer ontspanne. “Sy het aan die dansery deelgeneem, maar Jacques het net omgedraai en gehardloop,” sê sy ma laggend.

“Gabriella het gevra: ‘Haai, Jacques, wat maak jy?’ ”

Sy wil regtig hê haar tweeling moet ’n band met haar tuisland begin vorm.

“Ek is so geheg aan Suid-Afrika. Dit sal altyd my huis wees en ek wil hê hulle moet dit deel.

“Die besoek was net die punt van die ysberg. Ons land is so divers en ek wil hulle alles wys. Namate hulle ouer word en meer kan doen, sal ons verskillende dele besoek.”

Om in Suid-Afrika te wees beteken ook jy moet die goeie en slegte aanvaar; en net omdat hulle koninklikes is, beteken nie Charlene en haar gesin het die ongerief van beurtkrag misgeloop nie.

Gabriella neem aan ’n tradisionele Zoeloedans deel. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

Dit was nogal ’n ontnugtering vir Gabriella en Jacques. “My kinders was in die badkamer toe die ligte afgaan. Toe bly dit ses uur af,” sê Charlene.

“Hulle het nog nooit so iets ervaar nie. In Monaco sou dit nooit gebeur het nie.”

Maar sy het nie toegelaat dat dit haar beïnvloed nie en sy luister nie na negatiewe stories oor haar geliefde land nie. “Mense waarsku my dat Suid-Afrika gevaarlik is en nou met die beurtkrag is dit nog erger, maar niks keer my om terug te kom nie. En ek sal aanhou terugkom, maak nie saak wat gebeur nie. Dit is my huis en ek sal dit en die mense altyd steun.”

Wanneer sy in Suid-Afrika is, kyk sy altyd hoe dit met haar organisasie, die Prinses Charlene van Monaco-stigting gaan. Hulle werk om waterveiligheid onder kinders te bevorder en verdrinking te stuit.

Tydens haar besoek aan KwaZulu-Natal het sy haar steun aan Terence Parkin (38), haar jarelange vriend en mede-Olimpiese swemmer, toegesê.

Die swemmer, wat doof is, is ’n ambassadeur vir haar stigting en het onlangs ’n uitmergelende twee weke lange trek van 1 120 km van Johannesburg na Durban aangepak om geld vir die organisasie in te samel.

Albert wys sy seun een van sy foto’s. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier
Jacques wys na ’n kameelperd in die KwaZulu-Natalse Middelland
Raigen (links) en sy koninklike neef, Jacques, het albei hul gesig teen die Afrikason beskerm deur ’n hoed te dra. Hulle het hul eerste safari in KwaZulu-Natal terdeë geniet. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

Van die geld wat ingesamel word, sal vir opleiding in kardiopulmonêre resussitasie (KPR) en noodhulp by skole vir dowes en gestremdes aangewend word.

“Terence is ’n merkwaardige mens en baie gedrewe,” sê die prinses.

“Ons was swemoefenmaats en het saam deur die wêreld gereis. Hy het eenkeer ’n seun van verdrinking gered; dus wil hy regtig help en hy doen dit op sy eie manier om bewustheid en steun te verhoog.”

Charlene sien uit na die jaar wat voorlê, wat vele amptelike verpligtings in Monaco en oorsee insluit. In September sal sy en Albert vir die Wêreldbekerrugbytoernooi na Japan vertrek. Die prinses is ’n groot ondersteuner van die sport en hoop om haar stigting uit te brei om rugbyveiligheid onder skoolkinders te bevorder.

“Ja, 15- en 16-jarige seuns breek hul nek, vergruis hul ribbes,” sê sy. “Ek dink dis belangrik om vir die seuns KPR te leer en ook seker te maak hulle speel die sport reg en die afrigters betrokke te kry.”

Charlene, wat graag na die Springbokke in aksie kyk, klink steeds so Suid- Afrikaans soos altyd, al woon sy al die grootste deel van agt jaar in Europa. Het haar kinders enige plaaslike maniertjies of sleng aangeleer?

Charlene, in ’n sjiek safari­katpak, is ’n raakvat-ma wat nie huiwer om haar kinders op te tel en rond te dra nie. Foto's: Séric Mathon/Palais Princier

“Albei het baie ‘ja’ en ‘ag shame’ begin sê. Gabriella het ook haar broer ‘Jacquie, my boy’ begin noem en sy is versot op biltong.”

Die tweeling wys vir hul ma hulle is gretig om te gaan en al het hulle tydens ons gesprek deurgaans by Engels gehou, groet hulle my met ’n vinnige tot siens in hul ander moedertaal, Frans.

“Au revoir,” sê hulle in ’n koor. Terwyl Charlene regmaak om agter hulle aan te stap, vra ek haar wat haar lewensleuse is en sy oorpeins dit ’n oomblik.

“Ek dink dit gaan oor gaaf wees met jouself,” sê sy.

“Ek dink dis een ding om ’n ander mens te vergewe, maar ek dink vergifnis begin by jouself. Ons almal is so hard op onsself – die samelewing het so baie verwagtings en ons ding altyd teen onsself mee. Ons moet sagter wees. Ek glo my doelwit in die lewe is om te leef en lief te hê.”

Foto's: Séric Mathon/Palais Princier