Dit was soos ’n egte stadsprokie, en dít in die tyd van die coronavirus: die stralende bruid in ’n pragtige ontwerpersrok en haar aantreklike bruidegom wat hand aan hand deur die Kaapse middestad stap – die een se glimlag breër as die ander.

Nes talle toekomstige bruide is die gewilde radiopersoonlikheid en televisieaanbieder Tracey Lange se planne vir haar groot dag vanjaar weens die covid-19-pandemie in die wiele gery. Maar die liefde kan sulke uitdagings oorkom, en Tracey en haar verloofde, Avukile Mabombo, het binne 32 dae ’n kleiner troue met 50 gaste gereël gekry.

Op 1 Oktober het hulle by die Old Foundry Hotel in Kaapstad trou aan mekaar beloof. Dit was presies twee jaar en ’n dag sedert Tracey se pa, Colin, op 30 September 2018 oorlede is, en sy het hulde aan hom gebring deur haar ruiker met een van sy ou dasse vas te bind. “Dit het gevoel asof hy heeldag my hand vashou,” skryf sy op Instagram daaroor.

Van die lede van die gevolg: Van links is Andrea S
Van die lede van die gevolg: Van links is Andrea Stephens, Lelethu Mkefa, Lu- sindiso Dabula, Sixolile Mabombo, Loyiso Mdebuka en Lynthon Jacobs. Foto: Verskaf

Die bruid het ’n pasgemaakte wit kuitlengterok met ’n deursigtige bostuk van geborduurde kant gedra. Die Kaapse ontwerper Anene Ferreira het dit binne net 26 dae gemaak.

As aanbieder van die kykNET-program Bravo! het Tracey die afgelope paar jaar al meer as 500 aand- en balrokke gedra, skryf sy op Instagram. “Dit was dus nie maklik om iets vir my troue te kies nie, want baie van die trourokke wat ek aangepas het, het gevoel soos iets wat ek al voorheen gedra het. Al wat ek geweet het, is dat ek ’n kuitlengte- rok wou hê. Ek wou kant hê, maar nie blomme nie omdat ek iets wou hê wat ’n mens nie baie sien nie.”

Haar vier strooimeisies het rokke gedra in verskillende style en skakerings wat die bruidegom en Tracey se stilis, Kyra Loubser, gekies het om by die troue se herfskleure én elke bruidsmeisie se persoonlikheid te pas. Avukile het op sy beurt ’n modieuse donkerblou pak en grys onderbaadjie gedra.

Nadat hulle troubeloftes uitgeruil het, het die pasgetroudes, hul gevolg en die gaste op ’n rooi City Sightseeing-bus geklim. Tracey sê hulle kon nie aan ’n beter manier dink om die groot oomblik te vier as om saam in die stad rond te ry vir foto’s nie. “Ek dink ons is amper so lief vir Kaapstad as vir mekaar!” skryf sy by ’n foto waar Tafelberg bo hulle uittroon.

“Dit was ’n volmaakte dag,” sê sy nou. “Ek was baie gelukkig met alles.”

Die stralende egpaar sny die troukoek.
Die stralende egpaar sny die troukoek. Foto: Verskaf

Tracey gesels met Huisgenoot kort nadat sy en Avukile, wat in bemarkingstrategie werk, van hul wittebrood af teruggekeer het. Die pasgetroudes het in vyfsterverblyf gebly wat op The Heads in Knysna uitkyk. Hulle het ook ’n paar dae op Hermanus vertoef.

Hulle is lief vir reis en het die afgelope paar jaar al meer as 24 lande se stempels in hul paspoorte versamel. “Maar met die impak van covid-19 wou ons seker maak ons steun die plaaslike toerismebedryf,” sê Tracey.

Pleks van geskenke het die paar ook ’n Back a Buddy-veldtog begin waar gaste geld aan die welsynorganisasies Bright Beginners en Garden of Blessings kon skenk.

Dis dié omgeehart vir ander wat Avukile (37) smoorverlief op Tracey (35) gemaak het. En natuurlik haar uitbundige persoonlikheid.

Die radio- en TV-persoonlikheid Tracey Lange en Av
Die radio- en TV-persoonlikheid Tracey Lange en Avukile Mabombo het met ’n rooi City Sightseeing-bus deur Kaapstad gery om hul troufoto’s te neem. Foto: Verskaf

“Tracey is ’n ware mense-mens, en ek is die teenoorgestelde,” sê hy. Hulle het mekaar agt jaar gelede op ’n gemeenskaplike vriend se verjaardagpartytjie ontmoet. “Ons het dadelik goed oor die weg gekom,” sê Avukile. “Ek sukkel om met mense in nuwe omgewings te kliek; dit is dus seldsaam vir my om so ’n band soos ons s’n te vorm.”

