In die dae dat sy die kroon as die wêreld se heel mooiste gedra het, het sy talle laat aande beleef wanneer sy glansgeleenthede oor die aardbol moes bywoon. Maar deesdae is dit ’n klein mensie – of eintlik twee van hulle – wat Rolene Strauss uit die slaap hou.

En nes enige ma van ’n baba én ’n kleuter wens ons voormalige Mej. Wêreld sy het meer arms gehad en dreig die eise van moederskap soms om haar te oorweldig.

“Jy wonder of jy as mamma goed genoeg is; of jy genoeg aandag aan almal gee en of daar genoeg gesonde kos is,” erken die 27-jarige ma wat ’n mediese graad agter haar naam kan skryf.

Ondanks die rustelose nagte wanneer haar driejarige kleuter tussen die baba se borsvoedings deur daarop aandring om by sy ma en pa te kom inkruip, lyk Rolene steeds beeldskoon.

Rolene Strauss
Foto: Christine Meintjies

Die donkerkop wat in 2014 as Mej. Suid-Afrika en later daardie jaar ook as Mej. Wêreld gekroon is, se lang hare val glansend oor haar skouers en sy straal van geluk.

Want al is dit nie speletjies om klein mensies groot te kry nie, vergoed die vreugde van ouerskap ruimskoots vir die moeilike dae en die slapelose nagte. “Ek is dolverlief,” borrel sy oor haar en haar man, die sakeman D’Niel Strauss (37), se twee seuntjies. “Ek kan nie ophou om hulle te soen en druk nie.”

Om hul privaatheid te beskerm, wil hulle nie die name van hul kinders bekendmaak nie, maar hulle verklap darem dat hul jongste nes sy ouboet ’n familienaam gekry het. En albei se name sinspeel op leierskap.

Rolene kyk na haar kosbare bondeltjie in sy stootwaentjie waar sy en D’Niel hier by die sentrum vir holistiese gesondheid op die Val de Vie-landgoed naby die Paarl in die Wes-Kaap met Huisgenoot gesels.

Rolene Strauss
Hul nuweling is ’n stewige knapie wat “dubbel so vinnig gegroei het as wat verwag is”. Foto: Christine Meintjies

Die gesin woon op dieselfde luukse landgoed met sy pragtige uitsigte op die Bolandse berge. Skielik laat klink die jongste Straussie vanuit sy stootwaentjie babageluidjies op – so byna asof hy saamgesels.

“Ek kan nie genoeg van daardie geluidjies kry nie,” koer Rolene. “Ek druk hom styf teen my oor vas om alles in te neem. Ek kyk na sy voetjies en dink dat dit nog nêrens gestaan het nie. Dan wonder ek waar hy nog oral gaan loop. Alles is nog so perfek, sy klein naeltjies, sy handjies en sagte velletjie.”

D’Niel kry ook nou die eerste keer die geleentheid om een van hul babas van dag tot dag te sien groei en ontwikkel. Hul oudste is gebore aan die begin van sy ma se finale jaar as mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat in ’n tyd dat ’n pendelhuwelik sy ouers se voorland was.

D’Niel, wie se sakebedrywighede hom in die Wes-Kaap gehou het, moes toe met kuiers oor naweke en vakansies tevrede wees. Die kleinman was al byna ’n jaar oud toe Rolene haar studie voltooi het en die gesin twee jaar gelede eindelik saam onder een dak kon nesskop. Die tempo waarteen hul kinders groei, laat hom besef hoe kosbaar hul gesinstyd is, sê D’Niel.

“Alles gaan so vinnig verby, en ek wil nooit op ’n punt kom waar ek voel ek het enigiets misgeloop nie.”

Al was haar tweede swangerskap moeiliker as die eerste, het die maklike bevalling daarvoor vergoed, sê Rolene.

Rolene Strauss
Sy lyk en klink dalk na ’n superma, maar Rolene vertel sy beleef ook, nes ander ma’s, dae waarop sy oorweldig voel – veral as sy min slaap inkry. Foto: Instagram/@rolenestrauss

“Met ’n huishouding en ’n kleuter het ek met my jongste se swangerskap minder tyd gehad om te oefen. Ek was nie so soepel soos altyd nie en het naarder en moeër gevoel,” sê sy.

Die baba het op 10 Februarie, drie dae voor sy verwagte geboortedatum, sy opwagting gemaak.

“Ek het so vyfuur die middag vir my ma en D’Niel gesê ek ervaar kraampyne. Hulle wou dadelik hospitaal toe ry, maar ek het eers die kontraksies se tussenproses getel,” vertel Rolene.

Seweuur die aand is hulle na die hospitaal op Stellenbosch. D’Niel het gedink hy moet hom vir ’n lang nag gereedmaak, maar skuins voor middernag het die groot oomblik aangebreek.

