Die lywige binnesenter draf deesdae vir die Sale Sharks-rugbyspan in Manchester, Engeland, uit. Hy het kortliks ’n ruskans geneem om op 11 Maart met Anri af te haak.

liefde,troudag
Dolverlief op hul troudag. Foto: Etienne Swanepoel/ Paper Plane Media

Die paartjie is al 11 maande saam en het besluit om in ’n klein, intieme onthaal voor 10 familielede by the Red Ivory op Hartbeespoort te trou. 

troudag
Rohan en Anri het 'n intieme troue met 10 gaste gehad, Foto: Etienne Swanepoel/ Paper Plane Media

Hul paaie het die eerste keer in 2017 gekruis - en dit aanlyn - nadat Anri se ma, Sarie de Jongh, haar vir die eerste keer van Rohan vertel het.

Sarie het op ’n video van hom afgekom waarin Rohan oopgemaak het oor sy geloof en dankbaarheid nadat hy in April 2017 ’n noue ontkoming gehad het tydens ’n rooftog by sy huis in Boksburg toe drie gewapende mans toegeslaan het. 

anri,liefde,troue
Anri en haar ma, Sarie. Foto: Etienne Swanepoel/ Paper Plane Media

Sarie was beïndruk met die jong man se waardes en het aan Anri gesê hy sal eendag ’n goeie trouman wees.

Rohan en Anri, wat aan fiksheidskompetisies deelneem, se verhouding het eers ’n jaar later in die sosiale media vlam gevat nadat Rohan Anri se fiksheidsafrigter vir fiksheidswenke gekontak het. Hy en Anri het mekaar later op Instagram begin volg en daar begin gesels. 

"Rohan was destyds saam met die Leeus op toer in Nieu-Seeland. En toe stuur hy vir my ’n boodskap om te vra oor my tan en oefenprogram en dinge het van daar af begin vlam vat," vertel Anri, wat vier jaar as deeltydse persoonlike afrigter gewerk het tydens haar studentejare aan die Universiteit van Pretoria. 

troudag,pragtig
Anri op haar troudag. Foto: Etienne Swanepoel/ Paper Plane Media

"So ons verhouding het basies die eerste drie weke oor die foon begin," sê sy laggend. 

Nadat hy in Mei 2018 van Nieu-Seeland af teruggekeer het, het sy Rohan vir die eerste keer op die lughawe in Johannesburg in lewende lywe ontmoet - en dit nogal met die nuus dat sy die Wêreldfiksheidsfederasie se Pretoria Classic Pro-fiksheidskompetisie in die o.23-afdeling gewen het. 

fiksheid
Anri neem gereeld aan fiksheidskompetisies deel. Foto: Facebook/ Anri Janse van Rensburg

Nou is sy mev. Janse van Rensburg.

"Ek was ’n bietjie op my senuwees," erken Rohan oor die aanloop tot hul groot dag.

"Maar dit was ’n lekker senuwees gewees. Ek dink ek het meer gestres oor of ek gaan huil of nie. Ek en Anri het die vorige dag gepraat, toe het sy vir my gevra of ek gaan huil as sy uitstap. Toe sê ek vir haar nee, maar het op die ou end wraggies ’n traan gestort," vertel hy uit Engeland aan Huisgenoot.

"Ek het baie uitgesien na die dag om haar my vrou te maak en besef dit is van die Here af gestuur."

Die egpaar op hul groot dag. Foto: Etienne Swanepoel/ Paper Plane Media
troudag
Rohan en Anri deel 'n liefdevolle oomblik. Foto: Etienne Swanepoel/ Paper Plane Media

Rohan kan nie uitgepraat raak oor die vrou wat, nes sy ma, Rentia, so goed na hom omsien nie. Sy ma is in Maart 2017 oorlede ná ’n lang stryd teen kanker.

"Anri is my beste pel. Dit was altyd vir my lekker dat ek deur die lewe kan gaan en altyd sal kan lag saam met haar. As jy nie eendag kan sien hoe die mens op jou voorstoep saam met jou koffie drink en saam met jou praat nie, is sy nie die een vir jou nie."

Rohan het in 2017 tydelik vir die Sale Sharks in Engeland uitgedraf toe hy steeds naam gemaak het by die Leeus. Die volgende jaar het hy besluit om permanent daar aan te bly. Anri het in Augustus verlede jaar by hom aangesluit.

"Dit was 'n groot aanpassing om oorsee te trek, maar op die oomblik gaan dit baie goed. Ek het myself hier gevind en is baie gelukkig. Dit is ’n groot seën van die Here af dat ek my tyd hier kan deurbring met ’n wonderlike vrou en my broer (Tiaan Janse van Rensburg ) is boonop ook hier," vertel hy. 

Anri woon op 15 April haar gradeplegtigheid by Tukkies by om haar graad in opvoedkunde te ontvang voor sy na Engeland terugkeer. 

Sy en Rohan sal na verwagting hul wittebrood in Mei op die prentjiemooi Maledive-eiland deurbring. Daarna keer hulle terug na Suid-Afrika om vir eers hul familie en vriende te sien voor hulle permanent  in Engeland nesskop.

Die Janse van Rensburgs beplan volgende jaar ’n groot troue op ’n ander eilandparadys, Mauritius, om hul huwelik saam met hul vriende en familie te vier. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!