Tracey was met hul ontmoeting nog in ’n verhouding, maar sy en Avukile het in dieselfde kringe beweeg en vriende geword. Toe sy hom in 2014, ’n jaar nadat haar verhouding beëindig is, by die J&B Met raakloop, was daar vonke – en hulle is die dag daarna op ’n aandeteafspraak.

Dinge het gou ernstig geraak, en toe hulle twee maande saam was, het Tracey, van Somerset-Wes in die Wes-Kaap, Avukile aan haar ma, Theresa, voorgestel. Theresa (64) het van Avukile gehou die oomblik toe sy hom sien.

“My ma het op ons troudag gesê sy voel rustig met die wete dat hy aan my sy is,” sê Tracey. Voor hulle in 2017 saam ingetrek het, het Avukile haar geneem om sy familie in die Oos-Kaap te ontmoet, waarvandaan hy oorspronklik kom. En soos die meeste mense wat haar ontmoet, is hulle deur haar borrelende persoonlikheid en aansteeklike lag uitgeboul.

Hoewel saambly druk op ’n verhouding kan plaas, sê Tracey hul grootste gestry nóg was oor kombuistoebehore. “Ek wou my ketel hê en hy wou syne behou – die een ding waaroor ons nie kon saamstem nie,” sê sy en lag daardie borrelende lag wat Bravo!-kykers so goed ken.

Hul verhouding was altyd gemaklik, maar nes enige paartjie moes hulle uitdagings oorkom.

Tracey en Avukile stap hand aan hand deur die Kaap
Tracey en Avukile stap hand aan hand deur die Kaapse middestad terwyl hul troufoto’s geneem word. Foto: Verskaf

“Avukile is baie goed met konflikhantering, en ek is nie. Ek is die een wat die moeilike vrae vra.” Dit help om swaar gesprekke te hê met ’n lewensmaat wat koelkop is, voeg Tracey by. “Ons is albei volwasse. Jy besef nie dit verander alles om ’n volwassene aan die ander kant te hê nie,” sê sy.

Trou was die laaste ding waaraan Tracey gedink het, selfs ná vyf jaar as ’n paartjie. Sy was dus stomgeslaan toe Avukile verlede jaar die groot vraag vra. Hy het dosyne sonneblomme – haar gunsteling – op die balkon van hul woonstel in die Kaapse middestad gepak en ’n sjef gehuur om voor die groot oomblik vir hulle ontbyt te berei en voor te sit.

“Al my gunstelingdinge was daar, soos eggs benedict, muffins, oesters, croissants, sjampanje en sonneblomme. Dit het vir my gevoel asof ek in ’n hotel is,” het sy kort ná die verlowing op Instagram geskryf. “Die verlowing was so mooi,” sê Tracey nou. “Maar dit was nie so belangrik as die wete dat ek op hom kan staatmaak nie – of daar nou ’n ring aan my vinger is of nie.”

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Sy sê hul verhouding is onkonvensioneel. Hoewel hulle tradisie respekteer, is hulle nie baie gesteld daarop nie. Tracey sê haar ooms het ná die verlowing die lobola-gebruike nagevors, maar daar is geen prys betaal toe Avukile se oupa en ooms verlede jaar afgevlieg het om haar familie te ontmoet nie.

“My ooms het ’n bietjie navorsing gedoen, want hulle het gesê hulle wil seker maak hulle handhaaf al die nodige tradisies en gebruike. Maar hulle het dit duidelik gemaak dat die familie niks vereis nie,” sê sy. “Die ooms het dus ure lank gesels en ’n band gevorm.”

Die paar het voor die troue by ’n verhoudingsterapeut aangeklop. “Ons het nog nooit gewag tot dinge vurig raak voor ons gesprekke het nie,” sê Tracey. Hulle het gelukkig reeds gesels oor die huwelik, geldsake en ’n gesin saam.

“Ek wil net een kind hê,” sê sy. “Ek sê heeltyd vir mense ek is ’n ou bruid en moet hierdie dinge in gedagte hou.”

“Ek wil twee hê, maar omdat sy een wil hê, soek ek sommer ’n tweeling met die eerste probeerslag,” sê Avukile.

Tracey sê die sosiale media is oorlaai met gelukwensings van vriende, familie en aanhangers. “Mense van oral het ons verhouding ondersteun. Hulle het hul liefde en ondersteuning gestuur,” sê sy.

Sy is versot daarop om mev. Mabombo te wees, maar verwys nog in die sosiale media na Avukile as haar “kêrel”.

“Ek vererg my so as mense sê ons moet ons naampies vir mekaar verander,” sê Tracey. “Ja, hy is my man, maar sy naam is Boyfriend.”