“Dit was net vyf drukke en toe is ons seuntjie gebore,” sê Rolene dankbaar. Hy het 4,4 kg geweeg en was 53 cm lank.

“Hy is die soetste klein dingetjie en drink my uit die huis uit. Hy sal maklik elke twee uur drink, sommer ’n halfuur of 45 minute aaneen. Met sy eerste roetineondersoek het die dokter gesê hy het dubbel so vinnig gegroei as wat verwag is,” lag die trotse ma.

Die grootste aanpassing met ’n nuwe kleinding in die huis was vir haar die besef dat haar oudste nie meer haar baba is nie.

“Nadat ek ons jongste die eerste keer vasgehou het, kon ek voel ons oudste is nou ’n seuntjie.

“Dit was van die begin af vir ons belangrik dat hy nooit moet voel hy word vervang nie. Ons praat nie van ‘die nuwe baba’ nie, maar van ‘sy boetie’ of ‘sy maatjie’.

“Hy is so oulik met sy boetie en wil hom heeltyd beskerm en vir hom soentjies en drukkies gee. Wanneer sy boetie huil, sal hy in sy kinderstemmetjie troos: ‘Ag, toema-toema’ en liefdevol sy koppie streel. Hy sal sy boekies bring en vir hom stories lees. Hy begin altyd met: ‘Eendag lank, lank gelede . . .’ ”

Rolene Strauss
Foto: Christine Meintjies

Terwyl hul oudste met sy soel vel en blougroen oë sy ma uitgeknip is, lyk hul jongste soos D’Niel. “Hy het sy pa se ligter velkleur, sy blou oë en mond,” sê Rolene.

Sy vertel hul oudste is ’n nuuskierige seuntjie wat geen basiese verduideliking vir sy baie vrae aanvaar nie. “Hy sal byvoorbeeld presies wil weet hoe ’n verestoffer aanmekaargesit word of hoe die donderweer ontstaan.”

Omdat hul jongste nog so klein is, kan hulle nog nie sy persoonlikheid peil nie. “Hy is nog net oulik,” koer sy ma. “Hoewel ons oudste soos Rolene lyk, stem sy persoonlikheid baie met myne ooreen,” sê D’Niel. “Ons hoop maar dat ons baba meer na Rolene aard, want ek weet nie of ons met drie van my onder een dak sal oorleef nie,” spot hy.

Al beskou sy swangerskap as die grootste wonderwerk wat daar is, erken Rolene dat sy haar nog nooit op so ’n moeilike kruispad op haar gesondheids- en fiksheidsreis bevind het soos nou ná die geboorte van haar tweede kind nie.

“ ’ n Mens verander op soveel maniere. My liggaam het op wyses verander wat ek my nie kon indink nie. My lewe het verander. Ek het verander,” sê sy.

“Ek probeer na hierdie tyd in my lewe as ’n avontuur kyk: om alle aspekte van Rolene te herontdek,” voeg sy by. Sy lyk en klink dalk na ’n superma, maar soms raak alles ook vir haar te veel.

“Die ergste is wanneer jy moeg en jou drempel reeds laag is en almal het gelyk iets nodig. Ek ervaar maar gedurig ’n skuldgevoel, byvoorbeeld as my baba drink en my oudste op dieselfde tyd wil hê ek moet saam met hom op die mat speel,” vertel Rolene.

“My geduld voel deesdae vir my minder. Met twee kleintjies moet dinge strenger volgens roetine gebeur. Anders kom almal ’n uur later in die bed.”

Op dae dat sy oorweldig voel, herinner D’Niel haar aan die groter prentjie. “Hy laat my besef dat niks eintlik te erg is nie, dat ek op die positiewe moet fokus en van die perfeksionisme kan laat gaan. Ek besef almal is gesond en dat ek soveel het om voor dankbaar te wees.”

Rolene Strauss
Foto: Christine Meintjies

Vir Rolene was oefening nog altyd belangrik, en sy is reeds weer terug in die gimnasium. “Dis vir my ’n uitlaatklep,” sê sy.

Sy het reeds 12 van die 20 kg afgeskud wat sy gedurende haar tweede swangerskap aangesit het. Haar raad aan ander ma’s is dat dit oukei is as dinge soms vir jou moeilik voel.

“Ek dink nie mammas besef altyd dat dit normaal is om so te voel nie, dat daar ander mammas is wat ook so voel en dat dit weer beter sal raak nie. Ons praat nie maklik daaroor as ons swaar trek nie.”

Rolene het al oor haar eie onsekerhede, die lesse wat sy geleer het en haar suksesgeheime geskryf in Vanuit die hart, ’n boek met dagstukke wat verlede jaar verskyn het.

