Dit was boonop tweede koninklike troue van die jaar  – en prinses Charlotte het net soos met haar oom Harry en Meghan se troudag, beslis die kollig gesteel!

Prins William en hertogin Kate se enigste dogter is al ervare; sy het al vier keer saam met ’n bruid kansel toe gestap.

Die parmantige kleuter het op haar tannie Pippa Middleton se troue in Mei 2017 haar debuut gemaak en ’n jaar later op prins Harry en Meghan se troue weer haar rol vervul.

Prinses Charlotte, die blommemeisie

Pippa Middleton en James Matthews se troue

Prinses Charlotte het op 20 Mei 2017 vir die eerste keer as blommemeisie opgetree toe Pippa en James Matthews getrou het. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2017 in die St. Markus-kerk het prinses Charlotte die aandag op haar gevestig. Die kleinding, wat toe twee jaar oud was, het skattig gelyk in ’n wit rok met kouse en ’n blommekroon daarby.

Prins Harry en Meghan se koninklike troue

Daardie koninklike wuif! Op 19 Mei 2018 was sy beslis prins Harry en Meghan Markle se strooimeisie wat die meeste aandag getrek het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die driejarige het haar plig as blommemeisie vir die tweede keer nagekom op Harry en Meghan se troue wat op 19 Mei in die St. George-kapel plaasgevind het.

Prinses Charlotte het ’n wit Givenchy Haute Couture Atelier-rok, blommekroon en Aquazzura-skoene gedra, wat ’n geskenk van Meghan was, berig E Online.

Sophie Carter en Robert Snuggs se troue

Die kleuter het vir die derde keer in die paadjie afgestap vir Kate se jarelange vriendin Sophie Carter, wat in September in die St. Andrew’s Episkopaalse Kerk in Norfolk met Robert getrou het.

Charlotte het oulik gelyk in ’n wit Amaia-linnerok met blou borduurwerk. Die rok is met ‘n pragtige blommekroon afgerond, berig Hello Magazine.

Prinses Eugenie en Jack Brooksbank se troue

Prinses Charlotte en haar ouboet, prins George, het die fotograwe bekoor tydens prinses Eugenie se troue, 12 Oktober 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die bloubloedjie het mense weer bekoor toe sy op 12 Oktober op die prinses van York se troue in die Windsor-kasteel in die paadjie afstap, berig The Telegraph.

Die meisie het ’n pragtige wit Amaia-rok aangehad wat ontwerpwerk deur Mark Bradford ingesluit het.

Bronne: People, Romper, E Online