Al het sy ’n mediese graad, mag sy nie tans as dokter praktiseer nie omdat sy nie haar internskap en diensjaar voltooi het nie. Dus is sy betrokke by die bemarking en lewensafrigting by RevitaHealth, ’n sentrum vir holistiese gesondheid op die Val de Vie-landgoed waar haar skoonsuster, Ledivia Strauss, ’n dokter, die mediese dienste verskaf.

Ná haar jongste se geboorte neem Rolene nou eers ’n ruskans van die werk. Haar nuwe passie is lewensafrigting, en sy wil graag op dié manier ’n verskil aan mense se lewe maak.

Sy is tans besig met haar meestersgraad in professionele lewensafrigting aan die Universiteit Stellenbosch se sakeskool en wil ook nog ’n doktorsgraad in dié rigting behaal.

Rolene fokus op vroue wat die loopbaanleer wil klim om leiersposisies te beklee.

Terwyl sy nou baie tyd aan hul baba en sy borsvoedings wy, benut D’Niel die kans om gehaltetyd saam met hul oudste deur te bring.

“Hy is nou in so ’n oulike stadium,” sê die trotse pa en soek ’n video op sy foon om te wys hoe die kleinman sy lyfie op die maat van boeremusiek skud.

“Hy het sy pa se ritme gekry,” laat Rolene hoor. Hy is nie so handig met die pajamadril nie, erken D’Niel met ’n skaam glimlag. “Ek sukkel maar met die doeke omruil.”

Hy is wel die meester wat windjies uitvryf betref, vertel sy vrou. Sy hoop hul seuns sal eendag so groot soos hul pa droom. “Niks is vir hom ooit onmoontlik nie. Elke droom kan aangepak word en vir elke probleem het hy ’n oplossing.”

D’Niel is mededirekteur van ’n waagkapitaalfirma en ook ’n buitengewone dosent vir M.B.A.-studente aan Maties se sakeskool.

Met ouerskap leer jy ’n nuwe deel van mekaar ken. Dis asof alles wat voorheen daar was sterker word.

Sy firma is ook die fondsbestuurder van die nuutgestigte Universiteitetegnologiefonds, wat die doel het om tegnologie en sake-idees vir universiteite te kommersialiseer. Sy grootste wens is weer dat hul seuns eendag sulke goeie vroue soos hul ma sal kry.

“Sy is ongelooflik ondersteunend en skep ’n wonderlike huislike fondasie waar ons gesin kan groei. Sy is nooit onvoorspelbaar in haar emosies nie, en ek bewonder die gematigde en sagte manier hoe sy dinge gedoen kry,” sê hy van sy vrou van die afgelope vier jaar.

Hul kinders het hulle net nog nader aan mekaar gebring. “Met ouerskap leer jy ’n nuwe deel van mekaar ken. Dis asof alles wat voorheen daar was sterker word,” sê Rolene.

Tussen albei se werk en hul verpligtings as ouers deur bly dit vir hulle belangrik om gehaltetyd saam deur te bring. Bedags gaan hulle gereeld iets eet of ontmoet hulle mekaar vir koffie.

“Dis iets wat my ouers my geleer het. Eendag is die kinders uit die huis en dan moet ’n mens steeds ’n verhouding met mekaar hê,” sê Rolene.

Maak nie saak wat dit is of waaroor hulle passievol is nie, ons wil hê hulle moet hul drome kan verwesenlik. En ons sal altyd daar wees om hulle daarin te ondersteun.

Haar ouers, Hennie en Theresa Strauss, wil hulle in die Wes-Kaap kom vestig ná haar pa, ’n dokter op Volksrust in Mpumalanga, se aftrede. D’Niel se ouers, Amelia en Charel Strauss, gaan later vanjaar uit Keimoes, waar hulle met dorperskape en wingerd boer, na Val de Vie verhuis.

D’Niel se suster, Ledivia, haar man, Retief Uys, en hul dogtertjie, Amè(8), woon ook op dié landgoed. “Dis vir my lekker dat ek altyd op my skoonsuster se knoppie kan druk.

Ons help weer uit met hul dogtertjie. Wanneer Amè kom kuier, sal ek haar hare was, blaas en vleg,” sê Rolene oor die dogtertjiedinge waarvoor sy dan kans kry.

Haar wens vir hul seuns is dat hulle hul ideale sal nastreef. “Maak nie saak wat dit is of waaroor hulle passievol is nie, ons wil hê hulle moet hul drome kan verwesenlik. En ons sal altyd daar wees om hulle daarin te ondersteun.”

Het hulle ooit gedink hulle sou net seuns in hul kroos hê? “Daar is mos nog tyd,” lag D’Niel.

Rolene knik. “Ons het besluit dat ons nou eers dié twee in die skool wil kry en genoeg aandag aan hulle wil gee. Dan kan ons oor ’n laatlammetjie gesels . . .” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.